Vir: 4-6| Voorbereityd: 10 minute | Gaarmaaktyd: 90 minute
Jy benodig
• 1 teelepel koljandersaadjies, gekneus
• 1 teelepel komynsaadjies, gekneus
• 1 ui, gekap
• 10 knoffelhuisies, geskil en gekneus
• 2 eetlepels olyfolie
• ½ koppie sjerrie
• 4 eetlepels sojasous
• 1 teelepel gerookte paprika
• 1-2 brandrissies, fyngekap
• 1,3 kg varklendeskyf (loin)
• 2 koppies sterk filterkoffie
• 2 eetlepels heuning
• 1-2 koppies vleisaftreksel
• 500 g botterskorsie
• 500 g soetpatat
• 1 suurlemoen
• 'n bossie vars koljander, gekap
• 'n hand vol pampoensade, vinnig drooggebraai
Só maak jy
1. Verhit die olie in 'n groot pot en braai die koljander, komyn, ui en knoffel oor 'n matige hitte totdat die ui sag is.
2. Voeg die sjerrie, sojasous, paprika, rissie en vleis by en roerbraai dit vir 5 minute oor 'n hoë hitte. Gooi die koffie by, sit die deksel op en laat die bredie vir 1 uur oor 'n lae hitte prut.
3. Skil intussen die botterskorsie en soetpatat en sny dit in stukke. Pak dit bo-op die vleis in die pot en voeg die heuning en sowat 1 koppie van die aftreksel by. (Moenie die pot deurroer nie, laat die groentestukke net so bo-op die bredie gaarstoom.) Laat dit vir 30 minute lank met die deksel op prut totdat die vleis en groente sag is. Voeg nou nog water of aftreksel by indien nodig.
4. Proe en geur na smaak met nog sojasous en gemaalde swartpeper. Rasper die suurlemoen se skil oor die bredie en druk die sap ook daaroor uit. Sprinkel vars koljander en pampoensade oor elke porsie en sit dit dadelik voor.













