Foto Willem Lourens
Vir 6
Voorbereityd 10 minute
Gaarmaaktyd 40 minute
Vir dié resep kan jy enige bier gebruik. Ek het appelwyn (cider) vir die varkblad gebruik wat taamlik soet is. Die suikers karamelliseer en sorg vir 'n soetsuur sous wat lekker is saam met 'n groot snit geroosterde vleis.
Jy benodig
• 2 eetlepels botter
• 3 uie, in dun ringe gesny
• 4 knoffelhuisies, fyngekap
• 2 eetlepels koekmeel
• 1 koppie bier (appelwyn of enige ander bier)
• 1 eetlepel bruinsuiker of heuning
• 1 koppie hoenderaftreksel
• 2 takkies roosmaryn of salie
• 1 suurlemoen
Só maak jy
1 Verhit die botter en soteer die ui en knoffel in die botter tot dit glansend en sag is. Sit die deksel op en laat dit vir nog 10 minute prut.
2 Sprinkel die meel oor die uie en roer dit deur. Gooi dan die bier en suiker by, verhit die mengsel en kook dit vinnig vir 8 minute of totdat dit verdik en die meeste van die bier verdamp het.
3 Gooi die aftreksel en kruie by en kook dit stadig vir nog 15 minute. Haal dit van die hitte af, druk die suurlemoensap na smaak oor en roer dit deur.
WENK
Jy kan dit ook saam met boereworsrolletjies, steak of kapokaartappels voorsit. Die smoor sal vir tot 'n week lank in die yskas hou.













