Ford is besig om sy bussie-modelreeks in die land aan te pas, en die eerste wat hier aangeland het, is die opgeknapte weergawe van sy intree-gesinsbus, die Tourneo Custom.
In Ford-taal beteken dit dié bus is die gesinsvriendelike weergawe van die Transit Custom, die vervaardiger se werkesel-paneelwa.

Die goëlbal is dat die Tourneo Custom by ons voorlopig net as 'n langasmodel te kry is, met die vervaardiger se enkelturbo-tweeliterdiesel. Terloops, jy ken hom reeds in die Ranger-gesin.
Die idee is dat die la-a-a-ang Tourneo Custom dus 'n kombinasie van lekker baie ruimte moet bied, maar teen nie lekker baie rande nie. Ideaal moet hy met die Hyundai Staria en Volkswagen se duo van die goedkoper Kombi en die deftiger Caravelle meeding.
Almal benut dieselenjins, maar waar die enkelturbo in die Ford slegs 100 kW en 360 Nm uitstoot, bult die Staria spiere met 130 kW en 430 Nm, en die Caravelle met 'n heerlike 146 kW en 450 Nm wringkrag.
Wat die Tourneo Custom se taak nog moeiliker maak, is dat die Staria ook met die opsie van 'n sewe- of negesitplekmodel te kies is.

Moderne kajuit
Beteken dit die Tourneo het reeds die stryd verloor?
Nee wat.
As 'n groot bus bied hy heelwat voordele wat die mededingers nie kan bied nie. Sy grootste partytjietruuk is natuurlik daardie massiewe lyf van hom.
Albei die agterste rye sitplekke kan op spore vorentoe of agtertoe gly, en die middelste ry kan ook 180° omgedraai word sodat almal agter in die bus na mekaar kyk.
Daardie sitplekke kan ook uitgehaal word, sou jy die Tourneo as 'n karweier wou inspan.
Vir die opknapping het Ford die instrumentpaneel 'n raps aangepas. Die paneel word oorheers deur 'n groot, horisontale raakskerm wat met Ford se jongste blikbrein toegerus is.
Die kleurskerm bied groot ikone en gesels in 'n kits met jou slimfoon of ander toerusting as jy dit met Bluetooth koppel.
Die ander funksies in die skerm is ook maklik navigeerbaar en logies gerangskik.
'n Ander nuutjie vir die Tourneo is dat die rathefboom nou weggevat is van die sentrale konsole en nou soos 'n Mercedes-Benz s'n 'n armpie agter die stuurwiel is.
Jy sit hoog agter die stuur en gelukkig is daar armleunings vir die voorste sitplekke ingebou, want anders sou jou arms maar moeilik in die lug bly hang het.
Danksy gonsers voor en agter, en 'n kamerabeeld voor en by die stert wanneer jy agteruit ry, is parkering nie moeilik nie. Maar die bus is wel lank en elke keer as jy 'n gewone parkeerruimte by 'n winkelsentrum benut, steek 'n stuk van sy agterstewe uit.
Ek noem die Tourneo 'n basiese bus. En sy harde plastiek vir die deurpanele en instrumentpaneel beaam dit.
Maar die Tourneo het wel items soos 'n koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon, twee 12 V-sokke (een voor, een agter), en 'n paar USB-sokke regdeur die kajuit. Daar is ook 'n blindekolgonser, 'n terugdu-funksie en 'n oplettendheid-gonser (wat jy genadiglik kan afskakel met die druk van 'n knoppie op die stuurwiel).
Afsaal
Die enkelturbo is 'n billike werkesel, maar dis 'n groot bus en sou jy hom vol gelaai het, gaan jy meer geduld agter die stuurwiel moet hê.
My verbruik het net onder die 10-liter-merkie gebly, wat eintlik so-so is. Die kleiner enjin moet hard werk in die groot bus.
Die lang Tourneo Custom is 'n gawe bus om die hokkiespan mee te vervoer of selfs die langpad mee aan te pak. Ek sou self wel 'n bietjie langer wag (en meer geld spaar) om die frisser modelle aan te skaf wanneer hulle later hier opdaag.















