Motors

Nissan X-Trail 2008

Is die nuwe X-Trail nog dieselfde waarde-vir-geld-produk as waaraan ons gewoond geraak het? vra Barnie Louw.Die Spur se gewildheid is grootliks te danke aan twee dinge: Jy weet presies wat om te verwag, én jy kry waarde vir geld (ja oukei, die salad valley kan ook een van die redes wees).Maar gaan dit nog waar wees as daar skielik dinge soos “Blanquette de veau”, “Caillette de Pierrelatte et du var” en “Courgettes aux Câpres” op sy spyskaart verskyn?En onthou, die “Croûte Raphaëloises” en “Pâtes aux coquillages” is veel duurder as die surf ’n turf, die slakke in knoffelsous of die 600 g-rib-special waaraan jy gewoond is.Net omdat daar fênsie en nuwe goed op die spyskaart is, gaan dit jou eetervaring noodwendig beter maak? En belangriker nog, gaan jy nog waarde vir jou geld kry?In restaurant-taal was die ou X-Trail (waarvan 15 000 al in Suid-Afrika verkoop is) ’n Spur-burger met uieringe, tjips en ’n Coke. Op die man af. Eerlik. Sonder fieterjasies. Waarde vir geld. Betroubaar.Daarenteen is die nuwe X-Trail volgestop met die mega-niese ekwivalent van “Tourte aux moules de Médi-terranée” en “Soupe de pois-sons du Cros-de-Cagnes”: ’n elektronies beheerde 4x4-dryfstelsel, helling-wegtrekhulp, helling-afdraandebeheer, elektroniese remkragverdeling, remhulp, aktiewe rembeperkte vastrap, om net ’n paar goed te noem.Die vorige X-Trail was die afgelope vier jaar die topverkoper kompakte sportnutsvoertuig (SNV) in Suid-Afrika, m.a.w. die ouens by Nissan het geweet wat hulle doen.Die vraag is: Gaan die nuwe een ’n waardige opvolger vol-gens dieselfde tradisie wees?Eers die detailKies een.Die nuwe X-Trail is aanvanklik as vyf modelle met petrolenjins beskikbaar (nog vyf dieselweergawes volg in September). Die intreevlak-XE-model is ’n voorwielaangedrewe 2 liter, terwyl die middelvlak-SE- en topvlak-LE-model ’n 2,5 liter-4x4 is. Laasgenoemde twee is ook beskikbaar met palwisseltransmissie (CVT).Die vere maak nie die voël nie. Op die oog af lyk die nuwe X-Trail nie veel anders nie – miskien ietwat meer hoekig.Maar moenie dat dit jou om die bos lei nie. Die X-Trail is ’n heeltemal herontwerpte pakket: dit het ’n ander onderstel, beter veldryvermoë, beter verrigting, groter en luukser binneruim, en heelwat slimmer tegnologie.Wroem-wroem.Die splinter-nuwe tweeliter-viersilinder-enjin skop 102 kW en 198 Nm uit, terwyl die 2,5 liter-enjin (’n verbeterde weergawe van die vorige model) 125 kW en 226 Nm lewer.Die nuwe 2,5 liter-enjin gooi ietwat minder kole as die vorige model se 132 kW en 245 Nm, maar dis nie ’n goed genoeg rede vir ’n plakkaatbetoging by jou naaste Nissan-handelaar nie. Eerstens gaan jy dit nie sommer agterkom nie, en tweedens brand die verbeterde enjin skoner en meer doeltreffend.En hoe veilig is hy?Hoe klink ses lugsakke, waaronder lugsakke vir die bestuurder én voorste passasier, sowel as borskas-lugsakke en vollengte lugsakgordyne weerskante?Nou vir die groot goedNet een knop.Die hart van die nuwe X-Trail se 4x4-modelle is sy elektroniese All Mode-4x4-dryfstelsel: Met net die draai van ’n knop kan jy, afhangende van die rytoestande, kies tussen drie verstellings: 2WD, Auto of Lock.’n Elektronies beheerde koppeling verdeel dan die nodige hoeveelheid wringkrag na die wiele, in ooreenstemming met die verstelling wat jy gekies het.Op Auto gestel verplaas ’n rekenaar outomaties krag na die agterste wiele as hy agterkom daar is wieltol. Op Lock sluit die middelewenaar sodat die voertuig heeltydse aandrywing deur al vier wiele het.Lock en Auto kan teen enige spoed geaktiveer word, maar Lock werk net as jy stadiger as 30 km/h ry.Die topmodelle is toegerus met die All Mode-4x4-i-stelsel (die “i” staan vir intelligent). Dit het onder meer ekstra goed soos helling-wegtrekhulp en helling-afdraandebeheer.Maar dis nie al truuks van die X-Trail nie. Daar is ook die dinamiese beheerstelsel (VDC) wat inskop as jy begin gly, en aktiewe rembeperkte vastrap (ABLS) wat die ABS as ewenaarslot gebruik en krag herverdeel as ’n wiel vastrap verloor.Koppel aan al dié tegnologie en elektronika die X-Trail se oukeierige invals- en vertrekhoek en grondvryhoogte, en jy sit met ’n baie bekwame veldryer.Maar voor jy die Bobbejaans-pas gaan aandurf, onthou, dis bekwaam maar sag (geen lae-strekratkas of ewenaarslotte nie).Laai maar in. As die X-Trail se elektroniese dryfstelsel sy hart is, dan is die binneruim sy siel – en dis sommer ’n ruim siel. Met die sitplekke in die gewone posisie het die nuwe X-Trail 603 liter pakplek in sy laairuim – 193 liter (of omtrent die grootte van ’n middelslag-yskas) meer as die vorige model.Die rede? Die nuwe X-Trail is teen 436 cm lank 17,5 cm langer as die ou model.Nie net het dit meer pakplek nie, die ouens by Nissan het ook met ’n paar oulike pakplekplanne vorendag gekom, soos ’n slim dubbeldekker-laairuim met ’n skuiflaai onder die vloer wat jy kan gebruik om waardevolle goed buite sig te bêre.Die vloer en die laai kan ook heeltemal uitgehaal word om die laairuim nog groter te maak. Jy kan die vloer was én die oppervlak het riffels wat keer dat goed rondskuif. En as jy nóg meer plek nodig het, kan die agtersitplekke heeltemal platvou.Behalwe dié senior pakplek het die X-Trail ook talle ander kleiner pakplekke, soos ’n groot en diep paneelkissie op die voorpaneel wat groot genoegis vir tien CD’s, en ses bekerhouers regdeur die kajuit.Maar die opvallendste ver-skil tussen die vorige X-Trail en die nuwe een is waarskynlik dat die instrumentpaneel nou weer agter die stuurwiel is en nie meer in die middel van die voorpaneel nie.Laastens …Is die nuwe X-Trail dus beter as sy Spurburger-voorganger? Is dit nou ’n gourmet-burger met ekstra kaviaar en garnale?Beslis. In die meeste opsigte is dit ’n groot verbetering op die vorige model, maar die arms vol nuwe tegnologie en verbeterings kom teen ’n gourmet-prys, en ’n mens kry die indruk dat die waarde-vir-geld-etiket nie meer heeltemal van toepassing is nie.Aan die ander kant: Ja, jy betaal meer (sowat R60 000 meer vir die topmodel), maar jy kry soveel meer – ’n opgeknapte binnekant, meer gebruiks-vriendelike plek, en onder die enjinkap het jy waarskynlik alles wat jy in ’n SNV nodig het.Braaivleisfeit: Die X-Trail is gebou op dieselfde onderstel as die Qashqai.* Nissan SA het betaal vir die reis- en verblyfkoste vir die X-Trail se bekendstelling.Bl 2: Die feiteDIE FEITEGOED, HOEVEEL?

  • Vloerprys: R255 600 (2.0 XE)-R368 100 (2.5 LE)
  • Diensplan: 3 jaar/90 000 km
  • Waarborg: 3 jaar/100 000 km

GEE MY KRAG!

  • Enjin: 2 liter- of 2,5 liter-petrolenjin
  • Ratkas: Sesgang-handratkas, met die keuse van ’n palwisseltransmissie (CVT) in die 2,5 liter-model.
  • Krag:102-125 kW @ 5 200-6 000 r.p.m.
  • Wringkrag: 198-226 Nm @ 4 400 r.p.m.

HOE VINNIG, HOE DORS?

  • 0-100 km/h: Nie beskikbaar
  • Topspoed: 182-191 km/h
  • Brandstofverbruik: 8,7-9,6 liter/100 km
  • Brandstoftenk: 65 liter

ONDERKANT?

  • Vering: Stutvering voor; ’n veelskakelstelsel agter
  • Remme: Skywe reg rondom

HOE GROOT?

  • Wiele/bande: 215/65 R16; 215/60 R17
  • L./B./H.: 436 cm; 178,5 cm; 177 cm

HOE SWAAR?

  • Gewig: 1 900-2 100 kg
  • Maks. sleepgewig: 750 kg (on-gerem); 1 500-2 000 kg (gerem)

HOE BEKWAAM?

  • Naderingshoek: 28 °
  • Vertrekhoek: 24 °
  • Grondvryhoogte: 20,3 cm

MEDEDINGERS?

  • Honda CRV (R286 000-R338 000);
  • Chevrolet Captiva (R249 000-R336 000);
  • Toyota RAV4 (R283 000-R340 000);
  • Land Rover Freelander 2 (R339 000-R429 000);
  • Mitsubishi Outlander (R229 000);
  • Hyundai Tucson (R222 000-R278 000)

VIR? Dis ’n ruim, praktiese en veelsydige SNV met goeie veldryvermoë, ideaal vir pendel, naweek-uitstappies én iets meer avontuurliks.TEEN? Die prys kan dalk net geharde X-Trail-ondersteuners afskrik.Oorspronklik gepubliseer in WegRy #7 | Junie - Julie 2008

Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM