Huis + tuin

WINTER-LIG

WINTER-LIG

Met glase en plastiek-vorms kan jy die mooiste kerse maak - en dis makliker as wat jy dink.

A

PAPIER-KANDELARE

Benodigdhede

A4-velle handgemaakte papier; els of skerp spyker; skerp skêrtjie; klein glas-kershouers.

Maak só

• Druk 'n eenvoudige gaatjiespatroon op die vel

papier of knip klein V-vorms (wat jy effens oopvou) in

gelyke rye.

• Vou die papier in silindervorm en plak vas.

• Plaas oor die kershouertjies.

Wenk: Laat sny glassirkels van sowat 12 cm in deursnee, plak glasklonte vir "voetjies" vas en plaas jou papierkandelare hierop.

B

SILINDERVORMIGE KERSE OP MOSAÏEKHOUER

Benodigdhede

PVC-pype van verskillende diktes en lengtes; kerswas; kerspit; ou kastrol of metaalketel; sosatiestokkie.

Maak só

• Seël die pyp aan een kant met 'n konfytbotteldeksel en wondergom.

• Maak 'n klein gaatjie in die middel van die deksel vir die kerspit.

• Jy giet die kers dus onderstebo en sal 'n netjiese plat bokant hê wanneer jy dit ontvorm.

• Ryg die kerspit deur die gaatjie, draai die los punt om die sosatiestokkie en laat die stokkie in die middel oor die pyp rus.

• Sorg dat die pit styf span en reg in die middel pas.

• Laat die pyp stewig staan op 'n veilige plek waar dit ongestoord kan stol en afkoel.

• Smelt die was oor lae hitte en laat dit afkoel tot die regte temperatuur.

• Giet dit in die vorm en laat stol.

• As daar holtes ontstaan, vul dit op wanneer die was afgekoel het.

• Laat weer afkoel en maak wondergom

C

TAK-NESSIE

Benodigdhede

Snoeitakkies van min of meer dieselfde lengte; plastiek-kabelbandjies (cable ties).

Maak só

• Pak die takkies opmekaar in 'n vierkant-vorm en trek vas met die kabelbandjies.

• Plaas nou weer 'n paar oor die hoeke en trek vas.

• Gaan so voort tot jy die verlangde hoogte het.

D

KOEKIEVORM-KERSE

Benodigdhede

Papier-koekievorms of dik plastiek- of glasvorms; kolwyntjiepan.

Maak só

• Plaas die papiervorm in die kolwyntjiepan en giet die was daarin.

• Trek die kerspit deur die was en knip dit in kort lengtes.

• Wanneer die was amper gestol is, druk die kerspit in die middel van die kersie in.

E

KEëLVORMIGE, VIERKANTIGE EN SILINDERVORMIGE KERSE

Benodigdhede

'n Dik keëlvormige plastiekglas (of enige ander interessante vorm); 'n stuk PVC-pyp; skuurpapier of draadborsel; 'n gekoopte vierkantige kersvorm.

Maak só

• Maak 'n gaatjie in die onderpunt van die keël en giet die kers soos hierbo beskryf.

• Maak die silindervormige kers soos beskryf, maar maak jou was warmer as 63 º C.

• Sodra die kers ontvorm is, skuur dit met egalige hale met skuurpapier of 'n staalborsel om 'n grein-effek te kry.

• Gebruik die gekoopte vorm volgens die vervaardiger se aanwysings.

• Die keëlvormige en vierkantige kers se was is teen 'n laer temperatuur (sowat 63 º C) gegiet om so 'n effek te verkry.

F

KERS IN 'N BOKS

Benodigdhede

Stewige kartonboks; kerswas; kerspit; handgemaakte papier; kontakgom; sosatiestokkie; klein gewiggie, bv. 'n moertjie.

Maak só

• Knoop die gewiggie aan 'n lengte kerspit.

• Draai die ander los punt om die sosatiestokkie tot die regte lengte en laat dit in die middel van die boks hang sodat kerspit styf span.

• Plaas die boks op 'n dik laag koerant.

• Smelt die was soos hierbo beskryf, giet 'n lagie onderin die boks en laat stol sodat alle moontlike gaatjies verseël is. Dit hou ook die gewiggie en kerspit in posisie.

• Giet tot bo en laat afkoel.

• Trek die boks en deksel oor met die handgemaakte papier.

• Maak 'n gaatjie in die middel van die deksel en druk 'n knoop met 'n steeltjie daardeur.

• Steek 'n stukkie draad deur die knoop-steeltjie en buig toe.

admin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM