Motors

Aktueel | Fortuner

’n Groep besorgde Fortuner-eienaars het onlangs ’n saamtrek gereël om te probeer sin maak van klagtes oor die Fortuner se grondpadhantering. Adrian Burford was daar.As jy die afgelope paar maande sommige aanlyn-4x4-forums en WegRy se briewerubriek gelees het, kon jy maklik tot die gevolgtrekking gekom het dat die Toyota Fortuner besig is om ’n reputasie te kry as ’n moeilike kalant (en selfs onveilig is) op ’n grondpad.Dié besprekings is voorafgegaan deur ’n aantal voorvalle waarin Fortuner-bestuurders skynbaar beheer oor hul voertuig verloor het (somtyds teen ’n relatiewe lae snelheid) – in minstens een geval het die voertuig omgeslaan.In sy aanvanklike reaksie het Toyota te kenne gegee dat as daar fout is, die fout by die bande lê. Baie van die betrokke Fortuners het die standaard General Grabber AW 265/70R16-bande gebruik. Dié band word vervaardig volgens Toyota se spesifikasies en word sedert die Fortuner se bekendstelling in middel-2006 gebruik.Dinge is aan die einde van Augustus op die spits gedryf toe ’n span van Continental Tyre SA (vervaardigers van General-bande) met Toyota vergader het by die vervaardiger se kantoor in Johannesburg – net ’n dag voor ’n saamtrek en toetsrit op ’n grondpad oos van Pretoria wat ’n groep besorgde Fortuner-eienaars gereël het (foto’s oorkantste blad).Toyota is verteenwoordig deur Ferdi de Vos, hul skakelhoof, Leon Theron, ’n senior bestuurder van tegniese dienste, asook twee toetsbestuurders. Alan Best van Continental was ook daar.

Bl 2: Moontlike problemeMoontlike problemeNie al die Fortuner-eienaars by die saamtrek was ongelukkige eienaars nie. Om die waarheid te sê, die groep het die gevoel in die briewerubriek en aanlyn-forums weerspieël: Omtrent die helfte van hulle is heel tevrede met hul Fortuners en verstaan nie waaroor die bohaai gaan nie.Die vaste agteras?Toyota het nie doekies omgedraai oor hul standpunt nie: Daar is niks verkeerd met die Fortuner óf met die General Grabber-bande nie.Maar, weens sy ontwerp, het die Fortuner sekere beperkings rakende sy vermoë op ’n grondpad (in teenstelling met die veldryvermoë van die 4x4-modelle).Volgens Theron is die Fortuner ontwerp as “’n veelsydige en bekostigbare meerdoelige voertuig” en as jy dit op grondpaaie ry, sal daar “sekere beperkings” wees.“Die voertuig het nie onafhanklike suspensie agter nie (dit is ’n vaste agteras) en daarom sal die voertuig se agterkant rondbeweeg op sinkplaatpaaie, soos enige ander voertuig met ’n vaste agteras,” het Theron verduidelik.“Die agterkant wat rondbeweeg is nie abnormaal nie – dit val binne die voertuig se ontwerp- parameters.”Banddruk en spoed? Volgens Theron speel banddruk en spoed ’n groot rol in hoe ’n voer- tuig op ’n grondpad hanteer. En dit wil voorkom asof Suid-Afrikaners gerieflikheidshalwe vergeet dat die maksimum spoedbeperking op enige grondpad 80 km/h is.“Banddruk en spoed het ’n groot impak op grondpaaie, en ons navorsing dui daarop dat die land se paaie die afgelope drie jaar merkbaar versleg het,” het Theron gesê.Volgens hom is ’n spesifieke kwessie sogenaamde “washer-board”-sink-plaatpaaie waar die linker- en regterkantse wiele nie teen dieselfde spoed op en af wip nie.En toe die Fortuners by die saamtrek nagegaan is, het sommige ’n banddruk so hoog as 2.8 bar gehad – aansienlik hoër as die aanbevole 2.1 bar (vir alle toestande, ongeag of die voertuig gelaai is of nie).Sommige van die eienaars het erken dat hulle gereeld die bande stywer laat pomp as die aanbevole druk, veral as hulle ’n swaar vrag laai, of as hulle beter brandstofverbruik op teer wil kry.’n Blindelingse vertroue in die personeel en toerusting by vulstasies, vererger natuurlik sake.Die bande?Volgens Best was daar nog nie ’n enkele klagte van Continental-handelaars oor die Grabbers nie, en dat sover dit hulle aangaan, daar “nie ’n probleem” is nie.Continental het nietemin al ’n verbeterde weergawe van die Grabber ontwikkel (’n proses wat glo minstens nege maande gelede al begin is) wat gebruik sal word op die opgeknapte Fortuner wat later vanjaar bekend gestel word.Hierdie band sal danksy ’n minder buigsame loopvlak en sywand glo meer stabiel wees as sy voorganger, het Best gesê.My toetsrit agterin ’n Fortuner 4x2 (teen 80 km/h op ’n taamlik slegte grondpad) was nie juis skrikaanjaend nie, maar daar was ’n merkbare verbetering in die manier waarop die voertuig die sinkplaatpad en slaggate hanteer toe die dieselfde toetsrit met die nuwe Grabber-bande herhaal is. ’n Bietjie van die rygemak is egter ingeboet.Hierdie verbeterde band is reeds op die mark en Toyota het te kenne gegee hulle sal dit oorweeg om die nuwe band op ontevrede eienaars se Fortuners te sit, waar toepaslik.“Die nuwe spesifikasieband – wat Continental op versoek van Toyota ontwikkel het – het ten doel om bestuurders se besorgdheid oor hantering in spesifieke sinkplaat-toestande aan te spreek,” het De Vos in ’n persverklaring gesê wat vóór die saamtrek uitgereik is.“Ons wil egter beklemtoon dat die Fortuner se oorspronklike General Grabber AW 265/70R16 voldoen aan alle tegniese en gehaltevereistes. Die opsit van die nuwe spesifikasiebande in toepaslike gevalle is ’n welwillendheidsgebaar om kliëntetevredenheid te verseker.“Die doel is om die beste oplossing vir elke individuele Fortuner-eienaar te soek, wat die opsit van die nuwe spesifika- siebande kan insluit, afhangende van die rytoestande wat hulle ondervind,” het De Vos gesê.Stabiliteitbeheer?Hierdie nuwe band is die enigste meganiese verandering aan die opgeknapte Fortuner se bande/suspensie-samestelling: Die skokbrekers, die vere se weerstand (spring rate) en die suspensie se aanhegtingspunte bly dieselfde.Maar dit is wel veelseggend dat die opgeknapte Fortuner 3-liter-turbodiesel glo ook met ’n elektroniese stabiliteitstelsel toegerus gaan wees wat sal help om die voertuig te beheer.Dié stelsel word oorweeg, sê Toyota, weens die enorme wringkrag (343 Nm) van die 3-liter-turbodiesel-enjin.Die 4-liter- V6-weergawes sal klaarblyklik nie daarmee toegerus word nie.Wat sê die eienaars?Die Fortuner-eienaars by die saamtrek was oor die algemeen bemoedig, maar nie almal nie.Ja! “Ons is baie tevrede met Toyota se verduideliking; hulle het die aangeleentheid goed hanteer en was gretig om die kwessie rondom die Fortuner aan te spreek,” het Uys van Rooyen gesê. (Hy was een van die organiseerders van die saamtrek.)“Ons het die kwessie rondom die Fortuner se hantering opgeklaar, en die eienaars het baie geleer.”Ja... maar. Nie almal was heeltemal tevrede nie en sommige eienaars het gesê hulle oorweeg steeds (of het alreeds verander na) ander skokbrekers en bande om hantering te verbeter.“Hul verduideliking (dat die Fortuner beperkings het op ’n grondpad) is ietwat teleurstellend en dit lyk asof ek nou maar net sal moet saamleef met die tekortkominge ten opsigte van hantering,” het een eienaar, wat verkies om nie geïdentifiseer te word nie, gesê.’n Ander, meer pragmatiese eienaar, het gesê hy moet maar net die pad beter dophou en stadiger ry sodra hy sinkplaat dele sien. Beide het gevoel Toyota kon tog meer gedoen het om hul kliënte te waarsku oor die Fortuner se hantering op grondpaaie.Daar was selfs voorstelle dat iets daaroor in die eienaarshand- leiding gesit moet word en dat die verkoopspersoneel by handelaars meer openlik moet wees oor die Fortuner se probleme.Aan die einde van die dag...Enersyds is daar duidelik blaam wat voor eienaars se deur gelê kan word: As jy kyk na die banddruk van die eienaars se voertuie by die saamtrek, wil dit voorkom of sommige hulle nie steur aan wat voorgeskryf word in die eienaarshandleiding en/of op die banddrukplakker op die voertuig nie.Om boonop van ’n verkoops- persoon te verwag om vir jou te sê dat die voertuig wat hy aan jou probeer verkoop, enigiets anders as perfek is, grens aan wensdenkery.Andersyds word vingers gewys na Toyota: Het Toyota hul somme oor die Fortuner se hantering en stabiliteit op ’n grondpad verkeerd uitgewerk?Is die Fortuner in die mark gesit sonder dat voldoende navorsing en ontwikkeling gedoen is wat ons plaaslike toestande en gebruikspatrone in ag neem? En beoog hulle om hierdie kwessies eers met die opgeknapte Fortuner later vanjaar te probeer regstel?Besluit maar self.Bl 3: Toyota SA ...Toyota SA sê sy sêToyota se persverklaring wat vóór die saamtrek in Pretoria uitgereik isIn reaksie op eienaars se besorgdheid oor die bestuursdinamika van Fortuner-voertuie weens besprekings op aanlyn-forums, het Toyota SA ’n ondersoek hierna geloods.“Aangesien ons altyd ons kliënte se besorgdheid ernstig opneem, is Toyota SA besig om alle moontlike oorsake te ondersoek wat moontlik tot hierdie vrese kon lei,” het Ferdi de Vos, die skakelhoof, gesê.“Die aanvanklike bevindings in ons voortgesette ondersoek dui daarop dat die vrese spruit uit die ervaring van bestuurders op baie spesifieke sinkplaat-grondpadomstandighede.“Op grond hiervan sal ons elke geval van kliënte-ontevredenheid individueel hanteer en ondersoek, en daarna ’n besluit neem wat op elke spesifieke geval van toepassing is.“Die doel is om die beste oplossing vir elke individuele Fortuner-eienaar te soek, wat die opsit van nuwe spesifikasiebande kan insluit, afhangende van die rytoestande wat hulle ondervind,” het De Vos gesê.“Daar is verskeie opsies om die bestuursdinamika van die voertuig aan te pas, maar die gefokusde aanpassing van die bandontwerp is een van die mees doeltreffende verbeterings, en dit kan vinnig geïmplementeer word.“Die nuwe spesifikasieband – wat Continental op versoek van Toyota ontwikkel het – het ten doel om bestuurders se besorgdheid oor hantering in spesifieke sinkplaat-toestande aan te spreek.“Ons wil egter beklemtoon dat die Fortuner se oorspronklike General Grabber AW 265/70R16 voldoen aan alle tegniese en gehaltevereistes. Die opsit van die nuwe spesifikasiebande in toepaslike gevalle is ’n welwillendheidsgebaar om kliëntetevredenheid te verseker.”Enige Toyota Fortuner-eienaar wat besorg is oor die bestuursdinamika van sy of haar voertuig, word versoek om Toyota SA se kliëntesorgsentrum op 0800 139 111 te bel.Bl 4: WegRy-lesers ...WegRy-lesers sê hul sêHier is uittreksels uit enkele van die tientalle briewe wat ons oor die onderwerp ontvang het.*Die Fortuner is baie onstabiel op die pad – ek dink dit is omdat die bande breër is as die velling. Ek het bande met ’n laer profiel opgesit om te kyk of dit nie die probleem sal oplos nie – die sweefgevoel is wel beter, maar die stuurwiel is so sensitief op die teerpad dat jy elke knik in die pad voel.ROELF VAN WYK, Brits Omdat ek soveel vertroue in Toyota se voertuie het, is ek teleurgesteld dat hulle ’n voertuig op die mark sit wat nie kan ry waar dit bedoel is om te ry nie. Toyota se mense sal nou na hierdie problem moet begin kyk. Ek het betaal vir ’n klaargemaakte voertuig, nie een wat halfpad klaar is nie.FLIP MARAIS, WillistonDie klagtes oor die Fortuners se hantering moet nog behoorlik ondersoek word, maar Toyota soek vir moeilikheid as hy die blaam alles op die bande wil plaas. Die agtervere is te lig in die broek as jy ernstig is oor veldry, of ’n groter gewig wil dra of ’n karavaan wil sleep.Ek het die Fortuner se standaard General Grabbers-bande verruil vir BF Goodrich ATR’s (265/75 R16) omrede ek geweet het daai “padbande” gaan nie lekker saam met ’n 4x4 werk nie.Meer as 340 Nm-wringkrag op so ’n groot voertuig se vaste agter-as en ’n huisvrou wat nie gewoond is aan soveel krag nie, is ’n resep vir moeilikheid.Die krag-tot-gewig-verhou- ding is nou baie groter as voorheen en om al daai krag reg te gebruik moet kopers liefs ’n kursus gaan doen in bestuurtegnieke.Die oplossing vir Toyota nadat die bandeprobleem uitgeklaar is?

  • Gaan leen onderdele by die Prado vir die agtervere en sit vastrapbeheer in as ’n standaardkenmerk.
  • Sluit ’n bestuurkursus in by die prys voor daar weer berigte verskyn oor iemand wat ’n Fortuner gerol het teen 60 km/h.

CHARLES VILJOEN, Kempton Park’n Mens hoor dikwels beweringe dat Fortuners spesifiek vir grondpaaie ontwerp is. Die teendeel is eerder waar:

  • Die Fortuner is redelik styf geveer om goed te vaar in die stad en op teer.
  • Diensintervalle van die V6-petrolmodel is verleng van 10 000 km na 15 000 km omdat Toyota verwag dat die Fortuners geen of min stofpaaie sal ry.
  • So min stofpad word vir die gemiddelde Fortuner in die vooruitsig gestel dat Toyota se onderhoudsplan voorsiening maak om eers die lugfilter te vervang na 60 000 km (sien bl. 224 in die Fortuner-eienaarshandleiding).
  • Die standaardbande is in konstruksie en loopvlakontwerp duidelik gemik op teer eerder as ’n sogenaame “all terrain”-toepassing.
  • Die 65 liter-brandstoftenk dui op stadsgebruik eerder as lang verkennings van die ongerepte.

Beteken dit dat ’n Fortuner glad nie grondpad kan ry nie? Natuurlik nie. Baie kan gedoen word om die situasie te verbeter: Banddruk speel ’n belangrike rol, asook ander vering en bande wat meer geskik is vir grondpaaie; die sentrale ewenaar kan gesluit word om die voertuig meer stuurtraag te maak; maar goeie oordeel met die spoed wat gehandhaaf word, is die belangrikste.Dieselfde geld vir die sleepvermoë van die Fortuner: Met ’n swaar karavaan, verkeerde hakhoogte, verkeerde banddruk, en ’n onkundige of roekelose bestuurder, is dit net ’n kwessie van tyd voor sake hand uitruk.Die bestuurder wat te lui of te dom is om banddruk, hak- hoogte, spoed, ens. aan te pas by omstandighede, soek vir moeilikheid. In die hande van verantwoordelike en kundige bestuurders is vandag se sportnutsvoertuie, soos die Fortuner, ’n plesier, maar vir die res, wel …PIET VAN DER WESTHUYZEN, Centurion Die debat rondom die Fortuner se hantering word gedryf deur ’n handjie vol ouens wat ongelukkig is oor die bande/skokbrekers, maar niks word gesê oor die duisende eienaars wat wel 100% gelukkig is met hul voertuie nie.My mening is dat die kombinasie van bande/skokbrekers gemik is op die meerderheid, en die manne wat ongelukkig is met dié kombinasie moet maar “after market”-produkte opsit. Ek sukkel om te verstaan hoe dit Toyota se probleem is.Gebaseer op die minder as 1% van eienaars wat kla, glo ek nie regtig daar is te veel van ’n probleem nie. Die Fortuner se hantering is nie beter of slegter as my Land Rover 110 op die grondpad nie.LEON BESAANSNadat ek onlangs met ’n Fortuner deur Botswana gery het op haglike paaie (sonder ’n voorval), het die volgende duidelik geword:

  • Die Fortuner is ’n groot, hoëverrigtingsvoertuig, wat maklik bestuur, maar wat jou (ongelukkig) aanmoedig om op teer en in die veld buite jou perke te ry.
  • Die voertuig het in sulke rekordgetalle verkoop dat ’n nuwe geslag grootliks onervare (en somtyds roekelose) bestuurders (ek inkluis) die geleentheid gegee is om op paaie te ry in toestande wat tot onlangsnog ontoeganklik was.

Die Fortuner is ’n baie vaardige voertuig wat weens sy inspanninglose werkverrigting ’n bestuurder se respek afdwing en bekwaamheid vereis.MARK BUTTERWORTH, Johannesburg * Dié briewe is ingestuur voor die saamtrek van Fortuner-eienaars

Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM