Kos + wyn

Hoenderpasta met bros vel

Foto: Francois Oberholster
Foto: Francois Oberholster
  • 30 ml - olyfolie
  • 1 - klein wit ui, gekap
  • 1 - mediumgroot wortel, geskil en in blokkies gesny
  • 1 - selderystingel, gekap
  • 1 - heel plathoender, rugbeen verwyder
  • 30 ml - tamatiepasta
  • 80 ml - botter
  • 2 - groot knoffelhuisies, in skyfies gesny
  • 6 - vars suurlemoenblare
  • - ’n ruim knypie vars neutmuskaat
  • 250 ml - room
  • 350 g - pappardelle
  • 125 ml - varsgerasperde parmesaankaas

Oondtemperatuur: 180 °C

1 Verhit die olie in 'n pan en braai die ui, wortel en seldery tot glansend. Dié stap is opsioneel, maar sorg vir heerlike geur in die finale gereg.

2 Voorverhit die oond. Verwyder versigtig die vel van die hoender - begin by die nek, knip die vel los om die vlerkies en werk afwaarts na die boudjies sodat dit in een stuk bly. Geur die vel met sout en peper en sit dit tussen twee velle bakpapier tussen twee bakplate met 'n gewig op, reg vir die oond.

3 Geur die hoender met sout en peper en sit dit in 'n oondroosterpan. Vryf oraloor met die tamatiepasta en versprei die botter, knoffel en suurlemoenblare oor die oppervlak; strooi die neutmuskaat oor. Giet die room in die bak saam met ongeveer 125 ml water en die gebraaide groente. Bedek en bak nou saam met die vel (steeds tussen die bakplate) vir sowat 30 minute.

4 Loer of die hoendervel al bros en bruin is en bak vir nog 15 minute of tot net reg; hou eenkant. Bedruip die hoender met die pansous en rooster oop vir nog 30 minute tot smeltsag in 'n fluweelsous.

5 Kook nou die pasta in soutwater tot al dente. Roer die pasta deur die pansous en strooi die kaas oor. Vlok die hoender, verwyder die bene en meng ook deur die pasta of sny in stukke en sit dit saam met die pasta voor. Garneer iedergeval met brokke bros vel en varsgemaalde swartpeper. Heerlik!

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM