Patats
4 patats, skoongeskrop
olyfolie, soos nodig
sout, na smaak
15 ml (1 e) ligbruinsuiker
15 ml (1 e) botter
Smeersel
60 ml (¼ k) gesmelte botter
sap van 1 suurlemoen
5 ml (1 t) varsgemaalde swartpeper, na smaak
2,5 ml (½ t) witpeper
’n knippie sout
Vis
1 x 800 g-1,2 kg vars wit vis, skoongemaak en skubbe afgekrap
olyfolie, soos nodig
sout en varsgemaalde swartpeper, na smaak
1 suurlemoen, in skyfies gesny
2 stingeluie, in repe gesny
’n paar takkies vars origanum
’n paar takkies vars tiemie
Maak ’n vuur met genoeg kole vir braai en sit ’n staander in die kole. Bespuit ’n toeknyprooster groot genoeg vir die vis met kossproei. Voorverhit die oond tot 180 °C. Bespuit ’n bakplaat goed met kossproei.
1. Patats Sny die patats in die lengte in die helfte. Pak die patathelftes met die skilkant na onder op die bakplaat en drup ’n bietjie olyfolie oor. Geur met sout en sprinkel die suiker oor.
2. Draai die patats om sodat die skilkant nou bo is. Drup nog ’n bietjie olyfolie oor en geur met ’n bietjie sout.
3. Stip die botter tussen die patats en bak 35-40 min. in die verhitte oond, of tot die patats sag, gaar en gekaramelliseer is.
4. Smeersel Meng alles goed saam.
5. Vis Sny die buikholte van die vis ’n bietjie oper, maar moenie die vis heeltemal oopvlek nie. Sny dan ’n paar kepe aan die buitekant, maar slegs aan een kant van die vis. Smeer die velkant met ’n bietjie olyfolie.
6. Geur die binnekant van die vis met sout en peper, en stop met die suurlemoenskyfies, stingeluie, origanum en tiemie.
7. Sit die vis met die kant met die kepe na bo versigtig op die rooster en maak die rooster halfpad toe (dis nie nodig om die rooster heeltemal toe te knyp nie).
8. Verf die vis ruimskoots met die smeersel en braai 5 min. laag oor die kole. Draai die vis versigtig om en verf weer met die smeersel. Braai nog 5 min. of tot die vel liggies begin skroei.
9. Sit die rooster nou hoog oor die kole en braai die vis nog 5-10 min. aan elke kant of tot deurgaar. Sit voor saam met die patats of ander bykosse van jou keuse.
1630















