- 2 kg - Karoo-lamsblad
- 30 ml - olyfolie
- ’n ruim knyp elk - sout en peper
- 4 - takkies tiemie, blaartjies gestroop
- 2 - takkies roosmaryn, blaartjies gestroop
- 2 - groot uie, in wiggies gesny
- 2 - knoffelbolle, gehalveer
- 2 - lourierblare
1 Voorverhit die oond tot 150 °C. Maak seker die vleis is kamertemperatuur en vryf dit oraloor in met die olyfolie, sout, peper en kruie. Sit die blad in 'n groot oondbak saam met die uie, knoffel en lourierblare. Voeg 2 koppies kookwater by die pan en maak styf toe. Druk in die oond en vergeet daarvan vir 4 uur. (Jy kan dit ook vir 8 uur of oornag oondbraai teen 100°C).
2 Verhoog die oondtemperatuur na 220°C, bedruip die lam met die pansouse en rooster oop vir nog sowat 15 minute of tot mooi bruin. Dié stap is opsioneel, maar ons eet mos met ons oë en min dinge is so lekker soos 'n bros vetjie.
3 Skep die vleis, knoffel en enige groot stukke ui uit die bak en hou warm. Skep oortollige vet van die pansappe af en kook die res af vir 'n formidable vleissous. Jy kan natuurlik ook nou die vleissous opdollie met 'n lepel skerp mosterd, verryk met room as jy geil voel of verdik met 'n lepeltjie aartappelmeel of mielieblom. Geniet hierdie feeskos met gebraaide aartappels en pampoen daarby (dis 'n persoonlike gunsteling!).
Gebakte pampoen met kaneel
Genoeg vir 6
Voorbereiding: 5 minute
Gaarmaaktyd: 45 minute
Oondtemperatuur: 180°C
- 12 skywe ongeskilde pampoen, pitte verwyder
- 125ml botter
- 125ml bruinsuiker
- 15ml fyn kaneel (of na smaak)
- 'n strooisel growwe sout
- omtrent 15ml vars suurlemoensap (opsioneel)
1 Voorverhit die oond. Rangskik die pampoenskywe in 'n oondpan wat met bakpapier uitgevoer is. Stip met botter, strooi die suiker, kaneel en sout oor en besprinkel met die suurlemoensap.
2 Bak die pampoen vir 30 minute totdat dit begin karamelliseer. Draai die stukke om en bak nog 15 minute of tot die pampoen deurgaar en mooi gekaramelliseer is. As jou skywe dik is, bedek dit vir die eerste halfuur met foelie, anders kan dit lank neem om gaar te word.
Tannie Des se braaiaartappels
Tannie Des Marais, ons buurvrou uit my kinderdae, se braaiaartappels was altyd 'n goudbruin, bros triomf. Sy het my dié metode op die stoof gewys vir wanneer die oond reeds vol vleis en pampoen is.
- 2 aartappels per gas
- genoeg kanola-olie vir diepbraai
- seesoutvlokkies en roosmaryn
1 Skil die aartappels, sit dit in koue soutwater in 'n kastrol en kook tot net-net sag (sowat 15 minute, afhangend van die grootte).
2 Dreineer die aartappels en laat afkoel tot net hanteerbaar. Trek nou met 'n vurk strepe oor die aartappels.
3 Verhit die olie in 'n groot pot tot warm (toets met 'n broodblokkie - as dit dadelik dryf en borrel, is die temperatuur reg) en braai die aartappels in sarsies tot 'n liggoue kleur. Skep uit en dreineer.
4 Braai dan nog 'n keer in die olie tot goed bruin en bros. Dreineer weer en geur mildelik met die sout en, as jy wil, 'n klein bietjie swartpeper en gekapte roosmaryn.






