In dieselfde tyd wat Volvo sy nuwe batterygedrewe sportnuts, die EX90, plaaslik bekend gestel het, het ons sy voorganger, die meer bekende XC90, weer ’n slag van nader leer ken.
Dis ’n interessante oefening. Die EX90 is die nuwe era. Dis ’n suiwer batterygedrewe ryding, met ’n massiewe batterybank onder in sy pens wat twee e-motors aandryf. En, teen R2,4 miljoen is hy nie goedkoop nie.
Die XC90, op sy beurt, is die ou bekende. Die XC90 was in die vroeë 2000’s Volvo se eerste sportnuts. Daarna het die kleiner XC60 en XC40 gevolg.
Hierdie XC90 wat ons nou gery het, is steeds ’n weeldeskip met gemaklike sitplek vir sewe mense en ’n lekker hoë ryposisie. Maar hy dien nou ook as ’n oorganger, want ons model was die inprop-hibried. Dit beteken dat hy ’n matig groot battery in die vloer het, wat ’n e-motor op die agteras aandryf.
Waar ’n gewone hibried sommer so in die ry sy klein battery self sal herlaai, kan die inprop-hibried se groter battery by ’n herlaaipunt gelaai word.
Wat het ons hier?
Die gedagte met hibriede, in die algemeen, is dat jy ’n mate van ’n emissievrye rit kan geniet, solank as wat jy op e-krag ry. Die inprop-hibried, derhalwe, gee jou ’n langer ent van ’n emissievrye rit, want sy battery is groter.
Die gedagte vir dié tipe voertuie – pleks van ’n suiwer petrol- of suiwer batterymotor – kom uit Europa, waar al meer van die groot stede hul sakekerne vir binnebrandvoertuie gesluit het, of wil sluit. Jy kan dus slegs in die middestad ry as jy ’n EV het, of as jy ’n hibried het en op e-krag ry.
Die plan met die hibriede het egter verder gevloei. Die idee is nou dat jy op skoon e-krag daagliks kantoor toe en terug kan ry, en dit dan saans tuis herlaai (aan die netwerk, of met sonkrag). Dit nou omdat ’n inprop-hibried se reikafstand, as hy net met die battery ry, maar ’n skamele 80 km ten beste is. Meestal is dit so 60 km.
Dis min. Maar dis goed genoeg as jy elke oggend werk toe wil ry, of kinders aflaai en winkels toe gaan. Die bykomende petrolenjin bied jou dan die gemoedsrus dat jy nie langs die pad sal staan as jou battery pap is nie.
Heerlik op die langpad
Gaaf, so hoe vaar die opgeknapte Volvo XC90 Recharge in hierdie rol?
Wel, heel billik. Maar jou reikafstand is baie beperk. Veral as jy hom vol gaste laai, en hy moet hard werk. Dan draf jy gou deur die battery se energie. Onthou ook, die XC90 is ’n groot sewesitplekker.
Ek het so 8,3 liter verbruik gehandhaaf, wat goed is vir so ’n voertuig, maar nie naby ’n dieselenjin se verrigting sal kom nie.
Terloops, Volvo span ’n 2.0-liter-enjin in wat oor turbo- en drukaanjaging geskied. Dis ’n rare verskynsel, en is dus tegnies kompleks, wat hom dus duur kan maak as iets fout loop, of hy buite sy diensplan is.
Die werkverrigting is flink en jy hoor die enjin skaars. Die wisseling tussen enjin-krag en e-motor is ook seepglad. Onthou, jy kan die XC90 in verskeie modusse ry. In een modus sal die enjin kort-kort harder werk om die battery so effens te herlaai, sodat sy laaistatus konstant bly.
Die afwerkings in die kajuit is straks die XC90 se sterkpunt. Ons swierige Sweed het ’n mooi, grys doekstof bekleedsel gehad terwyl die instrumente ’n kristal rathefboom en aansitknop bevat. Die vertikale raakskerm werk ook maklik, en die beelde is duidelik. ’n Mens het wel ’n kortpad-funksie gemis waarmee jy etlike hulpstelsels met een skoot kon afsit.
Afsaal
Hier en daar wys die XC90 sy ouderdom: Die ontwerp buite, die kleinerige raakskerm binne. Maar in die geheel is die groot Volvo ’n heerlike langpad-voertuig vir die gesin. Die komplekse aandryfstelsel sou my senuwees laat verlang het na ’n diesel, maar as jy ’n groen gewete het, sal die inprop-hibried wel tot jou spreek.
















