Suid-Afrikaanse avonturiers moes jare lank vir lief daarmee neem dat hulle Toyota-keuses bestaan het uit óf ’n Hilux óf ’n Cruiser GX-stasiewa van die veel duurder 100-reeks (diesel: R485 900 en 4,5-liter-petrol: R461 700).Groot was die opwinding dus toe Toyota vanjaar sy 70-reeks hier bekend gestel het – dis een van die beste ekspe-disievoertuie in ’n lang tyd.Ons hou van:Daar is min elektronika wat kan moles maak. Die voorste en agterste ewenaars word met ’n eenvoudige draaiknop gesluit en die vaste aste met kronkelvere is sterk genoeg vir enigiets waarmee Afrika vorendag kan kom.Die binneruim is effens spartaans, maar hei, as jy luukses wil hê, gaan lê ’n dag in die spa en luister na ’n CD van walvisgeluide.Maar … Die 90-liter-brandstoftenk is effens aan die klein kant vir Afrika, veral as jy in ag neem dat die 100-reeks GX verkoop word met lang-afstandtenks wat jou ’n brandstofvolume van 141 liter gee.Dis ook onverstaanbaar hoekom dit steeds ’n onaangejaagde 4,2-liter-diesel gebruik in plaas van ietsie met meer woema – soos wat Toyota vir die Australiese mark gegee het.Daar is nie eens ’n 4.5 EFI-petrolenjin om te kies nie. Maar as jy na sy brandstofverbruik kyk, is dit dalk goed so …Hoeveel moet ek hoes?Ongeëwenaarde veldryver-moëns, legendariese betroubaarheid en ’n onbeskryflike aantrekkingskrag … alles vir net R362 000. Nie sleg nie, nè?Kyk ook na:Die Nissan Patrol is dalk duurder (R475 000 vir die 3.0 Tdi GL en R489 000 vir die 4.8i GL), maar sy turbodiesel (118 kW en 380 Nm) en sessilinder-petrol (190 kW en 425 Nm) is formidabel. En dan is daar die nuwe Land Rover Defender 110-stasiewa (90 kW en 360 Nm) teen R349 056.WegRy sê: Die Land Cruiser 70 is eerliker as ’n man op sy sterfbed en harder as Schalk Burger se skedel. Kortom, dis ’n eietydse legende.
Oorspronklik gepubliseer in WegRy #4 | Des 2007 - Jan 2008












