Reg aan die onderkant van die mark het Mahindra pas 'n netjiese nuwe sportnuts bekend gestel wat beslis 'n hele paar wenkbroue sal lig.
Met 'n prysband van tussen net sowat R250 000 tot R400 000 boks die klein XUV 3X0 so reg in die kraal van die Suid-Afrikaanse middelklas, wat hul sente vandag moet omdraai om al die rekeninge te betaal. Die ontluikende middelklas is beslis ook in die klein Mahindra se visier.

Die 3X0 is net-net korter as 4 m in lengte (om belastingvoordele in Indië te benut) en bevind hom dus in dieselfde segment as Hyundai se nuwe Exter (nog 'n Indiese model wat net verlede maand plaaslik bekend gestel is).
Dis die jongste gier by vervaardigers, aangesien die intreemark groot is en volumeverkope dus 'n werklikheid wat aangegryp moet word.
Plaaslik sal die klein 3X0 in vyf afwerkingsvlakke te kry wees, elkeen as 'n handrat of outomatiese model.
Interessant genoeg benut Mahindra, anders as sy mededingers wat almal net natuurlik geaspireerde enjins het, 'n 1.2-liter-petrolturbo vir aandrywing. Die enjin lewer 82 kW, maar dis sy wringkragsyfer van 200 Nm wat hom danksy die turbo-aanjaging loshande bo die res plaas.

'n Sesgang-handrat- of 'n sesgang- outomatiese ratkas is te kry.
Mahindra sê ondanks sy stadsvriendelike afmetings van minder as 4 m, is hy steeds stofpad-gereed. Dit nou danksy die baie goeie grondvryhoogte van 20 cm ('n handbreedte meer as 'n tipiese sedan s'n) en 'n waaddiepte van 35 cm.
'n Ander gawe faset van die nuwe klein nuts is dat ál die modelle standaard toegerus is met ABS-remme, ses lugsakke en 'n stabiliteitstelsel.
Dit was gereeld die klagte dat talle van ons voertuie wat kom uit Indië, waar die reëls nie so streng soos in die Weste is nie, nie met die nodige minimum veiligheidsitems toegerus is nie.
Die vlak van toerusting verskil natuurlik hoe hoër jy deur die modelreeks beweeg. Maar ons sien selfs die intree-MX2-modelle het items soos 'n stop-ry-stelsel, elektriese vensters voor, twee USB-sokke en 'n 12V-sok, sleutellose toegang en aansitknop, en parkeergonsers agter.
Deftiger modelle kry 'n sondak, koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon en 'n digitale raakskerm vir jou nutsfunksies ingesluit.
Die topweergawe het ook 'n parkeerkamera, LED-hoofligte, banddrukmonitor, 'n dakrak en 'n elektroniese handrem ingesluit.
Met al hoe meer Chinese produkte wat ons mark betree, gaan dit interessant wees wie oor 'n jaar staande gaan bly. Met sy aantreklike pryse en goeie toerustinglys behoort die jongste Mahindra-sportnuts baie nuuskieriges na 'n handelaar te lok, voorspel ons.






















