Skink en klink 'n glasie op ons ryk erfenis, skryf Ernusta Maralack.
Dit moet net lyk asof die son sy kop uitsteek en Suid-Afrikaners raak onrustig as daar nie planne vir 'n kuier gemaak word nie. En met die yskoue en nat winter wat veral Kapenaars ervaar het, verwelkom ons die lente en ook Erfenismaand met ope arms.
Of jy nou verkies om 'n braaivleisvuur aan te steek en vleis op die kole te gooi of sommer net luilekker langs die swembad aan 'n charcuterie-bord wil peusel, is die prentjie nie volledig sonder 'n verfrissende drankie nie.
Ek het dit die afgelope ruk herhalend ervaar met besoeke aan van die beste restaurante en wynplase en gedurende geselsies met wynmakers, sommeliers, sjefs en restauranteienaars, wat uiters passievol is oor wat hulle doen
Ek volstaan dat Suid-Afrika baie probleme het, maar haar mense, ons gees, kos en wyn is van die beste wat jy oor die wêreld heen sal kry.
Ek het dit die afgelope ruk herhalend ervaar met besoeke aan van die beste restaurante en wynplase en gedurende geselsies met wynmakers, sommeliers, sjefs en restauranteienaars, wat uiters passievol is oor wat hulle doen. Mense in die plaaslike gasvryheidsbedryf doen alles in hul vermoë om ons kos- en wynerfenis te behou vir die geslagte wat nog moet kom - en om Suid-Afrika 'n gesogte wêreldklasbestemming te maak.
En soos Dricus du Plessis, Suid-Afrika se eerste gemengdegevegskuns-wêreldkampioen, ná sy onlangse oorwinning gesê het: "Hulle weet nie wat ons weet nie!"
Dis dan op hierdie noot dat jy jou glas kan vul met van die heerlikste wyn en jenewer-skemerkelkies, waarin jy ons land se ryk erfenis kan proe. Die drankies is ook perfek vir die warmer, luilekker dae wat voorlê.

Welgegund Heritage Wines Rosé 2023
Dit was met 'n besoek aan Wellington dat ek hierdie rosé vir die eerste keer geproe het en dit is lig en absoluut heerlik op die palet! Die rosé het 'n ligte, salmpienk kleur met aarbeie-, framboos-, blomme- en sitrusgeure. Boonop kom die wyn in 'n sjiek en elegante bottel waarop die etiket op die bottel self gegraveer en nie opgeplak is nie. Dit het ook 'n glasprop wat jou in staat stel om die bottel weer te kan gebruik.
Friedrich Kühne, Welgegund se wynmaker, sê dis 'n versnitwyn van cinsaut, grenache noir en carignan. "Ek het twee jaar lank in die Rhône-gebied in Frankryk gewerk, waar hulle ook rosé maak. Dit was 'n ongelooflike ervaring en 'n fantastiese leerskool. Die kleur van rosé is baie belangrik en dit was 'n massiewe uitdaging om die kleur perfek te kry. Die kleur, ongelooflike verpakking en geure het perfek bymekaar gekom, iets om op trots te wees. Dis 'n fees van rosé!"

Welgegund Heritage Wines Cinsault 2019
Hierdie wyn word gemaak van 'n wingerd wat in 1974 geplant is, en 2019 was sy oesjaar.
Jy proe swartbessie, speserye, vars kersies enlaventel met 'n ligte Franse-eikehout-ondertoon. Die cinsault ruik ook ongelooflik.
"Gedurende my wynmaakstudies aan die Elsenburg-landboukollege was die rooi kultivar waarmee ek moes wynmaak, cinsaut. Vandag is dit steeds spesiaal vir my.
"Bedien die wyn teen 18 °C met braaivleissnitte soos beeshaas met 'n wildesampioenroomsous, aspersie en spekbondels of geroosterde tuna met suurlemoenbotter," sê Friedrich.

Dis tyd vir skemerkelkies!
Daar is iets onweerstaanbaars aan 'n mooi drankie, bedoelende 'n skemerkelkie wat jy kan opdress nes jy wil. En met soveel vars vrugte en blomme wat in seisoen is, kan jy jou gaste bederf met jenewer-skemerkelkies.
Whitley Neill Gin het my tot dusver beïndruk. Hulle het verskillende geure, maar dis veral die bekroonde Whitley Neill Original- en Whitley Neill Protea & Hibiscus-geur wat vir my uitstaan, omdat jy die botaniese bestanddele soos onder meer Kaapse appelliefie en die baobabvrug kan proe en ruik in die jenewer. Dit het nie 'n skerp, bitter smaak, wat hard op die smaakkliere val nie. Ek het byvoorbeeld geen garnering gehad nie en dit slegs gedrink saam met ys en limonade (Sprite sal net so goed werk).
Die Original het dubbelgoud ontvang by die 2022 San Francisco-spiritualieë- en goud by die 2022 Wyn-en-spiritualieë-kompetisie in Londen.
Owen O'Reilly, 'n miksoloog en die eienaar van SIP Events, deel 'n paar van sy beste geurkombinasies waarmee jy kan eksperimenteer met die Whitley-geure. Niks keer jou egter om 'n jenewer van jou eie keuse te gebruik nie.
Vir kombinerings met Whitley Neill Original stel Owen voor om 'n klassieke garnering soos gedraaide lemoen en dalk 'n bietjie roosmaryn te probeer. Of vir iets anders, geelrissie en tonkaboon bo-oor gerasper. Of vinkelblom wat anys-sjokolade-notas het om te pas by die Kaapse appelliefie en baobab in die jenewer.
Vir kombinerings met die Whitley Neill Protea & Hibiscus, sê Owen aarbei en basiliekruid, of koejawel en kruisement pas heerlik by die vrugtigheid van die hibiskus- en die blom-notas van die protea. Of probeer vars pynappel om die agter-notas van kardemom en koljander aan te vul.
Garnerings in die tuin:
* Laventel en vars roosblare lyk pragtig en voeg subtiele geurnotas by.
* Sitrus-pelargonium groei oral in die Wes-Kaap en voeg 'n fantastiese aroma by en lyk pragtig in 'n drankie.
* Vars komkommer, as jy dit kweek, en dalk vars basiliekruid, is ook uitstekende garnerings, sê Owen.

Whitley Neill Protea & Hibiscusjenewerskemerkelkie
- 50 ml Whitley Neill Protea & Hibiscus-jenewer
- 200 ml pers tonikum
- 2 suurlemoenskywe
- Eetbare blomme (opsioneel)
Voeg die jenewer by 'n glas met ys, vul aan met tonikum en versier met suurlemoenskywe en eetbare blomme.

Whitley Neill Original-skemerkelkie
- 50 ml Whitley Neill London Dry-jenewer
- ½ k sodawater
- 1 e suurlemoensap
- 1 t strooisuiker
Voeg die jenewer by 'n glas met ys, vul aan met sodawater, suurlemoensap en strooisuiker, roer en versier met suurlemoen en kruisement.




















