Wie se baard is van bloudraad? G300 CDI Professional vs. Land Cruiser 76. Die Mercedes-Benz G300 CDI Professional is 'n uiters bekwame veldryer. Maar hoe vergelyk hy met 'n Land Cruiser 76-stasiewa wat met 'n hele paar ekstras toegerus is - en stééds 'n paar honderdduisend rand goedkoper is? Jaco Kirsten het gaan vasstel.
Dit gons omtrent in die 4×4-wêreld oor die nuwe Mercedes-Benz G-klas. Groot mans begin giggel as hulle een gewaar. Dominees begin skelm Lotto speel. Vroue wonder senuagtig waarna hulle mans laatnag op die rekenaar kyk…
Want daar is waarskynlik geen ander 4×4-stasiewa ter wêreld wat so taai en bekwaam is nie. Hy't egter een groot probleem: sy prys van R779 740 - sonder énige ekstras (nie eens 'n radio nie), maar darem met die opsionele diensplan vir R23 750.
Toe gaan krap ons kop en besluit om hom met die Land Cruiser 76-stasiewa te vergelyk. Nie net wat veldryvermoë en algemene uitleg betref nie, maar ook waarde vir geld. Want die Cruiser kos R480 000. Ons kon nie een by Toyota Suid-Afrika in die hande kry nie, maar Willie Engelbrecht van Market Toyota Culemborg in Kaapstad het sy eie 76-stasiewa vir ons geleen.
Daar was egter 'n belangrike verskil: Willie se Cruiser het Old Man Emu-vering gehad. Dit kos 'n redelik stewige R17 000, maar dit maak hom steeds relatief goedkoop.
Ons het vermoed die G-klas sou waarskynlik die Cruiser troef. Maar sou hy R300 740 beter wees?
Wat is die onderskeie resepte?
Altwee is klípharde legendes. Die G-klas, oorspronklik die Geländewagen, is al langer as dertig jaar met ons. Sedertdien het die reeks 'n spul nuwe enjinvariante gekry, maar die basiese bakwerk het onveranderd gebly. Die feit dat die G-klas oorspronklik as 'n militêre voertuig ontwerp is, verklaar baie van sy eienskappe - soos die hoekige ontwerp met die groot vensters en die gebrek aan luukses. So ook die legendariese veldryvermoë, danksy 'n kombinasie van vaste aste met kronkelvere en heeltydse vierwielaandrywing met drie meganiese ewenaarslotte.
Die Land Cruiser 76 is egter nie veel anders nie en waar die G-klas die keuse van 'n paar eerstewêreld-weermagte is, is die variante van die Land Cruiser 70-reeks baie gewild in burgeroorloë in Afrika en die Midde-Ooste. Daar is min voertuie ter wêreld wat so taai en eenvoudig is om te onderhou.
Die 76-stasiewa gebruik óók vaste aste voor en agter, maar het kronkelvere voor en bladvere agter. Hy gebruik deeltydse vierwielaandrywing, maar het ook meganiese ewenaarslotte voor en agter.
Met ander woorde, jy sit met twee taai, dieselaangedrewe 4×4-stasiewaens wat min fieterjasies het. Die enigste ander voertuie wat jy min of meer met dié twee kan vergelyk, is die Toyota 78-reeks Troop Carrier en die Land Rover Defender.
Wat gaan aan onder die enjinkap?
Die Mercedes-Benz het 'n 3 liter-turbodiesel wat 135 kW krag en 400 Nm wringkrag ontwikkel. Met ander woorde, jy gaan nie meer krag nodig hê nie. Maar die G-klas is gemaak vir oorlog en wanneer jou bestuurders soldate is wat vinnig opgelei word om 4×4's te kan ry, is outomatiese ratkaste altyd die beste.
Trouens, vandag se outomatiese ratkaste is só goed dat dit die beste is vir 95% van veldrywerk. Punt.
Hou egter in gedagte dat die G300 CDI meer as 2,5 ton weeg en dat daai 135kW soms soos 110 kW voel.
Dis egter steeds gerieflik meer as die 76 se 1HZ-dieselenjin van 4,2 liter wat maar 96 kW en 285 Nm ontwikkel. As jy aan turbodiesels gewoond is, is jy verbaas om agter te kom hoeveel dié enjin van toere hou. Jy voel aanvanklik aardig om hom so te hoor skree, maar later draai jy eenvoudig die Johnny Cash harder en ignoreer dit.
Die Toyota het 'n vyfgang-handratkas. En, tipies Toyota, is hy strammerig en nie baie sekuur nie. Nes sommige Defender-eienaars dit al reggekry het om hulleself wys te maak dat sy kajuit nie beknop is nie, het heelwat Cruiser-manne al begin dink die ratkas se oorskakelings is "goed so".
Hoe lyk hulle binnelangs?
As jy in die G300 CDI inklim, voel jy lus om Pole in te val. Oukei, goed dan, Lesotho. Want dis Germaanse militêre minimalisme op sy beste. Of nee, minimalisties is nog te oordadig.
Behalwe die knoppe en instrumentasie gaan hier níks aan nie. Hier's klein vakkies in die deure om goed in te bêre. En 'n paneelkissie aan die passasierskant. En dis dít. Hier is absoluut geen plek om jou huissleutels, selfoon of kamera te bêre nie.
Die vensters maak met slingers oop en toe. En hier is geen radio nie. As jy in die Duitse weermag is, is jy seker veronderstel om Heino-liedjies te fluit.
Hier is darem 'n lees/kaartlamp bo-op die instrumentepaneel. Dit het 'n lang, buigbare steel en behoort nuttig te wees - as hy werk. Ek het hom op dag een 'n bietjie gedraai en 'n kraakgeluid gehoor. Toe werk hy ook nie meer nie.
Hy't darem sentrale sluiting. Maar voordat jy daar kan uitkom, moet jy eers die deure oop en toe probeer kry. Die knippe is ongelooflik stram en verg 'n fris duim vir die oopmaak. En om dit toe te kry, moet jy dit behoorlik toeslaan.
Agter het die G300 CDI ook nie 'n banksitplek nie, maar twee smallerige sitplekke wat nie heeltemal so prakties is nie. In die vragruim agter is daar 'n paar groot D-ringe om vrag aan vas te maak.
In teenstelling hiermee voel die 76-stasiewa skoon luuks. Die ironie van 'n 76 Cruiser as "luuks" het ons nie ontgaan nie. Ek bedoel, hy't elektriese ruite, bekerhouers, 'n groot bêreplek tussen die voorsitplekke, 'n driesitplekbank agter, 'n CD-speler, satellietnavigasie… jy kry die prentjie.
Die G300 CDI se bestuursposisie was verrassend baie soos dié van 'n Defender. Nie so beknop aan die kante nie, maar jy het definitief die gevoel gekry dat jy half bo-op die stuurwiel sit. Aan die ander kant het die 76-stasiewa jou laat voel of jy 'n gewone bakkie ry.
Hoe vergelyk hulle 4×4-vermoë?
Die G-klas is fenomenaal. Nie dat ons minder verwag het nie. Ek het hom drie maande gelede in die Namib gery waar sy gewig opmerklik was in dik sand, maar het geweet klippe en ander ongelyke terrein is eintlik sy kos.
Op die Klipbokkop-4×4-roete buite Worcester was dit duidelik dat die kombinasie van outomatiese ratkas en drie ewenaarslotte (saam met die regte banddruk, natuurlik) beteken het dat hy eenvoudig oor allerhande hindernisse geluier het. Sy uitstekende naderings- en vertrekhoeke van onderskeidelik 36° en 31° het natuurlik ook gehelp.
Die enigste keer dat die wiele getol het, was toe ek hom afgeskakel het (die middel- en agterste ewenaars was gesluit), en weer aangeskakel en weggetrek het teen 'n steilte. Die elektronika ontsluit dan outoma
ties die ewenaars, maar toe hulle weer geaktiveer is, was die klippe kinderspeletjies.
Om laestrek te kies, druk jy 'n knoppie op 'n robuuste metaalkonsole. Ditto die agterste, middelste en voorste ewenaarslotte. Koppeling en ontkoppeling is blitsvinnig - anders as baie ander voertuie waarvan die ewenaarslotte soms eers 'n ruk vat om te ontsluit.
En toe klim ons in die Land Cruiser… Skielik het die luierige 1HZ-enjin sin gemaak. In laestrek het hy eenvoudig teen baie steil bulte uitgeluier. En die feit dat hy óók twee ewenaarslotte gehad het, het beteken dat hy self nêrens gesukkel het nie.
Maar wag, het ons nie vroeër gesê dat hy Old Man Emu-vering gehad het nie? Ja, dis reg. Dit het 'n reusagtige verskil gemaak. Soveel só dat die 76-stasiewa gemakliker op rowwe paadjies gery het. As ons dit nie self ervaar het nie, sou ons dit nie geglo het nie. Maar dis die heilige waarheid.
Ja, dis soms 'n pyn om die Cruiser in en uit vierwielaandrywing te kry, veral as daai kort ratkierie nie wil beweeg nie. En ja, nou en dan moet jy vinnig met die ratkierie spook omdat hy nie die gerief van 'n outomatiese ratkas het nie.
En ja, in die dikker sandroete by Klipbokkop het die 4,2 liter-diesel alles gedoen wat jy van hom verwag het. Ja, hy is nie die ideale voertuig vir duinry nie. Maar vir sandry - en daar is nogal 'n groot verskil tussen die twee - is hy meer as goed genoeg.
Die G-klas se wielartikulasie agter was goed danksy die kronkelvere. Maar die Old Man Emu-vering het baie gehelp by die Cruiser en as 'n wiel in die lug gehang het, het die ewenaarslot in elk geval die pot aan die kook gehou.
En toe ons terugsit en kopkrap, besef ons die G-klas het nie die 76-stasiewa 'n uitklophou kon gee nie. Dit was hoogstens 'n puntebeslissing oor 12 rondtes.
Hoe ry hulle op die teerpad?
Kyk, nie een van hierdie twee is gemaak om met gemak 1000km per dag op die teer af te lê nie. Die G-klas is raserig, deels danksy sy gebrek aan aërodinamika en andersins danksy sy gebrek aan klankdigtingsmateriaal. Boonop raas die snorkel soos 'n verstopte dreinpyp en die versnellerpedaal se veer is so stram dat ek op die langpad 'n baksteen sal saamry vir snelheidsbeheer.
Die Cruiser ry baie gemakliker en stiller - maar hy raak uitasem van 110 km/h af en as jy bo 120 km/h wil verbysteek, moet jy 'n dag vooruit begin beplan.
Altwee is hoë en swaar rygoed (die Toyota is darem sowat 300kg ligter) wat nie gemaak is vir die stegies van Parys of Milaan nie. Hulle draaisirkels is ook power. Maar dan weer, as draaisirkels vir jou belangriker is as veldryvermoë in dié klas voertuig, moet jy dalk eerder 'n Smart-karretjie kry.
As jy verby die Cruiser se papperige enjin kyk, is hy die gerieflikste langafstandryer van die twee, danksy sy sitplekke, ryposisie, stil(ler) binneruim en geriefstoerusting binnelangs.
Gevolgtrekking
Die G-klas is die effens taaier een. Hy't ook 'n bietjie beter veldryvermoë. Maar om dit te kan benut, moet jy jouself in regtig half waansinnige situasies begeef. En dis nie heeltemal waaroor die meeste reise gaan nie. Dis die soort ryding wat jy vir seker 20 jaar sal kan ry sonder om jou te veel oor sy meganika te bekommer. Dis ook die soort ryding wat ander ouens jaloers sál maak, of hulle dit nou sal erken of nie.
Maar vir net oor die R300 000 minder (met R17 000 se vering ingesluit) is die Land Cruiser 76-stasiewa 'n slimmer kopie - al sal hy nie noodwendig die koppe laat draai soos die G-klas nie.
Gerrie van Eeden sê:
Vir my is die G-klas en Cruiser 76 soos camembert en gouda. Altwee maak 'n gewone tamatietoebroodjie 'n bietjie lekkerder, maar die prysverskil maak gouda 'n gewilder keuse.
Land Cruiser. Onthou dat die Cruiser 'n effense gebiedsvoordeel het omdat dit 'n paar ekstras bygekry het om die rit gemakliker te maak. Dis ook meer gerusstellend om 'n knop te draai om die ewenaarslotte aan te sit as om 'n knoppie te druk en te wag dat die liggie aangaan voordat jy seker kan wees dit werk. 'n Groot voordeel van die Cruiser is dat jy die versneller fyner kan moduleer teen lae enjinsnelhede omdat die Merc se versneller min speling het tussen nul en voet-in-die-hoek. Ongelukkig is die Cruiser so stadig soos 'n donkie op die langpad.
G-klas. My eerste indruk is dat hy rof lyk en reg is vir die veld. As jy die deur toemaak, is daar niks fênsie nie. Alles is daar met 'n doel: om sy werk te doen, en om dit goed te doen. As jy die enjin aan die gang hou en die ewenaarslotte gesluit, kry jy die indruk dat geen berg té steil sal wees nie. Dit was nou wel die intreevlak-model en sy groter boetie sal alles hê vir die gemaksugtige veldryer, maar oor sy vermoë is daar geen twyfel nie. As die camembert maar net soveel soos die gouda gekos het…
Sleutelsyfers:
Land Cruiser 76-stasiewaMercedes-Benz G300 CDI Professional
Enjin: 4 164 cc, in-gelid sessilinder2 987 cc, V6-turbodiesel
Krag: 96 kW @ 3 800 r/min.135 kW @ 3800 r/min.
Wringkrag: 285 Nm @ 2200 r/min.400 Nm @ 1600-2600 r/mmin.
Topsnelheid: 150 km/h160 km/h
0-100km/h: 15,6 sek.9,1 sek.
Transmissie: 5-gang handrat, deeltydse 4×4, hoë- en laestrek, drie ewenaarslotte
5-gang outo, heeltydse vierwielaandrywing, hoë en laestrek, drie ewenaarslotte
Vering: Vaste aste, kronkelvere voor; bladvere agterVaste aste, kronkelvere
Remme: Geventileerde skywe voor; trommels agter Geventileerde skywe voor; trommels agter
Bande: 265/70 R16C225/75 R16
Grondvryhoogte: 230 mm213 mm
Naderingshoek: 35º36º
Vertrekhoek: 23º31º
Dompeldiepte:700mm600mm
Voertuigmassa: 2 180 kg2 510 kg
Brandstoftenk: 180 liter96 liter
Brandstofverbruik: 13,1 liter/100 km11,7 liter/100 km (gekombineerde siklus)
Waarborg: 3 jaar/100 000km (geen diensplan) 2 jaar/onbeperkte afstand (diensplan opsioneel)
Diensinterval: 5 000km20 000km/1 jaar
Prys: R480 000 (plus R17 000 se Old Man Emu-vering)
R773 990 (plus R23 750 vir opsionele MobiloDrive-diensplan)
WegRy sê:
Die Cruiser 76 is dalk nie so sexy soos die G-klas nie, maar hy bied 95% van die G-klas se veldryvermoë - en soms oortref hy hom, veral wat gerief en toerusting binnelangs betref - vir 62% van sy prys.












