Motors

Toyota Hilux 2009

Is dit moontlik om ’n wenresep te verbeter? Braam Peens kyk of Toyota dit met die nuwe Hilux reggekry het.Hoe verbeter mens Suid-Afrika se topverkoper in die bakkie- sowel as sedanmotorklas? En is dit enigsins moontlik? Wel, Toyota het sy staatmaker Hilux-reeks ’n nuwe sierrooster, nuwe kopligte, effens veranderde buffers en binnekant, en beter veiligheidskenmerke gegee. Maar die groot nuus is egter die beskikbaarheid van outomatiese ratkaste vir beide die V6-petrol- en 3-liter- D-4D-modelle.

Wat is nog alles nuut? Die 14 duim-wiele van die enkelkajuit werkesels het gegroei na 15 duim toe, en die dubbelkajuite s’n van 15 duim na 16 duim.Alle modelle in die reeks kry lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, behalwe die intreevlak 2.0 VVTi- en 2.5 D-4D-modelle. Al die dubbelkajuitmodelle (almal nou met Raider-spesifikasies) word voortaan verder toegerus met kant- en gordynlugsakke, wat ’n eerste is vir bakkies in Suid-Afrika.Hulle kry ook multifunksie-stuurwiele waarmee die radio beheer kan word sonder dat die bestuurder sy hande van die stuur hoef af te haal – ’n baie nuttige veiligheidskenmerk.Die Raider vierliter-petrol en D-4D’s het ook nou almal snelheidsbeheer.En onder die vel? Die 4x2- en 4x4- turbodiesel dubbelkajuit-Raiders kan nou bestel word met ’n vierspoed- outomatiese ratkas.En jy sal die vierliter-V6 van nou af slegs met ’n vyfspoed- outomatiese ratkas kan kry.Handrat of outomaties? Die Hilux-reeks bestaan uit nie minder as 18 modelle nie en ongeag van jou behoeftes, sal daar ’n variant wees wat jou pas, of jy nou ’n president, pendelaar of predikant is.Dis opvallend dat die outomatiese D-4D-ratkas slegs vier ratte het, terwyl Ford, Nissan en Mazda se turbodiesel-outo-kaste almal vyf het. Die vierliterpetrol is bobaas op die teerpad met oorgenoeg verbysteekpotensiaal net ’n enkelstyfmaak weg.En in die veld? Tydens die Hilux se bekendstelling by die Klipbokkop-4x4-opleidingskool net buite Worcester het twee goed opgeval: Een was dat dit te maklik is om die knoppies op die stuurwiel, wat die radio beheer, per ongeluk raak te slaan as die wiel tussen jou vingers rondwurm soos jy oor die rotse kruip.Belangriker nog was dat die afdraande-kompressie-remeffek met die outomatiese bakkie merkbaar swakker was as met die handratmodel, selfs al was hy ingesluit in laestrek- eerste rat.WegRy sê: Daar was regtig nie veel om te verbeter nie en buitendien bly die Hilux ’n Toyota. Hy is dus nog steeds net so maklik om te bestuur soosaltyd, hy’s duursaam en gaan nie maklik breek nie. Die bykomende modelkeuses en verskillende toevoegings behoort nog ’n wyer potensiële kopersgehoor te lok.Agtien modelle om van te kies

ENKELKAJUIT-PETROL
Hilux 2.0 VVTi R145 800
Hilux 2.0 VVTi Chassis cab R140 500
Hilux 2.0 VVTi S R150 100
Hilux 2.7 VVTi Raised Body Raider R210 300
ENKELKAJUIT-DIESEL
Hilux 2.5 D-4D R167 900
Hilux 2.5 D-4D S R172 200
Hilux 2.5 D-4D Raised Body SRX R204 900
Hilux 2.5 D-4D 4x4 SRX R246 000
Hilux 3.0 D-4D Raised Body Raider R242 500
Hilux 3.0 D-4D 4X4 Raider R283 600
DUBBELKAJUIT-PETROL
Hilux 2.7 VVTi Raised Body Raider R269 300
Hilux 4.0 VVTi Raised Body Raider outomaties R310 200
Hilux 4.0 V6 4x4 Raider outomaties R370 600
DUBBELKAJUIT-DIESEL
Hilux 2.5 D-4D Raised Body Raider R280 500
Hilux 3.0 D-4D Raised Body Raider R304 400
Hilux 3.0 D-4D Raised Body Raider outomaties R314 400
Hilux 3.0 D-4D 4x4 Raider R346 200
Hilux 3.0 D-4D 4x4Raider outomaties R356 200

Oorspronklik gepubliseer in WegRy #11 | Feb-Mrt 2009

Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM