Meerlust is een van Suid-Afrika se oudste en mees ikoniese wynplase, en in ’n nuwe boek, Meerlust: Beyond the Rubicon, word dié plaas se wynbenadering deur die jare vasgevang. Suzaan Potgieter het die boek se skrywer,Emile Joubert, gepols oor die agtergrond.

Meerlust is reeds in 1693 in Stellenbosch gestig, maar jou boek val saam met die viering van die 50ste herdenking van die plaas se eerste wyn-bekendstelling. Waarom slegs 50 jaar as die plaas so oud is?
Dis een van die redes waarom ek die boek wou skryf, om nie net die storie van Meerlust te vertel nie, maar in te gaan op die ontstaan van die land se moderne wynbedryf. Henning Huising, Meerlust se eerste eienaar, het soos baie Stellenbosse boere van daardie tyd, wingerde aangeplant en wyn gemaak. En so was dit ook toe die Myburgh-familie in 1756 die plaas bekom het. Maar tot en met die 1970’s het die meeste Stellenbosse en ander Suid-Afrikaanse wynboere hul druiwe en wyn verkoop aan die groot korporatiewe kelders soos die KWV, Distillers en Stellenbosse Boerewynmakery.
In die 1970’s het visioenêre wynboere werklik vir die eerste keer hul eie wyne onder eie etikette begin botteleer. Vandag is dit die norm, maar 50 jaar gelede is dit as ’n nuwigheid gesien.
Baie mense praat nou van die “rewolusie” in die Kaapse wynbedryf wat 20 jaar gelede deur die sogenaamde Swartland-rebelle begin is. Maar die werklike rewolusie was die totstandkoming van landgoedwyne in die 1970s. Daardie pioniers het die wynbedryf se trajek heeltemal verander.


















