Theo Coetzee, ’n ingenieur van Kaapstad, ry al langer as 11 jaar en 400 000 km met Isuzu-bakkies. Ons het hom gevra om sy indrukke van Isuzu se 2008 KB 300 Extended Cab.Theo se eerste Isuzu was ’n 1994 KB 280 DT 4x2-dubbelkajuit waarmee hy 11 jaar lank gery het. Op 396 000 km het hy hom verkoop (dié bakkie ry nog, sonder probleme, tans op 426 000 km) en ’n 2006 KB 300 LX 4x4-dubbelkajuit aangeskaf.Waarvan hou jy van jou KB 300?Die rygemak: Van 140 km/h op ’n teerpad (of selfs vinniger …) tot 4x4 oor regtig rowwe terrein is geen probleem nie; jy klim net in en ry. Nog ’n pluspunt is die eenvoudige, praktiese uitleg binne.En waarvan hou jy nie? Behalwe dat dit nie agterste bekerhouers het nie, sit die voorste bekerhouers op ’n slegte plek – agter die rathefboom, half onder die instrumentpaneel – wat dit moeilik maak om daar uit te kom.Boonop is die plek bokant die houer te kort om ’n langer houer soos ’n Coke-bottel in te sit, en die houer se gat vergader stof.Die elektriese venster aan die bestuurderskant maak outomaties heeltemal oop as jy die knoppie net een keer druk, maar om die venster te laat opgaan, moet jy die knoppie heeltyd vas-hou. As jy dus in die parkeer-garage van ’n winkelsentrum inry en probeer draai terwyl jy ook probeer om die venster toe te maak, is dit ongemaklik.Die gladde donker materiaal waarmee die binneruim en sitplekke oorgetrek is, wys stof en vuil merke baie vinnig en is moeilik om skoon te hou. My ou Isuzu het vaal grys-bruin bekleding gehad wat stof nie so maklik gewys het nie.Jou eerste indrukke van die nuwe bakkie? Indrukwekkend.
- In die geheel is dit ’n mooi bakkie wat selfs my buurman laat oorstap het om dit van nader te bekyk.
- Die sierrooster en voorste ligte lyk modern.
- Die kragbult op die enjinkap is ’n bietjie te veel na my sin.
- Die groter vensters van die verlengde deel pas goed in by die ontwerp.
Binne-in?Dis duidelik dat die binnekant nog die ouer model s’n is – dis net ’n bietjie opgedollie:
- Die spoed- en afstandmeter is nuut gemaak en lyk baie modern.
- Daar is meer funksies op die ritmeter waarmee jy lekker kan speel, bv. die gemiddelde dieselverbruik, buite-temperatuur, ens.
- Die radio is verbeter en baie meer gebruiksvriendelik.
- Die res van die paneelbord, bv. die ventilasiegate en die lugverkoeling se knoppe, is nou silwer. Dit lyk meer modern, maar die funksie is dieselfde as die vorige model.
- Die sitplekke is oorgetrek met ’n nuwe materiaal, wat dit goed laat pas by die moderner kajuit. Hopelik wys dit vuilheid minder as die vorige model.
En die nuwe D-TEQ-enjin? Hier’s waar die werklike verandering gemaak is. Die nuwe 3 liter-enjin (’n turbodiesel met drukbuisinspuiting) is kragtiger (120 kW @ 3 600 r.p.m. en 360 Nm @ 1 800-2 800 r.p.m.) as die vorige 3 liter en ’n absolute plesier om te ry.Kraglewering is egalig oor die hele enjinrevolusiespektrum. Verbysteek en versnelling op die snelweg is ’n droom (nie dat die vorige model ’n probleem hiermee het nie).Die ekstra krag gee ’n sportiewe gevoel aan die bakkie, en dis amper asof ’n mens nou kan begin kans sien vir ’n opgewarmde Golfie by ’n verkeerslig.Onderlangs?Die model waarmee ek gery het, is ’n 4x2 met ’n ewenaarslot, maar die bakkie het die stukkie grondpad wat ek gery het, gemaklik hanteer. Sy grondvryhoogte maak dat die meeste klein versperrings met gemak oorkom kan word.Waarvan hou jy?
- Die nuwe kragtiger enjin.
- Die laaibak is lekker groot (138 cm x 146 cm x 48 cm) – dit sou lekker wees as my dubbel-kajuit só ’n lang bak kon hê.
- Die plek agter die sitplekke, hoewel die vragbokse moeilik bereikbaar is (jy moet die sitplekke vorentoe skuif of platslaan om ordentlik by die bokse uit te kom).
En waarvan hou jy nie?Die probleme wat ek met die vorige model het, slaan weer deur: die bekerhouers is op dieselfde plek, en die elektriese vensters maak steeds nie outomaties toe nie.Wat sal jy wou verander?Die vragbokse agter die sitplekke is te hoog, en boonop is daar versmorste plek tussenin. Een laer vollengte boks sou miskien makliker gewerk het. ’n Sit-oppervlak vir daardie noodgeval wanneer ’n derde persoon móét saamry, sou ook lekker gewees het.Hoe vergelyk die D-TEQ met jou bakkie?Die nuwe een is meer sportief en modern, en dit versnel beter, maar dis miskien ’n bietjie meer raserig binne-in die kajuit. Die rygerief van albei is maar dieselfde.Persoonlik verkies ek die ouer een se meer “bedeesde” binnekant.Sal jy een koop?Was ek ’n paar jaar jonger, sonder kinders (en miskien ook sonder ’n vrou) sou die bakkie beslis bo-aan my lysie gewees het. Dit het genoeg plek vir ’n bergfiets, branderski en watter ander speelgoed ek ook al as alleenloper sou wou rondry.As ek kon, sou ek die nuwe 3 liter-dubbelkajuit gekoop het (dit gaan maar moeilik wees om sonder daardie ekstra krag weer met my eie bakkie oor die weg te kom).’n Laaste woord?Dis ’n gerieflike bakkie met baie krag en baie styl wat goed afgerond is. Die laaibak het genoeg plek vir daaglikse gebruik, buiten as jy ’n boer of bouer is.Wat Theo nie genoem het nie.Die KB 300 D-TEQ 4x2 Exten-ded Cab het ook lugsakke vir die bestuurder én passasier, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, spoed-beheer, ’n brandstofverbruik- en buite-temperatuurmeter, ’n verstelbare stuurkolom, en ’n radio-CD-speler met MP3-versoenbaarheid.Braaivleisfeit:Die Isuzu-handelsnaam is in 1949 ontleen aan die Isuzu-rivier wat verby die Isa-tempel, die oudste in Japan, vloei.Bl 2: Die feiteDIE FEITEGOED, HOEVEEL?
- Vloerprys: R236 000
- Diensplan: 5 jaar/90 000 km
- Waarborg: 3 jaar/100 000 km
GEE MY KRAG!
- Enjin: 3 liter-turbodiesel met drukbuisinspuiting
- Ratkas: 5-spoed-handratkas
- Krag: 120 kW @ 3 600 r.p.m.
- Wringkrag: 360 Nm @ 1 800-2 800 r.p.m.
HOE VINNIG, HOE DORS?
- 0-100 km/h: 11,5 sek
- Topspoed: 151,5 km/h
- Brandstofverbruik: 10,16 liter/100 km
- Brandstoftenk: 76 liter
ONDERKANT?
- Vering: Wringstawe voor, bladvere agter
- Remme: Geventileerde skyf-remme voor, trommels agter
HOE GROOT?
- Wiele/bande: 16 duim-allooiwiele; 245/70R16C-bande
- L./B./H.: 515 cm; 180 cm; 174 cm
HOE SWAAR?
- Gewig: 2 800 kg
- Maks. sleepgewig: 750-950 kg
HOE BEKWAAM?
- Naderingshoek: 36 °
- Vertrekhoek: 21 °
- Grondvryhoogte: g> 20,6 cm
MEDEDINGERS? Ford Ranger 3.0TDCi XLT 4x2 Super Cab (R242 000). Ford en Isuzu is tans die enigste vervaardigers wat kajuit-en-’n-half-modelle het.VIR? Die nuwe enjin is ’n groot verbetering op Isuzu se ouer 3 liter-enjins. Dis ook die eerste keer dat Isuzu sy hand waag aan ’n kajuit-en-’n-half-model.TEEN? Dis jammer die Isuzu het nie, soos Ford, deurtjies wat toegang tot die pakplek agter die sitplekke vergemaklik nie.












