BYD stoot Raptor uit pad as kragperd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Chinese vervaardiger BYD bring aanstaande maand sy eerste bakkie, die Shark, na die Suid-Afrikaanse mark. Hy’s ’n raps langer en groter as die Ford Ranger, maar met ’n swakker vragdravermoë.
Die Chinese vervaardiger BYD bring aanstaande maand sy eerste bakkie, die Shark, na die Suid-Afrikaanse mark. Hy’s ’n raps langer en groter as die Ford Ranger, maar met ’n swakker vragdravermoë.

Daar's 'n interessante nuwe bakkie wat hom aanstaande maand hier in Suid-Afrika aanmeld, en benewens die nuwe handelsmerk is dit ook 'n eerste wat sy aandryfstelsel betref.

Die Chinese vervaardiger van grootliks elektriese voertuie, BYD (Build Your Dreams), het pas bekend gemaak dat hy sy eerste bakkie, die Shark, in Maart in Suid-Afrika gaan bekend stel.

Die Shark sal Suid-Afrika se eerste inprop-hibried-bakkie wees. Onder die enjinkap sit 'n 1.5-liter-petrol-turbo, terwyl daar ook twee e-motors (een op elke as) ingespan word. Die e-motors kry hul krag van 'n fris 30 kWh-litium-ioon battery wat in die vloerpan lê.

Volgens BYD dien die petrolenjin grootliks as 'n kragopwekker vir die battery. Jy maak dus die brandstoftenk vol, maar die petrolenjin dryf nie die wiele aan nie - dit herlaai bloot die groot battery.

Die battery sal jou 'n reikafstand van 100 km bied as jy hom gebruik sonder om die petrolenjin aan te skakel (as jy in 'n koolstofvrye sone moet ry). Werk die twee aandryfstelsels in kombinasie, soos dit bedoel is, maak BYD op 'n reikafstand van 800 km aanspraak.

Die twee e-motors bied tesame goeie kragsyfers: 320 kW en 650 Nm wringkrag. Dit beteken die BYD Shark sal dan ook Suid-Afrika se kragtigste bakkie wees, aangesien die Ford Ranger Raptor (met 'n petrolgedrewe 3.5-liter-biturbo-V6) 292 kW uitstoot.

Hoewel die Shark 'n leerraam-onderstel het, soos wat gebruiklik is by eenton-bakkies, het hy slegs kronkelvere agter en nie die meer robuuste bladvere nie.

Sy vragdravermoë is dan ook 835 kg, wat heelwat ligter is as die tradisionele eenton-bakkies.

In die kajuit sien ons 'n groot digitale raakskerm wat al jou nutsfunksies asook 'n tru-kamera huisves. Sy sleepvermoë is 2,5 ton (as die sleepwa sy eie remme het) terwyl die grondvryhoogte 21 cm is.

Die Shark is BYD se eerste toetrede tot die bakkiemark en word reeds in onder meer Nieu-Seeland en Australië bemark. Dit sal interessant wees om te sien hoe hy in die SA mark gaan vaar, waar handelsmerk-lojaliteit 'n bewese feit is.

SPELETJIES VANDAG

CTA