In ’n neutedop:
Hoewel hy nie die soort hardebaard was waarmee jy Van Zylspas voor teetyd kafgedraf het nie, was die vorige Kia Sorento met sy laestrekratkas en leerraamonderstel nogal ’n onderskatte 4x4. Trouens, as jy versigtig was, kon jy maklik graad 3-roetes met hom gery het.
Die nuwe Sorento is helaas ’n perd van ’n ander kleur. Weg is die laestrekratte en leerraamonderstel. In die plek daarvan is ’n sagte veldryer wat meer gemeen het met ’n BMW X3 of Audi Q3 as met sy voorganger. En die Duitse vergelyking is meer as toevallig, aangesien dié buitengewoon aantreklike ontwerp van alle nuwe Kias te danke is aan Peter Schreyer, die puik Duitse ontwerper wat ook verantwoordelik was vir die ontwerp van die eerste Audi TT.
Binnelangs:
Jy’t nog skaars gewoond geraak aan die Sorento se futuristiese bakwerk, dan maak jy die bestuurder se deur oop en loop jou in sy binneruim vas. Wat gaan hier aan? Kan dit ’n Koreaanse ryding wees? Hmm, hoekom kan ek nie nou aan ’n grappie dink nie? Want die vet weet, dis ’n mooi ryding.
Die swart leersitplekke is baie gerieflik en laat jou wonder of jy nie dalk in ’n Duitse motor sit nie (daar’s dit weer). Die binne¬kant is effens groter as ’n mededinger soos die Chevrolet Captiva (ons het toevallig een byderhand gehad), en nes die Chev het die topmodel-EX ook ’n derde ry sitplekke. Beskou laasgenoemde egter as iets vir klein kinders op pad skool toe.
Die instrumentepaneel is volledig en Kia kry volpunte daarvoor dat hy hom nie vol blink stroke geplak het om vir Asiatiese smake te voorsien nie. Die knoppies en hefbome is maklik om uit te pluis en hier is twee 12 V-sokke voorlangs sodat jy jou GPS en haar¬droër gelyk kan gebruik.
Die bêreruim tussen die twee voorsitplekke is baie groot en die enigste ding wat my laat kopkrap het, was hoe om die handrem los te maak. Totdat ek agtergekom het dis ’n voetpedaal soos ’n Merc s’n. Is dít ook toevallig Duits?
Met die topmodel se agterste ry sitplekke weggevou, is daar oorgenoeg pakruimte agter oor vir die meeste gesinsvakansies. En gepraat van gesinsvervoer – die Sorento het nie net ses lugsakke en elektroniese stabiliteitsbeheer nie, maar het ook die volle vyf sterre behaal in die Europese NCAP-botstoetse. Dit kan nie beter nie.
Onder die vel:
Die toetsmodel het die 2,2 liter-turbodiesel gehad en hoewel hy kleiner is as die vorige model Sorento se 2,5 liter-enjin, is hy meer verfyn en ontwikkel hy 147 kW krag en 436 Nm wringkrag. Dis oorgenoeg woema vir die meeste mense. Om te dink ’n paar jaar gelede het mense gedink die Colt 2.8Tdi se 92 kW is “nogal kragtig” …
Die outomatiese dieselmodel het ses ratte wat, as jy regtig wil, met die hand oorgeskakel kan word en die verhoudings is goed gespasieer. Tot redelik onlangs het party vervaardigers gesukkel om outomatiese ratkaste glad te laat saamwerk met turbodiesels se unieke kraglewering, maar in die Sorento loop dit so harmonieus saam soos kan kom.
Nog ’n interessante feit oor dié ratkas is dat Kia/Hyundai slegs die derde vervaardiger is naas Toyota en ’n gesamentlike Ford/GM-projek wat sy eie sesgang-outokas ontwerp en bou.
Hy deel ook ’n onderstel met die Hyundai Santa Fe (Kia en Hyundai is sustermaatskappye). Soos met soveel ander “sagte” veldryvoertuie is die Sorento voorwielaangedrewe onder normale omstandighede. Indien die voorwiele sou tol, word krag outomaties na die agterwiele gestuur. Sou jy egter ekstra greep wou hê op ’n nat kleipad, kan jy die krag “sluit” in ’n 50:50-verhouding tussen voor- en agterwiele.
Só ry hy:Op die pad:
Goed, dis geen verrassing dat hy stukke beter hanteer op die teerpad as sy voorganger nie, deels danksy die buisromponderstel wat die ou Sorento se leerraamonderstel vervang het (dit beteken die bak en onderstel is een ding, in plaas van ’n onderstel met ’n “los” bak bo-op gemonteer).
Sy vering, bande en meganika is dié van ’n geslag later se rygoed en daarom draai en rem hy skerper, en voel meer soos ’n motor as ’n veldryer.
In die veld:
Bogenoemde beteken egter dat hy veldryvaardighede ingeboet het. Ons het hom op ’n steil en kronkelende tweespoorpaadjie getoets en hoewel hy dit baasgeraak het, het dit met sy grondvryhoogte van 18,4 cm mooiry gekos om niks te laat skraap nie.
Boonop is sy bande gemik op winkelsentrumsafari’s eerder as veldry-avonture, en indien ons ’n modderigheid sou teëkom, sou ons groot probleme gehad het.
Die punt is dat die Sorento op niks meer as ’n grondpad gebruik moet word nie, of dalk selfs nog op ’n tweespoorpaadjie na jou Bosveldplaas se opstal of jou neef se Bolandse wynplasie.
Dié soort rygoed maak sin in Europa waar hulle gebruik word vir ysige en sneeubedekte teerpaaie. Dis waarvoor hulle nog altyd gebou was. Die ontwerpers het waarskynlik nog nooit eens gehoor van iets soos ’n kameeldoringvuur nie. Maak dus maar vrede daarmee.
En die gevolgtrekking?
Die Sorento is deel van Kia se volgende hoofstuk – dié van ’n groot speler wat gevorderde en begeerlike rygoed bou. Dit verteenwoordig ook die afsluiting van die vorige hoofstuk – dié waarin hulle nog veldryvoertuie gebou het. Dis ’n mooi ryding. Maar hou hom eerder weg van die stof.
Sleutelsyfers:
Enjin: 2 199 cc, in-gelid viersilinder, turbodiesel
Krag: 146 kW @ 3 800 r.p.m.
Wringkrag: 420 Nm @ 1 800-2 500 r.p.m.
Topsnelheid: 190 km/h
0-100 km/h: 10 sek.
Transmissie:
6-gang outomaties, deeltydse, outomatiese vierwielaandrywing, sluitbare middelste ewenaar
Vering:
McPherson-stutte voor; veelskakel, onafhank¬like vering met kronkelvere agter
Remme:
Voor – geventileerde skywe;
agter – soliede skywe
Bande: 235/60 R18
Grondvryhoogte: 18,4 cm
Naderingshoek: 25,1 º
Vertrekhoek: 23,1 º
Voertuigmassa: 1 810 kg
Brandstoftenk: 70 liter
Brandstofverbruik: 7,4 liter/100 km (gekombineerde siklus)
Koolstofvrystelling: 194 g/km (gekombineerde siklus – Europese toetsing)
Waarborg; 5 jaar/100 000 km;
Diensplan: 5 jaar/100 000 km
Diensinterval: 20 000 km
Prys: R399 995
ONS HOU VAN …
•
Jis, maar dis ’n mooi wa!
•
Die enjin het oorgenoeg “oemf” vir ’n ryding soos dié.
•
Die binnekant is modern, sonder om jou ’n migraine te gee.
JA, MAAR …
•
Ai, maar waar is die veldryvermoëns?
•
Mense gaan jou heeltyd in parkeerterreine voorkeer om oor sy voorkoms te gesels.
MEDEDINGERS
Hyundai Santa Fe 2.2 CRDi – R419 900;
Chev Captiva 2.0 VCDi LTZ – R404 850;
VW Tiguan 2.0 TDI Tiptronic – R399 000
WEGRY SÊ: Dis ’n pragtige ryding en Kia gaan baie van hulle verkoop – in groot stede.












