Die ou Toyota RAV4 is dood, meen Gerrie van Eeden. Lank lewe die nuwe RAV4.

Byna twintig jaar gelede het die eerste RAV4 sy verskyning gemaak. Dit het toe vir die sportnutsvoertuigmark gedoen wat Rassie Erasmus met sy disko-ligte op die dak van die Vrystaatstadion vir plaaslike rugby gedoen het.
Dit het die damwal laat bars en deesdae ry jy kwalik verby 'n inkopiesentrum of karavaanpark waar daar nie 'n swetterjoel soortgelyke SNV's staan nie. Die mededinging in hierdie mark is baie sterk, omdat byna elke motorvervaardiger nou ook sy weergawe van die klein sportnutsvoertuig het.
Op die oog af
Die nuwe RAV4 lyk meer soos die kleinboet van die Toyota Fortuner. Die eerste RAV4, die driedeurbuksie met die noodwiel op die agterstewe, het gelyk nes die stoute nefie met 'n padda in sy sak by die kinderpartytjietafel en die nuutste model lyk meer soos die hoofseun tydens saalopening.
Onder die vel
Die vorige generasie het net 'n 2 liter-petrol en 'n 2,2 liter-D-4D-dieselenjin gehad om van te kies. Die nuwe weergawe het egter drie enjinkeuses.
Jy kry die 2.0L MT GX met 'n 2 liter-Valvematic-petrolenjin wat 107 kW krag en 187 Nm wringkrag ontwikkel. Dit het 'n sesganghandratkas. Jy kan die 2.0L CVT GX kies wat dieselfde enjin het, maar wat 'n palwisselratkas gebruik. Dan is daar die 2.2D MT GX met 'n 2,2 liter-D-4D-dieselenjin gekoppel aan 'n sesganghandratkas wat 110 kW krag en 'n gawe 340 Nm wringkrag lewer.
Laastens kry jy die 2.5 AT VX met 'n 2,5 liter-VVT-i-petrolenjin. Deur sy sesgang- outomatiese ratkas lewer hy 132 kW krag en 233 Nm wringkrag. Dit vergelyk heel goed met die Hyundai ix35 en die Kia Sportage, wat 130 kW en 227 Nm uit hulle 2,4 liter-petrolenjins kry.
Die 2.0 MT en CVT GX-modelle is slegs voorwielaangedrewe terwyl die 2.2D MT GX en die 2.5 AT VX vierwielaangedrewe is.
Hierdie vierwielaandrywing werk op dieselfde stelsel wat algemeen vir 'n sagte veldryer is: Die krag word onder normale omstandighede na die voorwiele gestuur en wanneer sensors agterkom dat hulle begin tol, word krag onmiddellik ook na die agterwiele gestuur. As jy wil, kan jy met die druk van 'n knoppie die kragverspreiding heeltyds maak.
Binnelangs
Toyota se ontwerpers het hard probeer om dit so luuks as moontlik te maak. Afgesien daarvan dat slegs die VX-model 'n leerstuurwiel en -sitplekke het, het alle modelle 'n sagte leerafwerking op die instrumentepaneel. Die uitleg van die instrumentepaneel is só dat die goedkoper GX-modelle geensins teen die VX afsteek nie.
Die mediaspeler het 'n groot raakskerm en dit het 'n USB- en hulpsok. Jy kan ook jou foon deur Bluetooth koppel en jou eie liedjies van hom af luister. Die skerm kan ook gebruik word vir die GPS, wat 'n ekstra is.
Die elektriese sondak is standaardtoerusting op die VX-model, asook 'n elektries verstelbare bestuurdersitplek en sleutellose aanskakel van die enjin.
Die agterste sitplekke kan heeltemal platslaan sodat jy, volgens Toyota, sewe gholfsakke kan inlaai. En as die sitplekke opgeslaan is, sal selfs Ollie le Roux op die agtersitplek kan saamry.
Agter die stuur
As jy inklim, voel die RAV4 baie ruim - ruimer as wat dit in werklikheid is. Tydens die bekendstelling het ons die snelweë van die Suid-Kaap en ook die Prins Alfred-grondpadpas met gemak gery.
Al waar die RAV4 dalk 'n bietjie te kort skiet, is sy grondvryhoogte wat slegs 160 mm is. Vergelyk dit met die Sportage se 172 mm en die ix35 se 170 mm en daai 12 mm kan dalk die verskil tussen koop en verbyry maak.
Gevolgtrekking
Die RAV4 het grootgeword en Toyota het net betyds reageer om hom weer mededingend in hierdie taai marksegment te maak. Boonop vergelyk die reeks se pryse baie goed met hulle eweknieë in die Kia- en Hyundai-stal. Maar ek het dieselfde week ook die nuwe Ford Kuga gery en sy ekstras en slim funksies laat dit op die oog af lyk na 'n beter alternatief as die RAV4.
Pryse:
2.0L MT GX - R279 900
2.0L CVT GX - R289 900
2.2D MT GX - R359 900
2.5 AT VX - R399 900












