Niemand sal jou kwalik neem as jy dadelik aan Aspoestertjie dink terwyl jy na die Bothas se oranje wa kyk nie.

Só 'n kleur woonwa skop jy nie sommer agter elke bos uit nie, behalwe as jy mooi vra. Net soos al Jaguar Caravans se ander modelle was die Jag 1-boswoonwa van Etienne veronderstel om grys te wees.

Dit was nou tot hy sy bestelling geplaas het. Etienne het heel niksvermoedend vir die eienaar van Jaguar, Jacques Serfontein, gevra hy soek 'n oranje boswa. Jacques het hom boeglam geskrik vir so 'n uitspattige kleurversoek, want in sy 25 jaar van waens bou was dit 'n eerste.
Maar so gesê, so gedaan. Vroeg in 2017 kry Etienne sy splinternuwe oranje wa - nogal teen dieselfde prys.

Etienne se vrou, Marlene, sê die wa lyk vir haar soos 'n pampoen en sy laat maak 'n plakker van 'n pampoen. Dié word op die kant van die wa geplak met die naam "Pampoen" voorop.
Oral waar Etienne-hulle draai, tref Pampoen natuurlik die oog, want die aanvanklike idee was tog 'n wa wat anders lyk. Pampoen draf agter 'n ewe unieke voertuig: 'n Toyota FJ Cruiser wat Etienne in 2012 nuut gekoop het.

Die FJ het net een doel: dis 'n sleepvoertuig wat vandag net 50 000 km op die klok het.
Nou, vyf jaar later, is Pampoen vinnig terug by Jacques. Dis tyd vir 'n paar opgraderings: Die skuins dak word met 'n opwipdak vervang. Dis soortgelyk aan die huidige Inkwe-modelle s'n wat die Jag 1 vervang het.
Hy kry ook 'n tweede bed, maar niemand peuter aan die kleur nie, want oranje gaan hy bly!
Het jy iewers dalk 'n seldsame sleepsel of ryding raakgeloop? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za.





