Motors

Subaru Forester 2.0 D Premium

Die Subaru Forester is nou ook te kry met 'n turbodiesel. Jaco Kirsten het hom van nader bekyk en glo dis 'n beter keuse as die effens groter Subaru Outback-turbodiesel.

​Wat maak 'n Forester uniek?

Nes enige ander Subaru het hy 'n bokserenjin en heeltydse vierwielaandrywing. Die Forester is die kleinste Subaru-stasiewa en die vorige modelle het 'n groot aanhang verwerf onder diegene wat nie 'n groot swaar 4×4 wil ry nie maar tog nou en dan slegte (en selfs beroerde) paaie wil aandurf.

In Australië is die Forester die topverkoper in die mark vir "kompakte sportnutsvoertuie", die bedryf se woord vir "kleinerige 4×4-stasiewaens".

Wat onderskei hierdie Forester van ander Subaru's?

Wel, hy't 'n dieselenjin - dieselfde enjin wat 'n paar maande gelede vir die eerste keer in die groter Outback-stasiewa gebruik is.

Die 110 kW krag en 350 Nm wringkrag is glad nie sleg nie, maar met die Outback moes jy maar gereeld laer ratte gesoek het as jy wou verbysteek. En die turbotraagheid onder 1500 r/min was nogal hinderlik.

In die Forester pla dit minder, dalk omdat dit 'n ligter voertuig is. Maar dis steeds daar. Jy moet maar nog steeds woeker met die sesganghandratkas om hom in sy sweet spot te hou.

Doen jy dít, dan versnel hy baie lekker, dankie. Die enjin galop moeiteloos teen snelhede van 150 km/h en in ons toestande wil jy nie eintlik vinniger ry nie.

Dan is daar die verrassende brandstofverbruik. Kyk, as jy 'n vierwielaangedrewe stasiewa trap dat hy hik en die verbruik op die oop pad is steeds in die koers van 8 liter per 100km (12,5 km/liter), dan kla jy nie. Met die 60 liter-tenk kyk jy dus na meer as 700 km tussen pompe - dis twee keer verder as Steve Hofmeyr.

Hoe ry hy?

Die Forester is effens platter as die ander stasiewaentjies in sy klas, en dit doen wondere vir sy hantering. Waar die Toyota RAV4 of Nissan X-Trail lekker begin oorleun as jy hom hard in 'n draai druk, is die Forester stewig geplant.

Op slegte paaie staan hy nie 'n duim terug vir enige ander klein sagte veldryers nie - dis omtrent net die uitstekende Freelander wat by hom kers vashou.

Een van die Forester se voordele is dat hy permanent vierwielaangedrewe is, anders as sommige van sy mededingers wat eintlik via die voorwiele aandryf en krag agtertoe stuur wanneer die voorwiele begin tol. Ja, goed, baie van sy mededingers se kraglewering kan in 'n 50:50-verhouding tussen voor- en agterwiele "gesluit" word, maar met die Subaru konsentreer jy eerder op die naweek se Superrugby omdat alles vanself gebeur.

Boonop "sluit" die middelste beperkte-gly-ewenaar outomaties (nie 100% nie, maar darem) as die voor- of agterwiele begin tol.

Die Premium-model wat ons getoets het, het 17-duim vellings teenoor die gewone Forester Diesel, wat 16 duim-vellings het. Die Premium is duurder en het klein ekstras soos 'n dakrak, maar ek sou eerder die gewone model koop omdat sy vellinggrootte jou 'n groter keuse van robuuste veldrybande gee.

Met die 215mm-grondvryhoogte, vierwielaandrywing en die regte bande behoort jy enige plek te kan ry waar jy nie beslis laestrekratte moet hê nie. Die Australiërs is lief daarvoor om die vorige model Forester se vering te lig en groter bande op te sit, en dan vang hulle ongelooflike dinge met die Forrie aan.

Die nuwe Forester is amper te mooi om bos toe te vat, maar daar is geen rede hoekom jy nie die Sanipas daarmee kan ry nie.

En hoe lyk hy binnelangs?

Nogal mooi en verbasend bedees vir 'n Japannese ryding - daai "Christmas with Boney M"-atmosfeer is glad nie binnelangs te bespeur is nie. Dis nou totdat jy aan van die plastiek begin vat. Dis maar hard en onbuigbaar.

Een van die nuttige stukkies toerusting is die trugemonteerde kamera wat op die klankstelsel se vertoonskerm wys wat agter jou aangaan sodra jy trurat kies. Dis ál meer algemeen in nuwe motors en as jy eers gewoond is daaraan (dit vat jou 'n dag of twee om hom te "vertrou") raak jy amper paranoïes om sonder die kamera te reverse.

Die leerbekleedsel van die toetsmodel was 'n netjiese swart en, anders as wat jy dalk mag dink, is swart 'n baie praktiese kleur in helder sonlig omdat dit nie lig weerkaats nie. As jy uit 'n ryding met 'n swart binneruim klim en jou sit kry in iets met 'n roomkleurige afwerking, sal jy verstaan.

Die agterste passasiers het genoeg beenruimte vir grootmense en 'n dubbele bekerhouer vou uit die middelste sitplek. Maar dié sitplek is net groot genoeg vir 'n sirkusdwerg. Nes die meeste ander moderne stasiewaens kan die rugleuning van die agterste bank óf heeltemal óf in 'n 60:40-verhouding afgeslaan word.

En die gevolgtrekking?

Dis 'n lekker wa en hoewel dié dieselenjin effens onbeholpe voel in die groter Outback, is dit byna in 'n volmaakte balans met die Forester.

Sleutelsyfers

Enjin: 1 998 cc; viersilinderdiesel-bokserenjin; turbo-aangejaag

Krag: 110 kW @ 3 600 r/min

Wringkrag: 350 Nm @ 1 800 r/min

Topsnelheid: 186 km/h

0-100 km/h: 10,4 sek

Transmissie: sesgang-handrat, heeltydse vierwielaandrywing

Vering: McPherson-stutte voor, dubbele mikvere agter

Remme: Skyfremme

Bande: 225/55 R17

Grondvryhoogte: 215 mm

Naderingshoek: 25º

Vertrekhoek: 25º

Dompeldiepte: nie beskikbaar

Voertuigmassa: 1520 kg

Brandstoftenk: 60 liter

Brandstofverbruik: 6,4 liter/100 km (gekombineerde siklus)

Waarborg/diensplan: 3 jaar/100 000km; 3 jaar/65 000km

Diensinterval: 10 000km of soos aangedui deur ritrekenaar

Prys: R399 000

Mededingers:

Renault Koleos 2.0 dCi h/rat - R419 900; Honda CR-V 2.2 i-DTEC h/rat - R420 900; Kia Sorento 2.2 Diesel h/rat - R365 995

WegRy sê:

Jy kry nie sommer 'n Forester-bestuurder wat nie sweer by sy keuse nie. Nou met die diesel is een van die laaste netelige probleempies van die petrolmodel opelos - hulle is bietjie swaar op petrol. Net jammer hy moet streng beperk word tot laesulfaat-diesel, en dis nie beskikbaar in afgeleë gebiede nie.

Marilize Nel

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM