Die nuwe Max-weergawe van Chery se Tiggo 7 Pro-kruiswaentjie kry 'n kragtiger enjin, beter ratkas en meer toerusting. Egmont Sippel is beïndruk.
'n Hartlike ontvangs is altyd welkom.
Baie motors doen dit deesdae met die woord welcome op die instrumentpaneel. Of jy kry 'n hele kleurspel van vorme en patrone op einste paneel voordat 'n prentjie van die wa waarin jy sit uiteindelik uitkristalliseer.
Dis goed en wel. Maar daar ís maniere van groet wat jou senuwees beproef.
Hierby kom sterk kompetisie in die vorm van die goedkoper Suzuki Grand Vitara en Volkswagen T-Cross en die duurder Haval H6 2.0 4WD en Kia Sportage 1.6 CRDi. Die Tiggo 7 Pro Max staan egter sy man. Dis Chery se beste voertuig nog. En hy's goed, waarde-vir-geld-voordele al dan nie.
Asiatiese motors blêr soms of dit die begin, of dalk die einde, van die wêreld kan wees - soos in die Chery Tiggo 7 Pro Max 1.6TGDI 290T Executive AWD (en ja, dis 'n langer naam as Charles Marc Hervé Perceval Leclerc, hy wat vir Ferrari jaag).
Maak 'n deur oop en die Tiggo 7 Pro Max blaas jou behóórlik met 'n deuntjie wat na "Breaking News" op CNN klink.
Of die klingel gedeaktiveer kan word, weet ek nie. Dalk.
Maar indien nie, kan dit jou eendag nog tot 'n karakter in One Flew Over the Cuckoo's Nest reduseer.
Enjin, ratkas, remme en rit
Om hierdie stuitigheid ongedaan te maak, bied die Tiggo 7 Pro Max darem ook 'n paar goeie teenwigte soos waarlik goeie ontwerp en stilering.
Hoe dan anders? Want die Pro Max is eintlik maar 'n liggies gekikkerde weergawe van 2020 se aantreklike tweedegeslag-Tiggo 7 Pro. Binnelangs vertoon die Max selfs weelderiger as Chery se Omoda-merk, wat veronderstel is om tussen die maatskappy se goedkoper Chery- en duurder Exeed-merke in te pas (hoewel Exeed- en Luxeed-modelle in die toekoms as Omodas in Suid-Afrika bemark sal word).
Die 7 Pro Max vuur in ieder geval uit 'n sterker, gladder 1.6-liter-viersilinder-petrolturbo (145 kW/290 Nm; 0-100 km/h in 8,7 sekondes; topspoed 175 km/h) as die 7 Pro se 1.5-liter-viersilinder-petrolturbo (108 kW/210 Nm).
Ons toetsmotor se gemiddelde verbruik oor 'n afstand van 300 km was 'n onmerkwaardige 10 liter/100 km, maar die Max is dikwels uitgemax. Ry egter besadig en 8 liter/100 km is moontlik. Ten spyte van die Executive AWD-variant se dryf deur al vier wiele - wat ekstra hardeware en daarom ekstra gewig beteken - is dit meer as 'n liter per 100 km beter as die 7 Pro met sy minder gesofistikeerde 1.5-liter-turbo.
Die Max dryf voorts via 'n gladde sewespoed-dubbelkoppelaarkas pleks van die 7 Pro se onbevredigende kegeltransmissie. Die rempedaal is effe hard en gevoelloos, maar met kompakte dimensies (4,5 m kort; 1,7 m hoog; 1,56 ton) stop die kruisertjie beslis beter as die Omoda C5 met sy sagte pedaal wat voel of dit in dryfsand wegsak.
Einste is die Chery se ligte, aangename stuur soveel beter as die Omoda se stywe, aaklige roer.
Op 'n 55-bandprofiel vir albei is die Chery se ritgehalte op onafhanklike agtervering met diep seskrulkronkels en 225/55-R19-Cooper Evolution-rubber egter onverwags harder as die "meer sportiewe" Omoda C5 s'n op 'n balkas met sewekrulkronkels.
Die Tiggo 7 Pro Max bied drie afwerkingsvlakke (Premium, Distinction en Executive), waarvan laasgenoemde met die gesofistikeerde Adas (Advanced Driving Assist System) spog.

Boing, boing, boing
Adas lewer enkele interessante funksies, soos 'n waarskuwing as jy onnodig lank by 'n verkeerslig talm nadat hy groen geraak het en die voertuig voor jou al in die verte verdwyn.
Nou, groot kruisings in Beijing is 'n belewenis. Verkeersligte is feitlik net ornamente. Die verkeer is 'n lewende organisme met sy eie strominge. Soos 'n vis in 'n skool word jou bewegings deur die groter gros bepaal.
Op hierdie manier verstaan die manne mekaar uit al vier rigtings, selfs by kruisings wat, in omvang, aan Tokio se Sjiboeja herinner. Hierdie besigste van alle kruisings ter wêreld hanteer soms tot 3 000 voetgangers per slag en tot 'n halfmiljoen per dag! Jy kan nie by kruisings soos daai sit en slaap as die lig vir voertuie groen raak nie.
Adas se "jy talm te lank"-waarskuwing is dus 'n goeie ding.
Nog 'n interessante funksie is 'n skerm in die instrumentpaneel wat die posisionering van verkeer voor jou en selfs bome en voetgangers langs die pad aandui.
In normale weersomstandighede is die inligting (via onmiskenbare ikoonvorms) nie van groot hulp nie, maar ná sononder of veral in digte mis of rook kan dit 'n ander storie wees.
Adas se swetterjoel waarskuwings dat jy jou oë op die pad moet hou, is egter 'n pyn. As bestuurder moet jy net 'n bietjie te lank rondkyk, al is dit om 'n beheerknoppie op die voorpaneel te soek, en "boing, boing, boing" weergalm die waarskuwing. En dit as net een van vele verskillende soorte waarskuwings.
Net soos die blaffende stem wat 'n ritmodus bevestig elke slag as jy 'n nuwe een (uit Economic, Normal, Sport, Snow, Muddy of Offroad) kies, kan die gonsers jou mal maak.
Maar as jy eers gesien het hoe sommige Chinese bestuur, sal jy verstaan. Feitlik op elke derde of vierde internasionale motorbekendstelling wat Rapport deur die jare bygewoon het, was een van hul joernaliste in 'n ongeluk betrokke.
In 2005, tydens die wêreldbekendstelling van Mercedes se vyfde-geslag-S-klas (die W221; terloops, met die allereerste gedigitaliseerde instrumentpaneel) het 'n Chinese joernalis dit reggekry om 'n splinternuwe S350 in 'n "gemoedelike" Alpynse bergpas (oftewel een sonder haarnaalddraaie) teen die botsrelings te boing, boing, boing.
Sonder die relings was die Merc oor 'n krans, nes Christopher White en sy Benz wat toentertyd 80 m ver van die kronkelende Chapmanspiek-pad tot in die see gefoeter het. Die kar was 'n wrak.
White, wat ironies genoeg besig was om na Tracy Chapman se "Fast Car" te luister, het oorleef.
Om die integriteit van hul motors te promoveer, het Merc 'n TV-advertensie oor die insident gemaak.
Waarop BMW in 'n teen-advertensie gevra het: "Doesn't it make sense to drive a luxury sedan that beats the bends?"

Kajuit, toerusting en waarde
Die 7 Pro Max dek die gaping tussen die Tiggo 7 Pro en die Tiggo 8 Pro.
Vis-à-vis die 7 Pro wen die Pro Max aan 'n paar tegniese items soos Apple CarPlay en Android Auto, 'n agtspreker-Sony-klankstelsel, 'n kragtiger 50 W- koordlose foonlaaistasie, 'n panoramiese sondak en 'n beter infovermaakstelsel met 'n dubbelgrootte-info-instrumentskerm.
Die sitplekke van 'n agterkajuit met genoeg been- en veral kopruimte slaan ook mooi na vore plat.
Voorts is daar deure wat outomaties oop- of toesluit as jy nader of wegstap, plus mooi gekurfde sierstreepafwerking in einste deure, sagte elmboogrusse, 'n platboomstuur, voor-kragsitplekke (geventileer en met leer oorgetrek), mooi beligting, 'n goeie voetrus en 'n diep elmboogkas - plus al die res soos lugsakke alom, dubbelsone-klimaat, kruisbeheer, sat-nav, parkeerhulp met 'n kamera, banddruksensors, outo-ligte, outo-reënveërs en krag-alles.
Dis uitstekende toerusting vir die geld wat jy betaal. Maar daar ís 'n paar dinge wat hinder.
Weens 'n volgrootte-spaar is die laairuim byvoorbeeld 425 mm vlak.
Die elektroniese handrem ontkoppel nie outomaties as jy wegtrek nie.
En die enjinswaai/rathaak/wegry-fase lewer soms 'n irritasie as die rathefboom twee keer gekliek moet word voordat die gekose dryfmodus vat.
Hierby kom sterk kompetisie in die vorm van die goedkoper Suzuki Grand Vitara en Volkswagen T-Cross en die duurder Haval H6 2.0 4WD en Kia Sportage 1.6 CRDi.
Die Tiggo 7 Pro Max staan egter sy man. Dis Chery se beste voertuig nog. En hy's goed, waarde-vir-geld-voordele al dan nie.
- Prys: Chery Tiggo 7 Pro Max 1.6TGDI 290T Executive AWD - R610 000.















