Party mense sou sê die huidige Pathfinder begin nou lank in die tand raak. Maar Nissan het pas ’n paar veranderinge aangebring. Albertus van Wyk het ’n paar draaie gegooi. In ’n neutedop:Ek het onlangs ’n week lank in die Laeveld rondgery in Nissan se opgeknapte Pathfinder. Die grootste verbetering is dat die ou 2,5 liter-dieselenjin meer woema gekry het – om presies te wees, hy’s 12 kW warmer gemaak tot ’n heel gawe 140 kW.Nes vier jaar gelede toe die Pathfinder nog nuut was, het ek nou weer oor presies dieselfde ding gewonder: Hoekom is die Toyota Prado ’n bekende naam en die Nissan Pathfinder nie? Sy kleinboet, die X-Trail is immers ’n volksheld.Die Pathfinder tref jou as die ideale middeweg tussen veldryvaardigheid en langpadgemak. Hy’s nou nie ’n Land Cruiser op die klippe en sand nie, maar met ’n leerraamonderstel, hope wringkrag, behoorlike grondvryhoogte, laestrekratte en vastrapbeheer wat werk, is daar min 4x4-roetes wat jy nie daarmee sal kan baasraak nie.Op die langpad (veral op grondpaaie) ry hy so gemaklik en moeiteloos soos voertuie wat ’n paar honderdduisend meer kos.En jy kry ’n puik dieselverbruik as jy hom rondom 120 km/h hou – sowat 9 liter per 100 km. Boonop voel die binneruim net so groot soos dié van die Prado.’n Mens het wel destyds gewonder of die turbo-aangejaagde 2,5 liter-dieselenjin nie dalk ’n kilowatt of vyf te lig in die broek was vir die groot lyf nie. Wel, met die nuwe masjien se 140 kW en 450 Nm is die Pathfinder en sy enjin nou in volmaakte balans.En as jy ’n bietjie verder krap:Jy sal die kosmetiese veranderinge aan die bak en buffer net agterkom as jy die Pathfinder uiters goed ken.Maar die byvoeging van die sogenaamde Nissan Premium Infotainment System – ’n lang naam vir ’n geïntegreerde GPS-stelsel, ’n Bluetooth-stelsel vir jou foon, ’n klankstelsel met plek vir al die musiek wat jy besit (9,3 GG) en ’n kamera wat jou help om agteruit te ry – is ’n reusagtige verbetering.Sleutelsyfers:Enjin:2 488 cc,in-gelid viersilinder;140 kW @ 4 000 r.p.m.450 Nm @ 2 000 r.p.m.Transmissie:sesganghandrat of vyfgangoutomaties,deeltydse vierwielaandrywing;hoë- en laestrekratte;vastrapbeheer.Verrigting:0-100 km/h in 11 sek;186 km/h topsnelheid;8,5 liter/100 km.Veldsyfers: 23,2 cm-grondvryhoogte;30 º-naderingshoek;26 º-vertrekhoek;255/65 R17-bande;80 liter-dieseltenk;2 880 kgPrys:R518 600 (handrat) enR533 300 (outomaties)ONS HOU VAN:1. Die dieselenjin is wakker, sterk en vinnig.2. Dis lekker om jou iPod net by die Infotainment-stelsel in te prop en van die groot raakskerm op die paneelbord te kan beheer.3. Dit voel ruim binne en die agterste sitplekke slaan maklik op en af.... MAAR DÍT PLA:1. As jy van die grootpad gaan afdwaal, hou maar jou Garmin met Tracks4Africa se kaarte byderhand. Die ingeboude GPS-stelsel herken nie eens die dorpnaam Roossenekal nie.2. By die handratmodel vat dit ’n ruk om aan die turbotraagheid gewoond te raak. Dit voel of iemand ’n mat onder jou uitpluk soos die turbo ’n halfsekonde nadat jy weggetrek het, inskop.MEDEDINGERS:Toyota Prado, Land Rover Discovery, Land Rover Freelander, Mitsubishi Pajero
Oorspronklik gepubliseer in WR#20 | Augustus-September 2010












