Egmont Sippel | Kersvader ry Creta

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Om teen die Chinese aanslag te skrum het Hyundai sy middelgroot Creta-kruiser met meer toerusting belaai en die pryse verlaag. Egmont Sippel doen verslag.

Wat sou jy sê as Kersvader vanjaar - of enige ander jaar - R20 000 onder die Kersboom los?

Dis één manier om na die opgradering van Hyundai se middelgroot kruiswiele genaamd Creta te kyk.

Ná dese spog die reeks met meer gemaksfunksies en veiligheidstoerusting - plus twee nuwe variante, een met Pre­mium- en die ander met Executive-spesifikasie, elk met 'n keuse tussen drie gedempte swaelmetaalkleure (Midnight Black Matte, Magnetic Silver Matte, Optic White Matte) wat kwesbaar is vir 'n hoëdrukspuit (soos by karwasserye). Beter dan om dit met die hand en 'n sagte lap te was. Hyundai sal jou juis vir so 'n onderneming vra, sou jy 'n swaelmetaalkleur vir jou Creta kies.

Die beste nuus bly egter prysverlagings op sekere variante van 'n reeks wat steeds Hyundai se onaangejaagde 1.5-liter-viersilinder (84 kW/144 Nm) aan 'n sesgang-handratkas of kegeltransmissie (KT) koppel om krag na die voorwiele te stuur. Die Creta 1.5 Premium-handrat (R450 000) kos byvoorbeeld nou amper R20 000 minder as vroeër.

én hy's beter toegerus.

Dis ook hoekom Kersvader nou so baie Cretas op sy takbokslee in Rovaniemi, in Finland, laai.

Sedert middel 2022 word Cretas wat plaaslik verkoop word van Indonesië ingevoer, maar aflewering oor die Kerstyd het 'n besliste Rovaniemi-geskenkgeur.

Mededingers en pryse

Waar die reeks voorheen drie variante gebied het, met pryse van R470 000 tot by R522 000, bied dit nou vyf (waarvan twee in swaelmetaalkleure), met pryse van R450 000 tot R525 000.

Dit alles in 'n poging om wal te gooi teen die Chinese aanslag.

Daar's wel 'n Kia-neef genaamd Seltos (R468 000 tot R627 000) waarteen die 4,3 m lange Creta kragte meet, plus 'n boel Europeërs (VW T-Cross, Renault Duster, Peugeot 2008, Citroën C3 Aircross, Fiat 500X, Opel Crossland) en 'n boel Japannese (Toyota Corolla Cross, Suzuki Grand Vitara, Honda Elevate, Honda HR-V, Mazda CX-3/CX-30 en Mitsubishi ASX), asook 'n paar Indiërs (XUV300, om nie van die kleiner nuwe XUV3X0 te vergeet nie).

Maar eintlik is die geveg teen die Groot Draak, veral as dit by pryse kom. En dis nie net die Chery Tiggo 4 Pro en 7 Pro (R278 000 tot R610 000) en Haval Jolion/Jolion Pro (R346 000 tot R517 000) nie.

Van China is daar ook BAIC se Beijing X55 (R430 000 tot R510 000), GAC se GS3 Emzoom (R470 000 tot R550 000), Jetour se Dashing en X70 Plus (R450 000 tot R490 000), asook die C5-variant (R360 000 tot R590 000) van Chery se Omoda-handelsnaam.

Dis 'n verstommende en amper verwarrende wielepoel om uit te kies.

Dis presies ook waarom die Creta saam met die Kia Seltos en Renault Duster, maar veral die effens langer Toyota Corolla Cross (R408 000 tot R544 000), die Suzuki Grand Vitara (R355 000 tot R543 000) en effens korter VW T-Cross (R462 000 tot R533 000) uittroon: Al ses is deurwinterde produkte uit die maag van gevestigde vervaardigers.

Nou's die Creta beter en goedkoper as ooit tevore.

Ekstratoerusting

Hoe Hyundai SA dit gedoen het?

Wel, die moedermaatskappy in Korea wil volume hê, en wat deesdae verkoop, is es-joe-wies en kruiswiele. Dis hoekom Hyundai die fokus vanjaar op einste segmente laat val het deur pryse vir die kompakte Venue-kruisertjie te verlaag en die selfs kleiner Exter van Indië in te voer.

As die grootste van Hyundai se kompakte-kruisprodukte was die Creta volgende op die lys.

Die moedermaatskappy is dus vroeër vanjaar deur 'n afvaardiging uit Suid-Afrika besoek met die belofte: Help ons met pryse en ons help julle met volume.

So gesê, so gedaan; met beter pryse ten spyte van ligte opkikkerings.

Premium- én Executive-variante kry nou moderner afwerking in die vorm van nuwe buffers, asook LED-dagryligte wat laer op die snêzzie sierrooster lê.

Die Creta-kajuit word met 'n groter kleurraakskerm bedeel, asook 'n koordlose slimfoonlaaistasie, twee voorste USB-sokke plus Apple CarPlay en Android Auto.

Met voertuigsluit vou Premium-variante se syspieëls voortaan ook plat teen die wa, bekleedsel is fopleer en kragvensterknoppe benodig net 'n enkele aanraking vir op en af. Daarby voeg die deftiger Executive 'n blindekolgonser, asook 'n baanhou- en selfstopfunksie.

Op die pad

Die Creta se stuur is wel 'n knertsie swaarder belaai as die meeste mededingers s'n, maar dis lekker om, met die draaislag, teen 'n bietjie gewig te werk eerder as die leegheid van heliumligte roere wat so tipies van veral Chinese motors is.

Die enjintjie skrou natuurlik in sy hoë strekke, en versnelling herinner dalk aan die tempo van Kersvader se slee as dit met 'n vrag vol Cretas uit Rovaniemi vertrek. Beplan egter jou lopies goed en gebruik die gange reg en die klein Hyundai sal die ding doen.

Onder meer te danke aan 60-profiele op 17"-allooie ry hy boonop heel lekker in dorps- en stadsverkeer, selfs met effens ferm veerinstellings (plus 'n agterste wringbalk). Vir goeie grondpadvertonings is die pens darem 200 mm hoog.

Twee inspuiters per silinder help voorts om verbruik tot minder as 7 liter/100 km te beperk.

Daar's ook 'n boel moderne standaard- en veiligheidstoerusting, waaronder twee lugsakke vir Premium- en ses vir Execu­tive-variante. En moenie vir die KT skrik nie. Daar's ses vooropgestelde "gange", terwyl sulke stelsels se tradisionele dreuning feitlik heeltemal afwesig is, al druk jy die Creta hard.

Die grootste bonus bly egter die nuwe prysstruktuur, gekoppel aan 'n vervaar­digerswaarborg van 7 jaar/200 000 km, plus 'n versienplan vir 4 jaar/60 000 km en padbystand vir 7 jaar/150 000 km.

  • Pryse: Hyundai Creta 1.5 - R450 000 tot R525 000
Die Dark Horse is Ford se nuwe Mustang-verrigtingsmodel. 'n Effewarmer 5.0-liter-V8 (334 kW/540 Nm; 0-100 in 4,4 sek; 267 km/h) vind baat by spesiale suierstange, 'n veertoringstut, 'n hulp-olieverkoeler en 'n liggewig-verkoeler. Saam met 'n gedempte aanbieding is stywer vere, skerp hantering, 'n wonderlike 10-spoed-outokas en Ford se onaangejaagde V8-klank alles joune vir 'n koel R1,5 miljoen. - Stuart Johnston
Die Dark Horse is Ford se nuwe Mustang-verrigtingsmodel. 'n Effewarmer 5.0-liter-V8 (334 kW/540 Nm; 0-100 in 4,4 sek; 267 km/h) vind baat by spesiale suierstange, 'n veertoringstut, 'n hulp-olieverkoeler en 'n liggewig-verkoeler. Saam met 'n gedempte aanbieding is stywer vere, skerp hantering, 'n wonderlike 10-spoed-outokas en Ford se onaangejaagde V8-klank alles joune vir 'n koel R1,5 miljoen. - Stuart Johnston

SPELETJIES VANDAG

CTA