Motors

Is Max die rede vir Horner se trekpas?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Max Verstappen (regs) gesels met Red Bull se spanbaas, Christian Horner. Horner is dramaties in die pad gesteek, met gissings wat rondvlieg oor wat die rede hiervoor kon wees. Foto: AP
Max Verstappen (regs) gesels met Red Bull se spanbaas, Christian Horner. Horner is dramaties in die pad gesteek, met gissings wat rondvlieg oor wat die rede hiervoor kon wees. Foto: AP

“Daar is dekades waarin daar niks gebeur nie; en weke waarin daar dekades gebeur.”

Dis hoogs te betwyfel dat hierdie gevierde woorde van Vladimir Lenin waarmee Christian Horner, die nou-gewese Red Bull F1-spanbaas, sy personeel verlede Woensdagoggend sou aanhef. Dít in die lig daarvan dat hy minder as 24 uur tevore deur sy seniors in dié kragkoeldrankmagnaat se magsgange redeloos die trekpas gegee is.

Epogmakend was sy loopbaan beslis. As jongeling het hy gehelp om die doodgebore Jaguar-span te verhef tot die segedinastie wat Red Bull vandag is; en ’n kultuur van uitnemendheid gevestig wat twee stelle vierdubbele jaerskrone en 124 renoorwinnings behaal het.

Dog staan selfs ’n jaar in F1-terme gelyk aan ’n leeftyd. Nadat hy 19 uit 2023 se 22 Grands Prix gewen het, was Max Verstappen teen einde 2024 gelukkig om die kampioenskapstitel voor Mclaren se Lando Norris te kon weg gaps: tekenend dat die twee spanne se suksestrajekte in Mei gekruis en daarna in teenoorgestelde rigtings beweeg het.

Met die 2025-seisoen nou by sy halfpadkerf, lê Verstappen se droom om ’n vyfde opeenvolgende jaerstitel in te palm, aan skerwe, weens ’n onuitwisbare 69-punt agterstand agter die voorloper, McLaren se Oscar Piastri.

Horner se magsgreep

As Rome nie in een dag gebou is en ook nie in een dag geval het nie, wat was dan die oorsaak van Horner se afdanking?

Wipwa-sukses is ’n gegewe in F1 in die sport. Dit is daarom te betwyfel of Horner se wegvee uitsluitlik neergelê kan word by Red Bull se yl trofeekabinet in 2025.

Die werklike redes is dieper.

Dit is só dat Horner se magsgreep oor Red Bull se F1-betrokkenheid opmerklik gegroei het. Sy posisie as spanhoof was onveranderd, maar bestuur oor Red Bull se enjinafdeling het sy portefeulje en baasskap laat swel.

Oor tyd is daar gevoel dat Horner se mag té gesentraliseerd geraak het, en is daar vrugteloos gepoog om van sy verantwoordelikhede af te wentel sodat hy suiwer op sy bestuursrol kon fokus. Sy voortgesette aandrang was op algehele oorsig en besluitnemingsreg.

Slegs ’n maand later sterf die Oostenrykse aandeelhouer, Dietrich Mateschitz, wat 49% van die Red Bull-maatskappy besit het en ’n deurlopende ondersteuner van Horner was.

Met die verenigende Mateschitz uit die prentjie, is Red Bull mettertyd sélf geburokratiseer op ’n wyse wat Horner se onafhanklike, vlugvoetige bestuurstyl begin kniehalter het.

’n Los Jos in die bos

Ongeag dié klippie in Horner se tekkie, kon hy deurgaans sy F1-span betreklik harmonieus bestuur, ten spyte van voortdurende koppestampery met Max Verstappen se pa, Jos, wat vroeg verlede jaar op die spits gedryf is met laasgenoemde se voorspelling dat die span gaan “ontplof” onder Horner se leierskap.

Dit het gevolg nadat dit op die lappe gekom het dat Horner ondersoek is vir onbehoorlike gedrag teenoor ’n vroulike kollega. ’n Interne ondersoek het hom onskuldig bevind.

Wat destyds afgemaak is as die agendagedrewe nydigheid van ’n sensasiesoekende sport-pa, sou in die komende maande as die waarheid uitspeel, soos die span een sleutelfiguur na die ander aan mededingers afgestaan het; en ’n stomende Max Verstappen se kampioenskapshouvas vinger vir vinger begin losglip het.

Só is die gifduwweltjies in die Red Bull-weiveld gesaai, wat begin blom het in 2025 toe McLaren verby Red Bull geskiet het as F1 se vooraanstaandste span.

Die omvang van die dilemma rondom Red Bull se hiper-afhanklikheid op Verstappen se genialiteit om mededingend te bly, is blootgelê, teen die agtergrond van sy sukkelende spanmaats.

Horner het Sergio Pérez se kontrak vir 2025 in 2024 hernu, maar hom teen die jaareind afbetaal om plek vir Liam Lawson te maak, net om hom na slegs twee rondes met die ewe hopelose Yuki Tsunoda te vervang.

Die Japanner het tot dusver ’n volle sewe tot Red Bull se 172 punte bygedra.

Ook, elke span wat die ontwerpghoeroe Adrian Newey se dienste kwyt is, se verrigting het in die hek geduik sodra hy sy voodoo-tassie gepak het. En nou is dit Red Bull se beurt om die prys te betaal vir die verlies van hul waardevolste bate.

Max se ‘vertrek’ die doodskoot?

En tog is die bogenoemde redes in werklikheid almal blote vingerversnaperinge by Christian Horner se ontslagtafel. Terwyl die hoofgereg die einste druif was wat eersgenoemde se sjampanjeglas vir die afgelope vier jaar tot oorlopens toe vol gehou het: Max Verstappen.

Só raadop met Red Bull se agteruitgang is Verstappen dat hy begin terugwink het na Mercedes se onophoudelike, skaamtelose gevry na hom.

Ná maande se bespiegeling het dit onlangs bekend geword dat die Hollander, wie se Red Bull-kontrak tot 2028 strek, die span voortydig mag verlaat sou hy nie minstens derde (waar hy tans is) wees op die punteleer teen F1 se halfjaar-pouse in Augustus nie, met nog tweede rondes om uit te spook tot dan.

Max Verstappen is nou Red Bull se laaste pilaar van uitnemendheid. En die gesogste jaer in F1. Maar hul motor se gô is uit, en dít laat sy foon gons.

Die grootste waarskynlikheid vir Horner se ontslag is dat Max Verstappen reeds pen op papier by Mercedes gesit het en Horner daarvoor gestraf is; óf: om die Verstappen-kamp te paai om by die verswakte Red Bull aan te bly met die hoop op tussentydse vernuwing in die raadsale sowel as voor die tekenbord.

Kristalballe is egter powere toekomsaanwysers in F1: totdat 2026 se eerste groen vlag swaai is daar geen bewys dat Mercedes die jaar se omvattende reëlwysiging die beste geïnterpreteer het nie – of Red Bull met hulle selfgemaakte dinamo met ’n Ford-plakkertjie daarop – die slegste nie.

’n Waarnemingsjaar totdat Verstappen homself aan ’n langtermyntoekoms by watter span ookal binne F1 verbind, blyk dus waarskynlik die waarskynlikste skuif vir die viermalige kampioen.

Daar staan geskryf dat die Romeinse Ryk geval het weens ’n duisend foute wat almal onaangespreek gelaat is. En dat sukses vele vaders het, maar mislukking net een. Christian Horner was Red Bull se Oedipus; sy Julius Caesar en sy Icarus: die man wat vir Red Bull sy vlerke in F1 help span het, maar wie se vlerke eers begin smelt het, en toe geknip is – toe hy té na aan die son gevlieg het.

Braam Peens

CTA