Motors

Nissan X-Trail

Sedert die eerste modelle het die X-Trail deftiger geword - en dit geld vir sy prys ook. En dis jammer, want daai eerste modelle was 'n goeie balans tussen prys en waarde. Die jongstes is eerder 'n goeie balans tussen gerief en veldryvermoë.

Onder die enjinkap

Hy's groter om die lyf, maar gebruik steeds 'n ouerige staatmaker 2 liter-turbodiesel met so-so verrigting. Gelukkig is hy nie heeltemal pap in die kuite nie, want sy outomatiese ratkas het 'n laaang sesde rat vir die langpad, en die eerste paar ratte is lekker kort.

Binnelangs

Buiten dat hy baie soberder en deftiger is as die eerste modelle, is die instrumente alles reg voor jou, die stuurwiel kan vir reik en hoogte verstel, en die ritrekenaar het 'n magdom funksies (wat dalk nie almal nodig is nie).

Buite

Groter (in die heup én lengte) beteken ongelukkig dat sy lyne dalk nie meer so geslaagd is soos die vorige modelle nie.

In die veld

Hy's ewe tuis op 'n teerpad as op 'n veldpaadjie. Die blikbrein beheer grotendeels die 4×4-stelsel; dus is hy meestal in voorwielaandrywing, maar as daar wieltol is, sal krag ook agterwiele toe gestuur word. Jy kan hom ook self in 4×4-modus sit.

Dis die klein dingetjies

Die bekerhouers sowel as paneelkissie kan verkoel of verhit word, en hy het dubbele uittreklaaitjies onder die laairuimvloer sodat jy los goed kan wegsteek van nuuskierige oë.

Vir

Die X-Trail is gewild; dus is herverkoop nie veel van 'n kopseer nie. Met sy slim 4×4-stelsel kan jy met die draai van 'n knop self kies of jy in tweewiel- of vierwielmodus wil ry. O ja, Bluetooth is deel van die pakket.

Teen

Voorkoms is 'n subjektiewe ding, maar sjoe, lyk hy nie nou amper lomp op sy wiele nie? Die ou element van prettigheid is ook grotendeels op die agtergrond geskuif. En as jy handratte wil hê, sal jy met 4×2-aandrywing tevrede moet wees.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM