Die Japannese het tot onlangs nie groot avontuurfietse gebou wat ’n mens ernstig kon opneem nie. Maar die nuwe Yamaha Super Ténéré het dit als verander. Jaco Kirsten het hom deur sy passies gevat.
In ’n neutedop:
Die mark vir groot avontuurmotorfietse was tot onlangs amper so beperk soos jou keuses van dop rondom Loftus – die kordate kragwater-en-Coke van KTM se opwindende 990 Adventure, of die veilige, koue en alomteenwoordige lager wat BMW se R1200 GS jou bied.
Nou het Yamaha ook tot die stryd toegetree met sy XT1200Z Super Ténéré. En as jy hom van nader bekyk, is dit duidelik dat Yamaha die BMW in sy visier het met ’n produk wat ook goed het soos ’n dryf¬as in plaas van ’n ketting en binnebandlose bande.
Maar anders as die KTM met sy V2 en die BMW met sy tweesilinder-bokserenjin het die Yamaha ’n waterverkoelde, parallelle tweesilinder-enjin.
En as jy ’n bietjie verder krap …
Die Super Ténéré het ’n paar interessante stukkies tegnologie soos wieltolbeheer. “TCS1” tree baie vinnig tussenbeide as die wiel begin spin, “TCS2” laat jou toe om die stert ’n bietjie te laat uithang, en “TCS Off” beteken jy’s vrygelaat op eie verantwoordelikheid. Op die BMW kan jy ook wieltolbeheer kies, maar jy moet ekstra daarvoor betaal.
Hy’s gemaklik op die langpad (kraglewering is presies dieselfde as dié van BMW se GS) en baie bekwaam op grondpaaie, danksy puik vering. Dit pla egter effens dat sy ABS-remstelsel nie afgeskakel kan word nie. Wel, nie tensy jy die sensor uitskroef nie …
Die remstelsel is ook gekoppel: Trek jy die voorrem, rem hy agter ook. Maar trap jy eers die agterrem, werk die remme afsonderlik. Hoëspoed-stabiliteit is waarskynlik beter as die BMW en die KTM.
Die 1 200 cc-tweesilinder se enjin het ’n 270 º-vuurvolgorde, wat beteken dat die twee kragslae nie egalig is nie, maar baie naby aan mekaar geleë en die kraglewering gevolglik baie voel soos dié van ’n reusagtige eensilinder.
Hoewel die Yamaha se gewig van 261 kg heelwat swaarder is as dié van sy teenstanders, is dit belangrik om te weet dat die teenstanders geweeg word met fietse sonder olie, petrol of hidrouliese vloeistowwe. Maar jy kan nie aan die hantering agterkom dat hy swaarder is as ’n 1200 GS nie.
Uiteindelik is jou blywende indruk een van ’n motorfiets wat heelwat van die goeie eienskappe van die dominante BMW R1200 GS het, maar net soveel sterk punte van sy eie het.
Vir ’n eerste poging in hierdie hoogs mededingende mark is die Super Ténéré een waaroor Yamaha baie windgat kan voel. – Jaco Kirsten
WegRy sê:
Die Super Ténéré is ’n werklik ernstige alternatief vir diegene wat ’n BMW R1200 GS oorweeg. Moet hom nie vlak vat nie – gaan toetsbestuur hom en lug dán jou mening. Boonop is sy prys baie moeilik om te ignoreer.
Key stats:
Enjin:
1 199 cc-tweesilinder;
81 kW @ 7 250 r.p.m.,
114 Nm @ 6 000 r.p.m.
Transmissie: sesgang, asaandrywing.
Petroltenk: 23 liter
Gewig: 261 kg (nat gewig)
Prys: R129 999 (First Edition-model R138 999)
HIERVAN HOU ONS:
•
Goeie vering
•
Medingende prys
•
Hoëspoedhantering
•
Dryfas en binnebandlose bande
... MAAR DÍT PLA:
•
Die ABS-remme kan nie afgeskakel word nie.
•
Die enjin het ’n behóórlike pensplaat nodig.
•
Die verkoeler en waaier is baie kwesbaar as jy val.
Oorspronklik gepubliseer in WR#20 | Augustus-September 2010












