Kos + wyn

4 resepte vir baba se breingroei

Resepte vir baba se breingroei
Resepte vir baba se breingroei (Adele Ferreira)
Tuna-en-avokado-bootjies
Tuna-en-avokado-bootjies

Tuna-en-avokado- bootjies

BESTANDDELE

  • 2 ansjovisfilette
  • 125 ml (½ k) mayonnaise
  • 30 ml (2 e) kappertjiesaad, gedreineer en gekap
  • sap en gerasperde skil van ½ suurlemoen
  • 1 selderystingel, in skyfies gesny
  • 1 blik tuna in water, gedreineer
  • 1 avokado, gehalveer en pit verwyder
  • sout en peper na smaak
  • gekapte grasuie vir garnering

METODE

1. Druk die ansjovis in 'n middelslag-mengbak fyn en meng met die mayonnaise. Roer die kappertjies, suurlemoenskil en 15 ml (1 e) suurlemoensap by. Voeg die seldery en tuna by en meng.

2. Plaas 'n halwe avokado elk op 'n bord, sprinkel sout en peper oor en giet die res van die suurlemoensap oor. Skep van die tunamengsel in elke holte. Garneer met die grasuie.

Eerste trimester: NOODSAAKLIKE VETSURE

Hoekom het jy noodsaaklike vetsure nodig? Olierige vis soos ansjovis, tuna, salm, snoek, sardientjies en sardyne is 'n ryk bron van dokosaheksaenoësuur (DHA), wat belangrik is om die brein en sentrale senuweestelsel te help volwasse word. Die avokado in hierdie resep is ook vol goeie vette en is 'n goeie bron van folaat.

Hoenderlewerslaai
Hoenderlewerslaai

Hoender-lewerslaai

BESTANDDELE

  • 1 ui, in fyn ringe gesny
  • 1 rooi soetrissie, in fyn repies gesny
  • 30 ml (2 e) olyfolie
  • 250 g hoenderlewertjies, gewas en afgedroog
  • 45 ml (3 e) worcestershire-sous
  • 45 ml (3 e) tamatiesous
  • 45 ml (3 e) blatjang
  • 15 ml (1 e) Marmite
  • 750 ml (3 k) slaaiblare, gewas en in stukkies geskeur (sluit babaspinasie in vir ekstra yster)
  • 1 hand vol fyn groenbone, gaar gestoom
  • 1 hand vol broccoli-boompies, gaar gestoom
  • sout en pas gemaalde peper na smaak

METODE

1. Braai die ui en soetrissie in die olyfolie tot sag. Voeg die hoenderlewertjies by en braai sowat 'n minuut aan elke kant tot gaar.

2. Voeg die drie souse en die Marmite by en laat 5 minute prut. Verwyder die pan van die hitte, bedek met 'n vadoek en laat afkoel.

3. Rangskik die slaaiblare, groenbone en broccoli op 'n vlak bord, skep die hoenderlewer bo-op, proe en voeg dan sout en peper na smaak by. Sit voor.

Voor swangerskap: FOLAAT

Hoekom het jy folaat nodig? Spinasie, Marmite en hoenderlewers is propvol daarvan. Hierdie B-vitamien help om spina bifida te voorkom. Navorsing verbind ook die neem van foliensuur (die sintetiese vorm van folaat) voor en tydens swangerskap met 'n baie laer risiko van outisme. NB: Moenie orgaanvleis meer as een keer per week eet terwyl jy swanger is nie, aangesien meer as dit vitamien A-vergiftiging kan veroorsaak.

Bief-&-lemoen-roerbraai
Bief-&-lemoen-roerbraai

Bief-&-lemoen-roerbraai

BESTANDDELE

Roerbraaisous

  • 60 ml (¼ k) sojasous
  • sap en gerasperde skil van 1 lemoen
  • 10 ml (2 t) vissous
  • 10 ml (2 t) heuning
  • 1 duimgrootte stuk gemmer, geskil en gerasper
  • 1 knoffelhuisie, gekneus
  • 5 ml (1 t) rissiesmeer of sriracha-sous (opsioneel)

Roerbraai

  • 1 lendebiefstuk, in repe gesny
  • 15 ml (1 e) mielieblom (Maizena)
  • 30 ml (2 e) klapperolie of olyfolie
  • 1 ui, in skywe gesny
  • 250 ml (1 k) broccoli-blommetjies
  • 500 ml (2 k) babaspinasie
  • sout en peper na smaak
  • 15 ml (1 e) sesamsaad
  • 250 ml (1 k) rysnoedels (in warm water geweek) of gaar bruinrys vir voorsit

METODE

1. Meng al die roerbraaisousbestanddele saam en marineer die vleisrepe minstens 30 minute daarin, maar verkieslik 2 uur. Hou dit in die yskas terwyl dit gemarineer word. Verwyder die vleis uit die marinade en druk met 'n papierhanddoek droog. Roer die mielieblom by die oorblywende marinade en hou eenkant.

2. Verhit 15 ml (1 e) van die olie oor matige hitte in 'n groot braaipan of wok. Braai die ui tot dit begin verbruin. Verwyder uit die pan en voeg by die roerbraaisous. Verhoog die hitte en braai die vleisrepies sowat 2 minute aan elke kant tot bruin. Skep uit die pan en voeg by die roerbraaisous.

3. Plaas die pan terug op die plaat en giet die res van die olie in. Braai die broccoli en spinasie 2-3 minute, roer dan die bees- en-uiemengsel by en laat 'n minuut of twee prut tot die sous gaar is en verdik het.

4. Voeg sout en peper by indien nodig. Sprinkel die sesamsaad oor en sit voor saam met die noedels of rys.

Tweede trimester: YSTER

Hoekom het jy yster nodig? Yster is belangrik vir die produksie van breinchemikalieë en die vorming van jou baba se senu-oordragstowwe.

Groen omelet
Groen omelet

Groen omelet

BESTANDDELE

  • 3 eiers, geskei
  • knippie sout
  • 60 ml (¼ k) vars kruie, gekap (ons het pietersielie, grasuie, basilie en tiemie gebruik)
  • 22,5 ml (1½ e) botter
  • 125 ml (½ k) skerp cheddarkaas, gerasper
  • 5 ml (1 t) basiliepesto (opsioneel)

METODE

1. Voorverhit die oondrooster en plaas 'n rak in die middel van die oond. Klits die eierwitte in 'n groot bak met 'n elektriese of ballonklitser tot sagte punte vorm.

2. Klits die eiergele, sout en ¼ van die geklitste eierwitte in nog 'n bak. Vou die res van die eierwitte by die eiergeelmengsel en roer die helfte van die gekapte kruie by.

3. Smelt die botter in 'n vuurvaste kleefwerende pan. Skraap die omeletmengsel in die pan en skud liggies om die mengsel bo-op gelyk te maak. Bak 'n minuut of twee in die oond. Verwyder, sprinkel die kaas oor en plaas die pan terug in die oond. Rooster sowat 3 minute tot die omelet pofferig is en die kaas gesmelt het. Verwyder uit die oond, sprinkel nog kruie oor en sit voor met 'n titsel pesto.

Derde trimester: CHOLIEN

Hoekom het jy cholien nodig? Eiers is 'n goeie bron van proteïen en yster; albei is noodsaaklik vir breinontwikkeling. Eiers bevat ook baie cholien, wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van geheue en 'n lewenslange vermoë om te leer.

Ziska Baumgarten

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM