Kos + wyn

Heerlik! Boontjiesop met gerookte ham

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
  • 500g - droë spikkelboontjies, goed afgespoel en oornag geweek in skoon water
  • 1 - bossie sopseldery, gekap
  • 1 - groot ui, gekap
  • 2 - wortels, geskil en gekap
  • 3 - knoffeltoontjies
  • ’n bouquet garni
  • 1,5l - water
  • 1kg - gerookte ham, afgespoel en in kwarte gesny
  • 1 - hoender-“stock pot” of jou gunsteling- aftrekselkonsentraat na smaak
  • KRUIESOUS:
  • 6 - knoffeltoontjies
  • 80ml - olyfolie
  • 80g - (twee groot hande vol) vars koljander
  • sap en gerasperde skil van 2 lemmetjies
  • 2 - sprietuie, gekap

1 Dreineer die bone en voeg dit saam met die res van die sop-bestanddele, behalwe die aftreksel, in 'n groot pot. Dit is belangrik om nie sout by te voeg nie. Bring tot kookpunt en laat prut stadig vir 2 uur tot die vleis rafelsag is en die bone gaar. Skep gereeld enige skuim af wat bo-op die sop vorm.

2 Maak die kruiesous Sit die knoffel in die olie in 'n bakkie en lugbraai vir 10 minute teen 180°C. Laat vir nog 10 minute in die lugbraaier afkoel. (Of jy kan die knoffel in 'n kastrolletjie in die olie laat prut tot sag en gaar.) Maak die knoffel en olie saam met die koljander, lemmetjiesap en -skil, en sprietuie met 'n staafmenger fyn. Jy kan die dikte aanpas met 'n klein skeutjie water of ekstra olie. Onthou om te geur met sout na smaak.

3 Skep die vleis uit die sop en laat effens afkoel tot hanteerbaar. Gebruik 'n staafmenger om die meeste van die sop fyn te maak. Ek hou van tekstuur en behou gewoonlik so 'n kwart in stukkies. Roer die aftrekselkonsentraat by die sop en herverhit solank.

4 Rafel die gaar vleis of sny in klein blokkies en roer terug in die sop. Jy kan ook die helfte terughou en dit apart bedien as jy wil. Roer 'n ruim skep kruiesous deur die sop. Sit stomend warm voor met die ekstra kruiesous in 'n bakkie langsaan.

Het jy geweet?

• 'n Bouquet garni is 'n bossie vars kruie soos lourierblare, pietersielie en tiemietakkies wat in 'n bossie gebind of saam met 'n paar peperkorrels in 'n moeseliensakkie by stowegeregte en soppe gevoeg word vir geur.

• Sopseldery het dun steeltjies en word verbou vir hul blare terwyl gewone tafelseldery dik stele het. Kyk uit daarvoor by jou groentemark.

CTA