Motors

Toyota Fortuner 2009

Die nuwe Fortuner lyk gereed om voort te bou op sy voorganger se reputasie as ’n uitstekende waarde-vir-geld-sportnutsvoertuig met ernstige veldryvermoë, sê Barnie Louw. Maar wat van die hanteringspook?As jy die opskrif van die persverklaring moet glo, het die nuwe, opgeknapte Fortuner nie veel om die lyf nie: “Geringe veranderinge en ’n outomatiese diesel vir Toyota se Fortuner-reeks …”Klaarblyklik het Toyota se bemarkingsmense nog nie Suid-Afrika se gewildste sportnutsvoertuig ervaar toe hulle hierdie vergeetlike stelling uitgedink het nie.Wat hulle onder meer nagelaat het om te sê is dat Toyota met die opgeknapte Fortuner bykans al die krapperighede nek omdraai wat die reeks sedert sy bekendstelling in 2006 gekenmerk het. (Nie dat dit kopers afgeskrik het nie – in 2008 is meer as 7100 voertuie verkoop.)Waarskynlik belangriker as die krapperighede soos die piepklein brandstoftenk, ligkleurige bekleedsel en min lugsakke, sal die nuwe Fortuner hopelik ook die stabiliteitspook finaal besweer.

Maar is hy veilig?Kom ons eet sommer die rape eerste: Die afgelope jaar is Toyota behoorlik geteister deur klagtes en vrae oor die Fortuner se hantering en beweerde onstabiliteit op veral grondpaaie.Die vorige Fortuner se General Grabber AW 265/70 R16-bande, sy vaste agteras, vering, verkeerde banddruk en hoë spoed is onder meer genoem as moontlike oorsake van dié beweerde probleme.Toyota het volgehou (en hou steeds vol) dat daar niks fout is met die Fortuner nie, maar dat hy weens sy ontwerp moontlik sekere beperkings kan hê wat sy vermoë op ’n grondpad betref.Hoe veelseggend is dit dus dat die opgeknapte Fortuner 3.0 D-4D nou met elektroniese stabiliteitsbeheer (VSC) en groter 265/65 R17 Bridgestone Dueler-bande toegerus is, en boonop ABS-remme, elektroniese remkragverspreiding en remhulp het?Dié veranderinge beteken beslis nie dat daar iets fout is nie, sê Toyota; dis bloot deel van die produkontwikkelingsproses, wat begin het lánk voor die eerste klagtes oor die Fortuner.Terloops, die Fortuner se skokbrekers, die vere se weerstand en hegtingspunte bly onveranderd. Die nuwe 4.0 V6-modelle is ook nie toegerus met VSC nie, waarskynlik omdat soveel meer van die 3.0 D-4D verkoop word.Ander veiligheidskenmerke van die opgeknapte Fortuner is die twee lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier wat aangevul is met vier kant- en gordynlugsakke.Gaan al dié veranderinge dus ’n verskil maak aan die Fortuner se grondpad-hantering? Net die tyd sal leer, maar ek is oortuig dat oordeelkundige en versigtige bestuurders niks het om hulle oor te bekommer nie.Kyk hoe lyk hy nouDie eerste ding wat jou waarskynlik van die nuwe Fortuner sal opval, is die groter wiele. Die ou 16 duim-wiele is vervang met 17 duim-allooiwiele met ’n aggressiewer loopvlak (jy kry ook ’n volgrootte allooinoodwiel).Ander veranderinge buite-om is ’n herontwerpte neus met ’n nuwe, bonkige kopligontwerp en die nuwe agterligte. Die grootste veranderinge aan die opgeknapte Fortuner is egter die nuts- en geriefseienskappe aan die binnekant – en daar is sommer baie:

  • ’n Dubbele lugreëlingstelsel met onafhanklike beheer vir voor en agter;
  • Kontroles aan die vierspeek-leerstuurwiel vir die klankstelsel;
  • Die bestuurder se sitplek kan elektries verstel word (daar is ses verstellings);
  • Snelheidsbeheer is nou standaard in al die modelle;
  • Elektriese verstelling van die kantspieëls, wat kan terugvou;
  • Estetiese veranderinge sluit in paneelinsetsels van “Japannese kiaat” (eintlik is dit maar net plastiekerige nagemaakte hout);
  • Die ou lig-ivoorkleurige sitplekbekleedsel is nou “sandkleur beige” – ’n effens donkerder skakering, maar ek twyfel of dit donker genoeg is vir die mense wat gekla het dat die vorige bekleedsel te maklik vuiligheid wys.

Wat skuil onder die vel?Daar is nie té veel gepeuter onder die enjinkap nie, buiten die byvoeging van outomatiese kaste. Die nuwe Fortuner-reeks met sy 4.0 V6-petrol- en 3.0 D-4D-dieselenjin bestaan steeds uit vyf modelle, maar die modelle het verander.Sowel die vorige 4x4- en 4x2-4.0 V6-handratmodel word vervang deur ’n vyfspoed outomatiese model (175 kW @ 5 200 r/min; 376 Nm @ 3 800 r/min). Die vorige 4x4- en 4x2-3.0 D-4D handratmodel (120 kW @ 3 400 r/min; 343 Nm @ 1 400-3 200 r/min) word behou, maar kry ’n vierspoed outomatiese 4x2-broer by.Vir veldgebruik het die 4x4-modelle ’n sluitbare Torsen-vastrapmiddel-ewenaar en laestrek, en al die modelle het ’n agterste ewenaarslot. Vir rowwer 4x4-werk kan die stabiliteitsprogram afgeskakel word.Goeie nuus vir die mense wat hul Fortuner as safarivoertuig gebruik, is die brandstoftenk wat met 23% van 65 liter na 80 liter vergroot is.WegRy sê: Sy voorganger se reputasie moes ’n paar opslagballe trotseer, maar die nuwe Fortuner lyk soos ’n wenner: Hy lyk beter, hy ry beter, hy’s veiliger, en boonop is hy vrek bekwaam in die veld. Net jammer van daai “Japannese kiaat”.Bl 2: Kom ons praat geldsakeGoed, kom ons praat geldsakeDie prys van die nuwe Fortuners is gemiddeld net met 2% verhoog, wat waarskynlik gaan beteken dat Toyota sy verkoopsteiken van 500 eenhede per maand maklik sal haal. Hier’s hoeveel jy sal moet uithaal en wys:Petrol

  • Fortuner 4.0 V6 4x2 outomaties: R332 900
  • Fortuner 4.0 V6 4x4 outomaties: R387 200

Diesel

  • Fortuner 3.0 D-4D 4x2 handrat: R327 100
  • Fortuner 3.0 D-4D 4x2 outomaties: R337 100
  • Fortuner 3.0 D-4D 4x4 handrat: R366 400

Die 4.0 V6-petrolmodelle moet elke 15 000 km gediens word, en die 3.0 D-4D-dieselmodelle elke 10 000 km. ’n Diensplan van 3 jaar/90 000 km is by die koopprys ingesluit en jou Fortuner word gedek deur ’n waarborg van 3 jaar/100 000 km, plus 24-uur-padbystand vir die duur van die waarborgtydperk.Oorspronklik gepubliseer in WegRy #12 | April-Mei 2009

196.1 KB
Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM