Suid-Afrika moet waaksaam wees om nie te deïndustrialiseer nie, want dit kan sy kosbare motorvervaardigingsbedryf se taks- en werkgeleenthede bydrae baie vinnig laat opdroog.
Dit was die waarskuwing wat Andrew Kirby, grootbaas van Toyota SA en lid van Pres. Cyril Ramaphosa se span handvol kenners wat die bottelnekke in die ekonomie moet oplos, aan die land gerig het.
Kirby het verlede week in Johannesburg by Toyota se Stand van die Motorindustrie met die media gesels. As lid van Ramaphosa se span is Kirby gemoeid met die land se vervoer-haakplekke. Dit sluit in bottelnekke wat tans bestaan by die hawens en treindienste. Dit raak in- en uitvoer erg nadelig aangesien produkte nie hul markte betyds kan bereik nie, en belangrike goedere die land nie flink kan binnekom nie.
Volgens Kirby moet Suid-Afrika minstens 600 000 voertuie per jaar verkoop om 'n haalbare plaaslike motorbedryf te kan hê.
Verlede jaar se verkope was egter slegs 515 000, laer as sy eie voorspelling in 2023 van 'n mark van 535 000.
Die val van die rand maak invoere uit die tradisionele (Europa, Japan en Amerika) bron-lande al hoe duurder. Soos gesinsvoertuie buite die bereik van die middelklas raak, moet vervaardigers na nuwe verskaffers in hul konglomerate soek om bekostigbare voertuie hierheen te bring. Dit is waarom ons al meer voertuie uit Indië hier sien aanland, onder Japanse en Europese handelsmerke.
Dan het die Chinese inval van nuwe handelsmerke ook 'n groot impak op die plaaslike mark.
Die gevaar vir die plaaslike bedryf, sê Kirby, is omdat dié voertuie gesubsidieer is, dit baie goedkoper hier op die mark geplaas kan word. Dit bring die lewensvatbaarheid van die Suid-Afrikaanse motorfabrieke in die gedrang.
Kirby sê die regering kan baie hulp aan die bedryf gee as die Chinese gedwing word om elkeen ook 'n fabriek hier op te rig.
Dit sal ons plaaslike volume opstoot, en meer werkgeleenthede skep.
Tans, met die invoere, is die gevaar dat ons die bestaande fabrieke kan verloor, wat 'n verlies aan werkgeleenthede sal beteken.
Skep 'n pan-Afrika-mark
Kirby het ook verwys na die verbruiker se veranderende smaak. Kopers kyk al hoe meer na bykomstighede soos kleur-raakskerms, USB-konnektiwiteit, toepassings, handgebare, stemmingsbeligting en tegno-truuks as wat hulle na enjinkrag en spoed kyk, soos in die verlede.
Kirby sê 'n ander doelwit wat die regering kan najaag, is om 'n Afrika-mark te help skep.
Meer handelsooreenkomste met ander Afrika-lande moet gesluit word om tariewe en heffings tussen lande te verminder.
So kan 'n groter Afrika-mark geskep word wat almal sal bevoordeel.
Ander uitdagings wat Kirby uitgelig het, is die swak gehalte van plaaslike brandstof (Europese vervaardigers kan nie hul beste, skoonste enjins hierheen bring nie). Hy sê ons moet ook harder werk om die ekonomie aan die gang te kry. Tans kan net 10 miljoen Suid-Afrikaners 'n motor bekostig.



















