Motors

Volkswagen Amarok 2010

Met skrefiesoë kyk ’n boer in ’n kakiebroek hoe die joernaliste die Amarok-bakkies voor die Patensie-padstal parkeer.

“Dit of die Hilux?” wil hy by ’n gesoute motorjoernalis weet. Die joernalis huiwer ’n oomblik. En nóg ’n oomblik. “Ek weet nie, Oom, dis ’n moeilike een.”

En dis hoe die meeste joernaliste in die groep voel.

In ’n neutedop:

Die Amarok baklei vir dieselfde stuk koek as die dubbelkajuit Ford Ranger, Isuzu KB, Toyota Hilux en die Nissan MP 300.

Hy’s tipies bakkie, met ’n leerraamonderstel, ’n vaste agteras en ’n deeltydse 4x4-stelsel. Maar sy enjin is uniek: dis klein, ’n 2 liter-dieselenjin, aangejaag deur twee turbo’s wat hom laat saampraat met veel groter enjins.

Hoe lyk hy?

Na aanleiding van foto’s het ek ’n meer imposante bakkie verwag. Hy lyk vierkantig, tradisioneel. Meer Isuzu as Triton.

En dis goed so. Vir my moet ’n bakkie soos ’n bakkie lyk.

Dele van die ontwerp is effens teleurstellend. Die wielboë roep beelde van Chinese bakkies op, en van agter af lyk hy oninspirerend.

Binnelangs:

Sober en logies. Die kontroles is minimalisties en uiters maklik om te gebruik. Jy pluis vinnig uit hoe om 4x4 te kies, die ewenaarslot te sluit en die êrkon te stel. Die agtersitplekke slaan ook plat vir nog pakplek.

Onder die vel:

Hier lê Volkswagen se grootste uitdaging: Om Jan van Till, die Bielie van die Bosveld, te oortuig dat die 2 liter-dubbelturbo-enjin genoeg knor het.

Maar die feite spreek vanself. Die Amarok Highline skop 120 kW uit, wat net so goed is soos die Hilux se 3

liter-diesel. En sy 400 Nm wringkrag teen net 1500 r.p.m. is uitsonderlik.

Die bakkie is ook beskikbaar as die Fleetline, met ’n 2

liter-diesel met een turbo, wat 90 kW ontwikkel en 340 Nm wringkrag teen 2000 r.p.m.

Só ry hy:

Op die teerpad is hy wakker en gewillig. Jy’s in ’n japtrap by 150 km/h verby en jy kan heeldag op daai spoed sit.

Maar dis op plaaspaadjies en in die veld dat hy mielies gooi. Lanklaas het ek soveel harmonie tussen ’n enjin se wringkrag en die ratverhoudings gevoel vir die aanhoudende versnel en rem in die veld.

Die vering is hard, maar dis ’n bakkie, nie ’n Cadillac nie.

Hoe dors is hy?

Dis hiér waar hy glo die opponente in hulle kanon in skop. VW sê die Highline dubbelturbo suie 7,9

liter/100 km, en die Fleetline net 7,7 liter. As jy glo mooi ry, kan jy met die Fleetline van Kaapstad tot in Bloem ry op een 80

liter-tenk! Verbeel jou …

En die goeie nuus is dat VW sê die Amarok kan sy lewe lank op vuil diesel (500 d.p.m.) loop, hoewel skoon diesel (50 d.p.m.) aanbeveel word.

Wat dink jy sover?

Dis ’n uitstekende bakkie, met ’n lekker enjin. Maar die klein detail maak die groot verskil. Hy’t byvoorbeeld ’n 12 V-sok bo-op die paneelbord vir jou GPS. Hy’t ook ’n 12 V-sok agterin die bak.

Die bak is breër as enige ander bakkie s’n, dit het ’n lig as jy snags wil pak én vier hegpunte om vrag vas te maak.

* Hou die volgende uitgawe van WegRy dop – ons speel die Amarok teen sy opponente af.

Sleutelsyfers:

Enjin:

1968 cc; 4 silinder-diesel-dubbelturbo;

120 kW @ 4 000 r.p.m.;

400 Nm @ 1 500 r.p.m.

Transmissie:

6-gang handrat;

deeltydse vierwielaandrywing;

hoë- en laestrek;

sluitbare agterste ewenaar

Topsnelheid 181 km/h; 7,9 liter/100 km

Veldsyfers:

grondvryhoogte 24,9 cm

naderingshoek 28 º

vertrekhoek 23,6 º

bande 245/70 R16

brandstoftenk 80 liter

Gewig 1 883 kg

Waarborg: 3 jaar/100 000 km

Diensplan: 5 jaar/90 000 km

Diensinterval: 15 000 km Prys:

Prys: R390 040 (vir die topmodel)

Die enkelkajuit-weergawe word middel 2011 bekendgestel, en ’n 2 liter-turbopetrol vroeg in 2011.

ONS HOU VAN:

• Die 2 liter-dubbelturbo-enjin is ’n openbaring.

• Die bakkie voel eerlik en basies, al is dit baie gesofistikeerd.

• ’n Nuwe ordentlike dubbelkajuitbakkie is so groot nuus soos die Pearl Harbour-aanval …

… MAAR DÍT PLA:

Eintlik niks nie. Die donkerbrilhouer in die dak gaan binne ’n jaar breek.

ALTERNATIEWE:

Nissan MP300, Mazda BT-50, Toyota Hilux

WEGRY SÊ:

As ek ’n Drifter, Ranger of Isuzu was, het ek wakker geslaap. As ek ’n Hilux was, het ek ook kort-kort oor my skouer geloer …

Oorspronklik gepubliseer in WR#21 | Oktober 2010

Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM