Gebruik stokvis of enige ander witvis-filette vir die resep.
4-8 stokvisfilette, sonder vel en grate
sout, soos nodig
15 ml (1 e) suurlemoensap
15 ml (1 e) olie
5 cm-stuk gemmer, geskil en in stokkies gesny
1 knoffelhuisie, gerasper, of 2,5 ml (½ t) gekapte knoffel
2,5 ml (½ t) brandrissievlokkies (opsioneel)
30 ml (2 e) sojasous
15 ml (1 e) vissous
15 ml (1 e) rysasyn
15 ml (1 e) ligbruinsuiker
5 ml (1 t) sesamolie
pangebraaide of gestoomde vars broccoli, vir voorsit
Voorverhit die oond tot 230 °C. Hou ’n bakplaat, 4 velle bakpapier en vleistou byderhand.
1. Geur die visfilette met ’n bietjie sout en drup die suurlemoensap oor.
2. Verhit die olie in ’n klein kastrol en braai die gemmer en knoffel oor matige hitte tot sag.
3. Roer die brandrissievlokkies, sojasous, vissous, rysasyn en bruinsuiker by. Roer aanhoudend tot die suiker opgelos is. Laat prut 2-3 min. oor lae hitte en roer die sesamolie by. Haal van die hitte af.
4. Sit 1-2 visfilette (afhangende van die grootte) op elke vel bakpapier en drup van die bereide sousie oor.
5. Vir elke pakkie, vou die kante van die bakpapier oor die visfilette en vou dit goed toe. Vou die kante van die bakpapier stewig vas en maak seker die pakkies is goed geseël. Bind die vispakkies vas met die vleistou, indien nodig.
6. Sit die vispakkies versigtig langs mekaar op die bakplaat en bak 10-15 min. in die oond.
7. Haal die bakplaat met die vispakkies uit die oond en laat 5 min. staan. Vou elke pakkie versigtig oop. Sit voor saam met die orige bereide sousie en die broccoli, of enige ander bykos van jou keuse.
1630















