Vir 6
Voorbereityd 20 minute
Braaityd 15 minute
Jy benodig
• 3 knoffelhuisies, gekap
• 1 stuk gemmer van 2 cm, fyngekap
• 2 eetlepels elk koljander, pietersielie en mentblare, fyngekap
• 2 eetlepels ingemaakte kappertjiesaad (capers)
• 1 klein brandrissie, gekap
• gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
• ¼ koppie olyfolie
• 6 kreefsterte, skoongemaak
• ¼ koppie botter, gesmelt
• gemaalde seesout en swartpeper na smaak
Só maak jy
1. Maak eers die sous deur die knoffel, gemmer, kruie, kappertjiesaad en brandrissie fyn te kap of met 'n voedselverwerker te pols. Roer dan die suurlemoensap en -skil en die olyfolie daarby in. Proe en pas die smaak aan met sout, peper, rissie of suurlemoensap.
2. Braai die kreefsterte oor matige kole met die dop na onder totdat die vleis van deurskynend na wit begin verander en die dop pienk is. Maak die ketelbraai se deksel toe sodat die vleiskant van die stert ook gaar bak, maar moet eerder nie die sterte omdraai nie. Verf deurentyd die sterte se vleiskant met die gesmelte botter.
3. Haal die kreef van die kole af - onthou, dit kook nog vir 'n minuut of twee nadat jy dit afgehaal het; dit is dus altyd beter om die kreef af te haal terwyl dit nog sappig is. Sny met 'n skerp messie 'n keep in die lengte van die vleiskant van die stert en drup nog botter daaroor. Skep die kruiesous oor die kreef en laat dit vir 'n paar minute onder foelie rus voordat jy dit voorsit













