Dis 'n ding wat al 'n lang pad kom: Die Coetzee- en Prinsloo-broers - daar's drie van elk - het baie jare gelede 'n tradisie begin wat so met die tyd ontwikkel het.
Hulle pa's was huisvriende wat gereeld saam in die Bosbokrand-omgewing gaan jag het. Die ses kannetjies was ewe goed bevriend en het saam draadkarre gebou en kleilat gegooi.
Daardie vriendskap was só sterk dat hulle selfs ná hulle pa's se afsterwe saam gaan jag het. Die jagtogte het die naam CP (vir Coetzee en Prinsloo, natuurlik) met die jaartal gekry.
Vir CP22 is die ses vriende Bosbokrand toe vir 'n 4x4-naweek. Hulle het heerlik saamgekuier, erg nostalgies geraak en sommer ook begin gesels oor wat voorlê vir CP23. Kabous vertel.
Oom André Scholtz se boodskap bevat net drie woorde: ‘Nee, nee, nee!' Dit is nou nadat ek hom vroeër gevra het of hy dink 'n mens kan in die reëntyd die bospad volg van Mapulanguene langs die wildtuin (aan Mosambiek se kant) tot by Massingir in die suide van dié land.
Hy behoort te weet, want hy bedryf 'n gemeenskapslodge in daardie deel van die wêreld. En hoewel hy duidelik sterk voel oor die saak, kan ek nie help om met 'n impulsiewe en ietwat voortvarende ‘Sê wie?' te reageer nie.
As ek nou terugdink, besef ek dit was die presiese oomblik waar die saadjie geplant is vir die CP23-ekspedisie.

Hierdie een moet spesiaal wees, veral omdat ons ouboet, Zander, se gesondheid lol. Kyk, hy het beslis nie die lewe vir homself makliker gemaak nie, want hy is 'n veteraan van verskeie wedervaringe en millitêre operasies in Midde-Afrika.
Dit begin egter 'n tol op sy lyf eis en daar wag in die winter 'n dubbele hartvatomleining op hom. Die man is lief vir die bos . . . die ongerepte en natuurlike bos wat 'n mens nét in Afrika kry, en ek is bekommerd dat sy tyd om dit te beleef al hoe minder raak.
Met dit in gedagte besluit ek die CP23-ekspedisie moet die verpersoonliking wees van die Land Rover-slagspreuk, ‘One life. Live it'. 'n Ervaring om te onthou op onbekende donkiekar-tweespoorpaadjies in die reëntyd.
Ek wil ook graag die uitdaging soortgelyk aan dié van die Camel-trofee ervaar en doop die ekspidisie ‘Mud & Glory, Marloth2Massingir'.
Verder is ek nuuskierig om self te gaan kyk of die Massingirdam, ná die Kariba- en Cahora Bassa die grootste dam in Suider-Afrika, al vol geword het nadat die owerheid die sluise in 2018 herstel het.
Teen die einde van 2022 plaas ek 'n konseproetekaart op die CP-groep en stel 'n langnaweek aan die einde van April voor. Ek waarsku ook dat dit 'n modderige affêre gaan wees. Die manne laat weet dadelik opgewonde dat hulle saamkom.
Die enigste uitsondering is Zander, wat sê hy het genoeg eerstehandse ondervinding van modderpaaie in die DRK en ander tropiese Afrikalande. Hy is nie naastenby so opgewonde as die res van ons nie.
Zander vertel egter vir sy seun, Mertin, hiervan en dié noem dit so terloops om 'n braaivleisvuur in Pretoria aan sy petrolkopvriende - en die klomp besluit daar en dan hulle wil ook saamgaan.

Mertin probeer keer en verduidelik dit is 'n eksklusiewe ding, maar hulle wil nie luister nie. Die redenasie is as hulle so 'n paar honderd meter agter die oorspronklike groep ry, behoort hulle mos nie in te meng met PC23 se verrigtinge nie.
'n Mens weet mos dinge werk nie so nie; dus word die CP-groep uitgebrei. Intussen wil ander vriende ook saamkom . . . en só groei die afvaardging van die oorspronklike ses Coetzee- en Prinsloo-boeties tot 'n finale groep van 13, wat die reis met vyf ou Land Rovers en Mertin se Pajero gaan aandurf.
Zander sê hy is stomgeslaan oor die feit dat 12 nugterdenkende volwasse mense só opgewonde raak om swart modderpaaie aan te durf waar hulle ongetwyfeld gaan vassit.
Op Vrydagoggend 28 April ry ek, Mertin en dié se vriend Gerhard van der Merwe eers gou Komatipoort toe om die alternator van laasgenoemde se Disco 1 te laat herstel. Hulle het die vorige middag laat uit Pretoria in Marlothpark aangekom.

Die plaaslike outoelektrisiën beduie dat die gelapte alternator vir omtrent 1000km behoort te hou, maar nie veel verder as dit nie. Ons het nie veel van 'n keuse nie en besluit om die kans te waag. Gerhard sê hy is tevrede solank sy lugreëling en yskas werk.
Daardie outydse navigering is mos deel van die nostalgie as jy met Land Rovers die ongerepte dele van die vasteland verken.
Ons bereik die Lebombo-grenspos laat daardie middag. Die eerste skof tot waar ons die Komatirivier net anderkant Moamba moet oorsteek, verloop voorspoedig. Maar dan tref die noodlot ons . . . Ek het my kaart, wat ek noukeurig en oor maande met hope navorsing saamgestel het, by die huis vergeet.
Ek kan op daardie oomblik nie aan 'n enkele ding dink wat my Vrydag méér kan versuur nie.
Die gedagte was om met 'n akkurate topografiese kaart - met lengte- en breedtegrade - ons reis volkome akkuraat te kan plot met behulp van 'n elementêre GPS-toestel. Daardie outydse navigering is mos deel van die nostalgie as jy met Land Rovers die ongerepte dele van die vasteland verken. En boonop is ons op 'n plek met min tot geen selfoonsein nie.
Gelukkig het my neef Nelis Erasmus, wat ook besluit het om saam te kom, my topografiese kaart in PDF-formaat op sy slimfoon. Dus kan ons soortvan verder navigeer.

Die tyd begin ons inhaal en ons kry nie kans om tot op die Currimanadam se wal te ry nie. Dié dam is in die Sabierivier en min of meer so groot soos Loskopdam. Ons hou noord.
Die teerpad verander mettertyd in grondpad en ontaard daarna in 'n doolhof van tweespoorpaadjies. Ons hou noord.
Volgens die kaart moet ons op 'n kol noordoos swaai om my voorgestelde roete te volg. Hoe verder ons noord vorder, hoe yler bevolk raak die wêreld.
Maar die bosveld is prentjiemooi en jy kan sien dié deel van die wêreld het 'n goeie reënseisoen agter die rug. Die bloubuffelgras staan geil en so hoog soos die Landie se enjinkap. Die verskeie doring- en maroelabome is groot en groen, en hier is duidelik nie te veel olifante wat hulle verinneweer nie.
Ek besef ook met 'n tikkie teleurstelling - en tot Zander se groot vreugde - dat ‘Mud & Glory' verander het in ‘Dust & Glory'.

Met die son vier vingers bo die horison in die weste begin ons plek soek om te kamp. Zander vat voor en beduie hoe elkeen van ons onder 'n klompie groot doringbome moet stilhou om 'n laer te vorm met die voertuie se neuse na buite. Dis net ingeval ons ons skielik uit die voete moet maak.
Elkeen kry ook 'n beurt om wag te hou, want in dié gebied, 15km van die grens af, word gereeld renosterhoring gestroop. Ons maak hout bymekaar en teen donker is almal uitgespan rondom die gesellige bosveldkampvuur. Ons ervaar die ongerepte Afrika-skoonheid in sy volle glorie, en die roep van 'n naguiltjie bring herinneringe terug van ons kinderdae saam op die plaas.

Dis nie lank ná donker nie toe 'n plaaslike ‘verwelkomingskomitee' hulle opwagting maak. Nelis kan gelukkig die mense se taal praat en nooi hulle om saam te kuier. Hulle geniet 'n lafenis saam met ons en sing vir ons, en uiteindelik groet ons mekaar soos ou vriende.
Die volgende oggend kom ons agter die digte bloubuffel het baie van die paadjies toegegroei en ek sukkel om my koers te kry sonder my kaart. Later, met die hulp van plaaslike mense, kry ons 'n pad wat noord loop. Dus hou ons noord.
Teen laatoggend bereik ons die Massintontorivier. Ek het twee naweke terug die Tsokwane-piekniekplek besoek om die watervlak te bekyk van die Nwaswitsontsorivier, wat Mosambiek as die Massintonto binnekom.
In die middel van die rivier kom ons egter iets teë wat ons glad nie verwag nie. 'n Minibustaxi het van Mapulanguene se kant af gekom en in die rivier vasgeval - hy kan nie vorentoe óf agtertoe nie. Dis nie dat die rivier so diep is nie, maar hy kry net nie vastrap op die los spoelklippe op die bodem nie.
Ek het 'n dik tou - die soort wat vir toutrek gebruik word - wat ek vir die mooi om my bosbreker gedraai het, en kan gelukkig die tou gebruik om die taxi uit die rivier te sleep.

Cor Lindeque, my vriend van Komatipoort, verlaag egter nie sy dubbelkajuit-Defender se banddruk nie en betaal die prys toe hy 'n rukkie later vasval.
Mertin, die enigste een op die reis wat nié met 'n Land Rover ry nie, besluit dis nou die kans vir uithaal en wys - 'n kans wat hy met albei hande aangryp. Daai Pajero se wiele tol omtrent soos hy voet neersit om eerste by die gestrande Defender te wees om te help.
Nou loop die arme Cor weer onder almal se gespot deur en hy verduur dit maar gedwee. Die goeie ding van die hele affêre is dat ons kans gekry het om laestrek te haak, ewenaarslotte in te span en herwinningstoerusting te gebruik.
Maar die beste vir die dag lê nog voor: Ons bereik die Visarendkamp noord van die dam en ons is net mooi betyds om die ongelooflikste sonsondergang oor die dam te beleef.
Die res van die dag hou ons weer noord op tweespoorpaadjies oor Mapulanguene en die berugte bospad, wat in ons geval eintlik maar die stofpad is.
Ons bereik die Chokwe-Massingir-teerpad en hou verder noord. Later boek ons in by die Limpopo- nasionale park, nadat ons oor die indrukwekkende (5,4km lange) Massingirdamwal is. Vir my persoonlik is die kersie op die koek om die dam vir die eerste keer te sien oorloop.
Maar die beste vir die dag lê nog voor: Ons bereik die Visarendkamp noord van die dam en ons is net mooi betyds om die ongelooflikste sonsondergang oor die dam te beleef.
Vroeg die volgende dag hou ons . . . jip, reg geraai . . . noord tot by die Giriyondo-grenspos. Dis 'n stowwerige, stamperige en plek-plek erge sinkplaatpad. Ons sien hier en daar wild tussen die ruie mopanieveld. Tekens van olifante is oral sigbaar.
Behalwe vir die Mosambiekse amptenaar wat wil weet hoekom ons tydelike voertuiginvoerpermitte vir 'n maand uitgereik is en nie net vir drie dae nie, loop alles by die grenspos voorspoedig - en ons kry weldra koers Satara toe sonder enige teëspoed.
Satara is ons amptelike eindbestemming. Van hier af kies ons Maandagoggend koers huis toe: die drie Defenders suid en die twee Discoverys en Pajero terug Pretoria toe.

Ons almal is dit eens dat indien dit wel gereën het, sou dit maar moelik gewees het om dieselfde roete binne drie dae te voltooi. Dit lyk amper of daar 'n gevoel van verligting heers.
Maar nie in my nie. Nee, ons is nie klaar hier nie, want met hierdie roete het ons nog onafgehandelde sake.





