Die een oomblik kondig JLR - die Britse vervaardiger se nuwe naam - met trots aan hy raak ontslae van die handelsnaam Land Rover, en oomblikke later stel die maatskappy se filiaal ewe trots 'n spesiale weergawe van sy Land Rover Defender bekend.
Vir die hoeveelste keer word 'n "laaste weergawe" van die ou Defender onthul - nogmaals met 'n erfenistema - en hy staan hierdie keer bekend as die Land Rover Classic Defender Works V8 Islay Edition.
Die voertuig is 'n huldiging aan Spencer Wilks, voormalige direkteur van die Rover-maatskappy en medestigter van Land Rover, asook die Skotse eiland Islay, waar die Land Rover-naam die lig gesien het. Islay is die suidelikste eiland van die Binne-Hebride, het 'n raps meer as 'n duisend voltydse inwoners en die vernaamste bedryf is die stokery van moutwhisky.
In 1930 is Spencer Wilks se entoesiasme vir motorontwerp geëwenaar deur sy jonger broer Maurice, en hulle is albei in die direksie van die nuutgevonde Rover Car Company aangestel. Spencer se sakevernuf het beïndruk en hy is drie jaar later bevorder tot hoof van Rover.
Hy't sy hoër salaris gebruik om die Laggan-landgoed op Islay te koop en prototipes wat deur die Amerikaanse Jeep geïnspireer - en deur Maurice ontwerp - is daarheen geneem om te toets.
Die Laggan-landgoed se wildbewaarder, Ian Fraser, het volgens die Skotse geskiedskrywer Andrew McKenzie in 'n toetsing gesê: "There goes the laird in his land rover" - nie uit agting nie, maar eerder weens ergernis omdat sy nuwe Londensgebore werkgewer die wild verjaag het met die raserige ryding.
Toe Spencer van ou Ian se kwinkslag te hore kom, het hy nie aanstoot geneem nie, maar eerder die begrip "land rover" aangegryp (in Afrikaans landwandelaar) aangesien die Wilks-broers se maatskappy toevallig Rover genoem is en die voertuig se beoogde gebruik op ruwe terrein eerder as teerpaaie gepas was.
Die Classic Defender Works V8 Islay Edition is dan 'n soort namaaksel van Spencer Wilks se persoonlike Series II Land Rover waarmee hy later jare op Islay rondgerits het.
Altesame 30 van dié spesiale voertuie, in 'n 90- en 110-bakvorm, is reeds aan uitgesoekte klante verkoop. Die voertuie word nie splinternuut gebou nie, maar bestaan uit herstelde onderdele en gerestoureerde bakke van ou Landies. Die 298 kW-5.0 V8-petrolenjin en ZF- outomatiese ratkas is egter kraaknuut.

Die bakwerk kry dieselfde grys kleur as Spencer se Series II, en binnelangs is die sitplekoortreksels van leer en Skotse tweed wat in 'n tartan-patroon geweef is.
Op navraag of voornemende eienaars 'n bypassende doedelsak op die koop toe kry, was die antwoord nee, maar klante kry inderdaad 'n unieke geskenk…

Die vloer van die bagasieruim is van okkerneuthout wat om die beurt van die Kilchoman-distilleerdery se gebruikte whiskyvate kom. Kilchoman het 'n familieverband met Spencer Wilks, wie se kleindogter Kathy die distilleerdery saam met haar man, Anthony Wills, in 2005 gestig het.
'n Beperkte uitgawe whisky, "639", word gelyklopend met die Defender Islay gestook (GXC 639C was die registrasienommer van Spencer se Series II-Landie), en al 30 klante sal een van 639 bottels as geskenk kry om te beklemtoon presies hoe gesog hulle voertuig is.
Die oorblywende 609 bottels het teen druktyd op die internet gemiddeld €249 per bottel gekos - ja, meer as R5 000. En wat kos die Landies? Volgens die jongste syfers £290 000 (R6 845 300) vir die 90-reeks en £310 000 (R7 317 400) vir die 110.
Hygend hert!
Het jy iewers dalk 'n seldsame sleepsel of ryding raakgeloop? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za.




















