Die nuwe Toyota Prado TX is amper R100 000 goedkoper as die luukse Prado VX. Is die TX ’n winskoop? Of boet jy nou te veel in? Jaco Kirsten het agter die kap van die byl gekom.In ’n neutedop:Toe Toyota einde verlede jaar die nuwe Prado bekendgestel het, was min van ons nie beïndruk nie. En met reg.Dis in alle opsigte ’n gesonde verbetering op sy gewilde voorganger, veral wat die toevoeging van slim elektronika (Multi-Terrain Select, of MTS) betref. Dít laat jou toe om met skakelaars op die stuurwiel die Prado se veldry-blikbrein te laat weet op watter soort terrein jy ry.Skielik kon die Prado, wat tegnologie betref, saam met die groot nuwe honde soos die Land Rover Discovery 4 en die Land Cruiser 200 draf.Maar om die minste te sê was die VX se prys van R637 900 nogal aan die steil kant, wat beteken het dat party kopers inderdaad sommer een van daai einste groter honde kon koop – luukser waens soos die Land Rover Discovery (R595 000 vir die S-model en R645 000 vir die SE-model).Dis nou waar die goedkoper Prado TX in die prentjie kom. Dit sou egter effens laf wees om dié halfmiljoenrand-wa ’n “intreevlakmodel” te noem, want dis nie asof dit ’n spartaanse ryding is nie.Onder die enjinkap:So goed soos wat die vorige Prado was, was die dieselmodel se KZ-TE-turbodiesel sy groot swak plek. As jy skrikkerig was vir die dors petrolmodel (’n 4 liter-V6-bulletjie), was jou voorland ’n uiters betroubare dog papperige dieselenjin, wat geknor het om ’n taxi by ’n bult op teen vinniger as 120 km/h verby te steek. En dít terwyl oorsese Prado’s lankal met die wakker D4-D-enjin beskikbaar was.Dit het die absurde situasie geskep dat die veel goedkoper Fortuner die Prado ore aangesit het met verrigting.Die Prado TX het, nes die duurder VX, ’n D-4D 3 liter- viersilinder-turbodieselenjin, wat 120 kW ontwikkel. Waar die Fortuner se soortgelyke enjin óók 120 kW krag ontwikkel, troef die Prado hom met 400 Nm se wringkrag teenoor die Fortuner se 343 Nm – dus versnel hy merkbaar vinniger as die Fortuner.Kruissnelhede van 150 km/h is moeiteloos, sonder dat jy ooit die indruk kry dat die Prado se suiers by die enjinkap wil uitspring. Hou egter in gedagte dat Nissan pas ’n Pathfinder met ’n 3 liter-V6-turbodiesel bekend gestel het, wat 170 kW en 550 Nm ontwikkel. Die nuwe Pajero 3.2 DI-D se enjin klits 140 kW en 441 Nm op, terwyl die Discovery 4 ’n kordate 180 kW en 600 Nm bied.Die VX se Multi-Terrain Select-stelsel is soortgelyk aan dié van die Discovery, waar jy die regte verstelling kies vir die voertuig se veldry-elektronika na gelang van die soort terrein waarop jy ry. Kies jy byvoorbeeld die verstelling vir sand, sal hy meer wieltol toelaat en die enjin teen hoër toere laat hardloop voordat die volgende rat gekies word. Klippe vereis natuurlik weer minder wieltol en laer enjinsnelhede.By die TX is die stelsel baie eenvoudiger, want as heeltydse 4x4 hoef jy basies net tussen hoë- en laestrek te kies en die res kan jy aan die goeie oordeel van die elektroniese vastrapbeheer oorlaat.Die TX het ook nie stelsels soos die “Kinetic Dynamic Suspension System” nie, wat teenrolstawe (wat vir stabiliteit op hoë spoed sorg) in die veld kan ontkoppel vir groter wielartikulasie teen lae spoed. Dit het ook nie kruipbeheer (Crawl Control) nie, wat outomaties die enjinsnelheid beheer wanneer jy byvoorbeeld stadig oor klippe ry.Boonop het die TX nie ’n sluitbare agterste ewenaar soos die VX nie.Elektronika soos wieltolbeheer kan hierdie leemtes oorkom – Land Rover se Defender gebruik byvoorbeeld ook wieltolbeheer in plaas van meganiese ewenaarslotte – maar dis jammer dat die duurder VX op papier ’n beter veldryer is as die intreevlak-TX, aangesien dit meer waarskynlik is dat die goedkoper TX se eienaars hom in die veld gaan gebruik.Binnelangs:Wel, “intreevlak” of te not, die TX se binneruim is vergelykbaar met dié van heelwat luuksemotors. Die swart leer van ons toetsmodel was smaakvol en goed afgewerk en die sitplekke ondersteun die agterwêreld goed.Toyotas speel nie deesdae as dit by pakruimte tussen die twee voorsitplekke kom nie. Ook die TX se bêreruim is groot genoeg vir ’n groot kamera, selfoon, beursies, donkerbrille en ’n dodelike gooibyltjie.’n Ander interessante eienskap is die panoramiese truspieël wat uit die dak vou op die plek waar die sonbrilhouer gewoonlik geleë is. Daarmee kan jy presies sien watter kind trek eerste watter ander kind se hare, en jy kan begin dreig om hulle af te laai nog voor die eerste een aan’t grense gaan.Volgens die brosjures het die Prado sewe sitplekke. Tegnies ja, maar daardie agterste twee sitplekke is net geskik vir CIA-martelsessies op Guantanamobaai. Gelukkig vou die sitplekke darem vinnig weg in die laairuim se vloer, anders gaan die welsyn jou dalk oor die vingers wil tik oor jou kinders se geswelde knieë.Die agterste laaideur se meganisme kan gesluit word in die “oop” posisie sodat die deur nie op ’n skuinste toeswaai en jou van agter af disnis klap wanneer jy besig is om jou gekookte eier af te dop nie. Die gereed¬skapstel is geleë in ’n luik in die agterdeur – slim en prakties.Wanneer jy na trurat skakel, wys die monitor in die voorste konsole wat die kameratjie agter in die noodwielhouer “sien”. Dié stelsels raak al meer algemeen in voertuie en hopelik sal die verduideliking dat “ ’n boom skielik agter my ingeloop het” óók al minder gebruik hoef te word ...Agter die stuur: Op die oop pad het ons ’n paar keer skielik van baan verwissel teen 130 km/h om bakrol en hoëspoedstabiliteit te toets. Die TX vaar goed vir ’n voertuig van hierdie grootte, maar ten spyte van al die slim elektronika wat jou bas kan red, moet ma’s tog maar die selfone bêre wanneer hulle vet gee in ’n groot fô-baai-fô. Groot voertuie met ’n hoë swaartepunt kan eenvoudig nie so vinnig vir iets uitswaai of rem soos ’n laer ryding nie.Kies jy egter iets wat wél goed hanteer op teerpad – en ons praat van harde vering en min bakrol – dan diskwalifiseer dit weer ’n ryding se veldryvermoë.Tydens die toetsrit het die Prado se vering ons behoorlik beïndruk teen sowat 100 km/h op ’n baie modderige sinkplaatpad. Oor gladde modderhindernisse het die blikbrein wieltol vroegtydig in die kiem gesmoor om te keer dat jy vassit, en die enigste beperking behoort die soort bande te wees wat jy op jou Prado sit.Hy behoort klippe ook maklik baas te raak, maar net as jy ontslae raak van daai groot treeplanke (running boards). Dit gaan net een middelgroot klip kos om hom soos ’n piesang te buig, en boonop bemors modderige treeplanke jou klere met die in- en uitklimslag.Wil jy jou Prado in die stad ry, kan jy die treeplanke hou. Wil jy die onbekende verken, sal jy dit moet vervang met iets meer prakties, soos glystawe (rock sliders).WegRy sê:Of hy werklik beter is as sy mededingers, is iets waaroor ’n mens lank kan debatteer. Maar dat huidige Prado-eienaars nie sal huiwer om hulle ou rygoed vir dié een in te ruil nie, is iets waarmee min mense sal stry. Dis nie die opwindendste keuse in sy prysklas nie, maar ’n Prado is soos ’n (baie duur) Spur: Jy’s altyd seker van wat jy kry.Mededingers:1. Land Rover Discovery 4 3.0 V6 S – R595 000Die Discovery 4 is ’n verdere verbetering op die Disco 3 – die voertuig wat amper eiehandig gesorg het dat Land Rover-grappies opdroog. Loshande die beste afwerking in dié segment, met die gepaardgaande snobwaarde.Sleutelsyfers:2 993 cc | V6-turbodiesel | 180 kW | 600 Nm | 11,2 liter/100 km2. Jeep Grand Cherokee CRD Laredo AT – R504 900Die Jeep se prys maak hom moeilik om te ignoreer, al kom daar volgende jaar ’n nuwe weergawe. En boonop ontwikkel hy ’n stewige 160 kW krag. Sy voorkoms is dalk nie meer supervars nie, maar dis vrek moeilik om hom mis te kyk as ’n opsie.Sleutelsyfers: 2 987 cc | V6-turbodiesel | 160 kW | 510 Nm | 15 liter/100 km3. Mitsubishi Pajero 3.2 DI-D GLX – R533 900Die Pajero is nóg ’n goeie Japanse keuse. Weens sy buisromponderstel is hy effens meer kwesbaar oor klippe as die ander mededingers, maar in standaardvorm diskwalifiseer die Prado se lae treeplanke hom in elk geval ook vir hierdie soort terrein.Sleutelsyfers:3 199 cc | in-gelid viersilinder | turbodiesel | 140 kW, | 441 Nm | verbruik (nie beskikbaar)4. Nissan Pathfinder 3.0 V6 LE AT – Prys nog nie beskikbaarDie Pathfinder se nuwe V6-turbodiesel plaas hom in ’n heel ander klas en as jy hom met die intreevlak-Prado vergelyk, begin jy wonder of jy nie meer ryding kry vir jou geld met die Nissan nie – 50 kW méér is darem nie te versmaai nie, of hoe?Sleutelsyfers:2 993 cc | V6-turbodiesel | 170 kW | 550 Nm | 8,4 liter/100 kmSleutelsyfers:Enjin: 2982 cc, in-gelid viersilinder, turbo-aangejaagKrag: 120 kW @ 3 400 r.p.m. Wringkrag: 400 Nm @ 1 600-2 800 r.p.m.Topsnelheid: 175 km/h0-100 km/h: 11,7 sek.Transmissie: 5-gang outomaties, hoë- en laestrek, heeltydse vierwielaandrywing met Torsen-middelewenaarSlim elektronika: Elektroniese vastrapbeheer (A-TRAC), stabiliteitsbeheer (VSC), afdraandebeheer (DAC) en opdraande-wegtrekbeheer (HAC).Vering: Onafhanklike dubbele mikvere voor, en veelskakel met soliede as agter.Remme:Geventileerde skyfremmeBande: 265/65 R17Grondvryhoogte: 22 cmNaderingshoek: 32 º Vertrekhoek: 25 ºDompeldiepte: 70 cmBrandstoftenk: 87 liter-hooftenk + 63 liter-subtenk (altesaam 150 liter)Brandstofverbruik: 8,5 liter/100 km (gekombineerde siklus)Waarborg/diensplan: 3 jaar/100 000 km; 5 jaar/90 000 kmDiensinterval: 10 000 kmPrys: R546 400ONS HOU VAN: Die nuwe Prado se voorkoms is vars en modern, sonder om soos ’n Star Trek-tuig te lyk. (In vergelyking met die Prado herinner die groter 200-reeks Land Cruiser effens aan Jimmy Abbot.) Veral vir vaardige veldryers maak die TX se prys hom meer aanloklik as die duurder VX. Hoewel die 3 liter-enjin effens ligter in die broek is as die mededingers, gaan hy waarskynlik baie lank hou.... MAAR DÍT PLA: Toyota kon gerus die TX ’n meganiese ewenaarslot agterlangs gegee het. Daardie treeplanke is groot genoeg vir ’n klein microlight om op te kan land. En ja, nog 30 kW krag sou niemand aanstoot gegee het nie.
Oorspronklik gepubliseer in WR#20 | Augustus-September 2010












