Wynand Nel sit sy gehawende rugsak op die enkelbed neer. Om dit 'n rugsak te noem, is dalk oorgeesdriftig, maar dit is al wat hy het.
Opgewondenheid is soos die prik van 'n spiespunt tussen sy blaaie, en hy haal die enkele vel koerantpapier uit sy bosak. Hy stryk dit glad en gaan sit op die ou Globestoel by die klein tafeltjie. Die vetgedrukte letters gil weer op hom, maar hierdie keer doen dit meer as gil - dit trek hom aan soos 'n magneet.
Huwelik van die Jaar
Op Saterdag die 20ste gaan die NG kerk Kroonstad-Suid die gebou wees waar die gewilde geneesheer Ivan Swart hom in die eg gaan verbind met die beeldskone Jolize Nel Theron.
Weer lees hy die berig, weer klop sy hart onstuimig en praat hy hard met homself: "Dit kan net sy wees - my Jolize - al het ek nie geweet sy was met 'n Theron getroud nie."
"Mag ek weet wie sy is, of is dit 'n geheim?" Die vrouestem ruk hom orent en hy vlieg met brandende wange op.
"Skuus, Mevrou Lisa. Dit is mos maar die manier wat ek het om hardop te praat. Maar lees gerus." Hy hou die papier na die vrou uit.
Sy neem dit, lees dit en met 'n frons tussen haar netjies versorgde wenkbrou kyk sy na die man. Die motorwag wat die afgelope drie jaar in die ou woonstel in haar agterplaas woon. Die man met sy langerige grys hare en netjies geknipte baard wat die koperbruin gesig omsoom, en weer klop haar hart onrustig.
"Mag ek weet wat is die betekenis van die berig wat jou so opgewonde laat klink? Kom drink saam met my koffie as jy wil, dan vertel jy my." Sy gee die papier aan, glimlag betowerend en draai om.
"Dankie, Mevrou. Die koffie sal heerlik wees." Hy staan in die kombuis met sy skaam glimlag en 'n sakkie in sy linkerhand.
"Wynand kom sit, of wil jy sitkamer toe gaan?"
"Nooit nie, Mevrou, die huis se hart is mos die kombuis, en dit is so 'n pragtige hart."
"Nou sit dan aan - en wat het jy in die sakkie?" Hy gaan sit, skuif die sakkie tot voor haar en sy wange verdonker effens.
Sy maak dit oop, haal die broodjie uit, glimlag en kyk hom verwonderd aan. "Madeira loaf! Weet jy hoe lankal dreig ek om een te koop, maar as ek weer sien het ek die piesangbrood in my trollie gesit. Kan ek sny en sommer margarien smeer? Ek kan voel dis nog varswarm."
"Asseblief, en Mevrou Lisa, kan ek jou 'n geheim vertel? Ek dreig al jare om een te vat, maar ek is nie lief vir vreemde smake nie."
"Hmm, dit smaak heerlik en ek gaan dankie sê dat jy vandag besluit het om namens ons die broodjie te neem." Sy stoot haar hande oor die tafel en vat sy linkerhand vas. "Ek het jou soveel kere gevra om my Lisa te noem, asseblief Wynand!"
"Dit gaan nie reg voel nie. Jy is die eienares van dié weelderige woning, die eggenote van 'n vooraanstaande advokaat en ek is net 'n eenvoudige motorwag."
"Nee! Asseblief moet dit nooit weer so stel nie. My man is oorlede, ja, en ek is baie welaf. Maar weet jy watse prys het ek betaal vir soveel jare - en so 'n groot prys, boonop. So asseblief Wynand, nie weer 'n woord oor my verlede nie, en ek is Lisa - net Lisa."
Hierdie keer vat hy haar hande met albei syne vas. "Ek is so jammer om dit te hoor, en ek het nie besef dat jou huwelik nie mooi of lekker was nie. Vergeef my, Lisa?"
Sy glimlag en haar vingers gryp syne vas. "Niks om te vergewe nie, maar dankie. Wil jy praat oor die berig in die koerant?"
"Natuurlik sal en wil ek. Ek weet nie hoe dit teen Spar se heining vasgewaai het nie. Ek wou dit optel om weg te gooi, toe sien ek die naam van die koerant, Volksblad, en dis mos my ou provinsie, die Vrystaat, se nuusblad."
"En ken jy die mense wat gaan trou?"
Sy duim speel oor haar linkerhand se kneukels. "Ja, ek ken Jolize. Ek het haar 25 jaar laas gesien. Ek het nie eens geweet dat sy voorheen getroud was nie, Lisa. Dit is my dogter!"
Wynand weet nie hoe dit gebeur het nie, maar skielik staan hy met 'n snikkende Lisa in sy arms. "Dit was die Here wat daardie stuk koerant vir jou gestuur het, Wynand. Jy moet jou dogter gaan groet ná soveel jare. Wil jy my daarvan vertel?"
"Goed, maar kom ons gaan sit. Ek kan nie mooi dink met so 'n pragtige vrou in my arms nie." Hy glimlag skeefweg toe sy op haar tone wip en hom op die wang soen.
"Kom sit hier, hou my hande vas en vertel my alles. Kry die seer uit daardie bruin oë van jou. Ek wou van die eerste dag af geweet het hoekom luier dit daar. Asseblief, maak skoon en ek weet jy sal my nooit kan skok nie."
"Soos ek sê het dit 25 jaar gelede gebeur. Ek was getroud, en ná Jolize se geboorte het dinge tussen ons skeefgeloop. My vrou het weer as 'n model begin werk; later was daar TV-rolle - en ek was maar 'n eenvoudige sekuriteitsbeampte. Ek het die aand gehoor ons gaan skei, die volgende oggend het die vragmotors stilgehou en alles is gelaai. Ek het 'n bed, my lessenaar en 'n gasstofie gekry."
Lisa vat sy sakdoek om haar trane te demp. "Die huis was reeds die vorige week verkoop, want dit was op haar naam. Al wat ek kan onthou, is dat ek my goed in die firma se bakkie gelaai het. Jolize is weggehou van my af en sy het deur die oop skuifdeur vir my staan en waai. Daardie woorde hoor ek tot vandag nog, want dit is in my hart gebrand."
Lisa staan op, buk af en vat Wynand om die nek. "Wil jy daardie woorde herhaal?"
"Pappa, ek is lief vir jou," sê Wynand gesmoord.
"Kan ek met jou praat, Wynand?" Lisa se trane het bedaar en hulle sit styf teen mekaar op die rusbank in die klein sitkamertjie.
"Jy weet jy kan, Lisa."
"Toe ek in jou kamerdeur gestaan het, was daar 'n ou verslete rugsak op jou bed. Wou jy vlug of wat?"
"Nee ek het afgekry by die karwagmense. Ek wou ryloop Kroonstad toe. Ek wou haar net een keer weer gesien het; gesien het hoe lyk my klein Aspoestertjie op haar troudag. Al is dit die tweede een, wou ek haar net een keer sien. Iewers in my kas is my ou troupak. Dit behoort steeds te pas."
"Wat het jy gedoen ná die egskeiding, en hoe het jy 'n karwag geword?" Sy druk sy hand teen haar wang.
Hy kyk lank na die skildery van 'n bloekomboom aan die anderkant van die vertrek. "Ek het die volgende week onverwags my werk verloor en ek het baie straf begin drink. Dit het sleg gegaan, ek het geswerf en gewerk waar ek iets kon kry. Toe het ek by 'n straatprediker verbygeloop en sy woorde het my binneste geskroei."
"Wat het hy gesê, my vriend?" wil sy hartseer weet.
"Niks is groter en sterker as 'n Vader se liefde nie."
Talle motors is rondom die kerkgebou geparkeer. By die groot deur het 'n viertal fotograwe reeds stelling ingeneem. Wynand rem effens terug, maar Lisa dwing hom na die klein hekkie reg oor die Rolls-Royce-troumotor.
Die dubbeldeure gaan oop. Mense stroom na buite, staan weerskante van die paadjie. Kameras flits toe die paartjie uitkom. Confetti en linte stroom deur die lug, en langs Lisa suig Wynand sy asem hortend in.
Jolize is in 'n roomkleurige lang tabberd geklee. Sy is absoluut beeldskoon en aan haar linkersy staan 'n dogtertjie van sowat vier jaar, 'n kleiner weergawe van haar ma.
"Sy is ongelooflik pragtig, Wynand. Jy kan so trots wees." Lisa se stem vervaag toe die bruidspaar 10 treë van haar en Wynand af vassteek. Jolize se beeldskone gesig word wasbleek, die ruiker val uit haar hand en sy praat sag in haar man se oor. Dié knik sy kop, kyk reguit na Wynand en glimlag breed. Jolize buig oor en praat in haar dogtertjie se oor. Haar oë rek en 'n skitterende glimlag verhelder haar gesig.
Dan snel die meisietjie na Wynand. "Oupa! My oupa! Ek is so lief vir jou!"
Wynand sak op sy knieë en vang die klein lyfie in sy honger arms. Trane stroom oor sy gekreukelde wange. "My klein Aspoestertjie, en oupa is so lief vir jou ook."
Stadig kom hy orent. Die klein meisietjie knel om sy bobeen en vir die eerste keer in 25 jaar kyk pa en dogter vir mekaar. Jolize los die arm van haar bruidegom, en met 'n vreugdekreet storm sy in Wynand se arms. "My liefste pappa, my eie pappa. Liewe Jesus het my vertel jy sal hier wees."
Dokter Ivan Swart glimlag breed en steek sy regterhand uit. "Dankie, Pa. Ek is so bly om jou te ontmoet. Baie welkom."
Onbeskaamd huil pa en dogter, Wynand buk, tel sy kleinkind op. Hy slaan sy regterarm om Jolize en kyk na Lisa. "Baie dankie," prewel hy vir haar en sê dan hardop: "Dankie my God, nou weet ek U liefde is so onbeskryflik groot."
- Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Kry hier vir meer inligting.
Teken in op ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!
















