Skuif vanaand knus in voor die televisie, skink 'n glas wyn en kyk wie almal dit uitspook om vanjaar as die MasterChef Suid-Afrika-wenner gekroon te word.
Die program begin om 19:30 op S3 (SABC 3) en vanaand is Durbanville Hills die amptelike wynborg van hierdie kookkompetisie.

Volgens Robyn Bradshaw, Durbanville Hills se handelsmerkbestuurder, is hul wyne gemaak om saam met kos te geniet en was die samewerking met MasterChef 'n natuurlike keuse.
"Die kreatiwiteit wat vereis word om 'n deelnemer aan die program te wees, is nes die kreatiwiteit wat ons wynmakers wys wanneer hulle ons wyne maak.
"Die program gaan al die produkte van die reeks wys, van die vonkelwyn tot die brandewyn. Die Collectors Reserve-wynreeks, wat ook in die program gebruik word, is baie kosvriendelik en pas by die geregte wat nie net op die program gemaak word nie, maar ook deur enigiemand wat daarvan hou om by die huis kos te maak," sê sy.
MasterChef Suid-Afrika, met Pick n Pay as die hoofborg, volg 'n groep huiskokke se reis van hoe hulle leer en verskillende geregte optower.
Die program is op verskeie plekke verfilm, maar wees op die uitkyk vir die sesde episode wat op Durbanville Hills verfilm is en op 7 Augustus uitgesaai word.
















