Calamari is geneig om vinnig taai te raak wanneer dit gaargemaak word – marineer dit vooraf in karringmelk soos in dié resep om te verseker dat dit lekker sappig bly wanneer jy dit braai.
4-6 calamari-steaks (ontdooi, indien bevrore)
15 ml (1 e) Cajun-speserymengsel
500 ml (2 k) karringmelk
Krummel
500 ml (2 k) koekmeel
7,5 ml (1½ t) sout + ekstra soos nodig
5 ml (1 t) varsgemaalde swartpeper, na smaak
2,5 ml (½ t) gerookte paprika
2,5 ml (½ t) knoffelpoeier
2,5 ml (½ t) rooipeper
1 eier
olie, vir diepbraai
Doopsous
60 ml (¼ k) mayonnaise
30 ml (2 e) natuurlike volroomjogurt
5 ml (1 t) suurlemoensap
5 ml (1 t) dijonmosterd
1. Klad die calamari-steaks met kombuispapier droog. Sny elke steak in repe van ongeveer ½ cm dik.
2. Sit die calamari in ’n niemetaal-marineerbak en geur met die Cajun-speserymengsel. Giet die karringmelk oor en meng goed.
3. Bedek die bak en laat minstens 1 uur of selfs oornag in die yskas marineer.
4. Krummel Sit die koekmeel in ’n mengbak en voeg die sout, peper, paprika, knoffelpoeier en rooipeper by. Meng goed. Skep die helfte van die meelmengsel in ’n ander mengbak.
5. Haal die calamari uit die karringmelkmengsel – skud liggies sodat die oortollige karringmelk afdrup, en hou die orige karringmelk eenkant. Sit die calamari direk in een van die bakke met die meelmengsel en skud tot goed bedek.
6. Klits die eier by die orige karringmelk. Doop die repies in sarsies weer in die karringmelk, en rol in die ander bak meel tot goed bedek. Skud die oortollige meel liggies af en pak die repies in ’n enkellaag op ’n groot bord.
7. Verhit genoeg olie in ’n kastrol vir diepbraai. Braai die calamari-repies in sarsies tot goudbruin en bros – moenie te veel repies op een slag braai nie. Dreineer die repies op kombuispapier en geur met nog ’n bietjie sout, indien verkies.
8. Doopsous Meng al die bestanddele goed saam. Sit dadelik voor saam met die brosgebraaide calamari-repe.
1630















