Motors

Meer weeldes vir die CX-30

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

In die besige landskap van kompakte sportnutse het Mazda besluit om die boonste deel van die segment te takel met 'n reeks sjiek gestileerde voertuie wat meer as 'n luikrug op stelte beskryf kan word as die tradisionele vierkantige ontwerpe wat die mark oorheers.

Neem sy CX-30 en CX-60 as 'n voorbeeld. Waar die ou CX-5 en CX-7 nog konserwatief en tradisioneel in hul voorkoms en aanslag was, glip die nuwe CX-30 en CX-60 by die parkeerterrein in met 'n lae dak, 'n sportiewe houding en 'n jeugdige voorkoms.

Mazda se kompakte nuts, die CX-30, het nou 'n ekstra reeks toerusting bygekry wat die sjiek sportnuts op meer gelyke voet met die Hyundai Kona en die Volkswagen T-Roc laat meeding.
Mazda se kompakte nuts, die CX-30, het nou 'n ekstra reeks toerusting bygekry wat die sjiek sportnuts op meer gelyke voet met die Hyundai Kona en die Volkswagen T-Roc laat meeding.

Vir sy kompakte stadsnuts, die CX-30, het Mazda nou die lysie standaardtoerusting langer gemaak deur elke afwerkingsvlak nie meer bloot net die Active, Dynamic en Individual te noem nie. Daar kom nou 'n "Edition" agteraan by.

Maar net gou om die klein Mazda in perspektief te plaas binne ons plaaslike landskap: Die CX-30 ding met ander duurder, stylvolle nutse mee soos die Hyundai Kona, die Opel Mokka en die Volkswagen T-Roc.

Dis nutse gemik op ryker kopers wat nie in die vierkantige kassie wil inpas van gewone gesinsrygoed nie, maar eerder iets anders wil hê.

Al die CX-30-modelle word aangedryf deur 'n 2.0-liter-petrolenjin wat 121 kW en 213 Nm wringkrag bied. Krag gaan na die voorwiele met 'n sesgang- outomatiese ratkas.

Die CX-30's se kajuite is ook opgeknap met elke weergawe wat nou die groep se nuwe raakskerm het as basis vir jou nutsfunksies. Die stelsel koppel koordloos met jou slimfoon en kan Apple CarPlay en Android Auto bied. Daar is USB-sokke voor en agter, en die radio het agt luidsprekers regdeur die kajuit.

Al die modelle kry 'n klein raakskerm wat op ooghoogte sit. Slegs een enjin, 'n 2.0-liter-petrol, is in die reeks beskikbaar.
Al die modelle kry 'n klein raakskerm wat op ooghoogte sit. Slegs een enjin, 'n 2.0-liter-petrol, is in die reeks beskikbaar.

Wat kry jy als?

Die basiese Active-afwerkingsvlak bied 'n goeie lysie weelde-items soos voorruit-geprojekteerde inligting, 'n aansitknop, outomatiese hoofligte, elektroniese handrem, spoedbeheer en wegvoubare kantspieëls.

Die volgende model op die lys, die Dynamic, ry op groter 18-duim-sierwiele en het geriefsitems soos 'n trukamera met parkeergonsers agter, ratspane agter die stuurwiel, 'n herlaaivakkie vir jou slimfoon en LED-dagryligte.

Die topmodel is die Individual Edition en bied swart gekleur-de sierwiele en kantspieëls. Die bekleedsel is ook in 'n treffende­ toffie- en swart gekleurde panele getooi.

Ons hou van die topmodel, die Individual Edition, se mooi toffiekleurige afwerkings in die kajuit.
Ons hou van die topmodel, die Individual Edition, se mooi toffiekleurige afwerkings in die kajuit.

Die bestuurder se sitplek is in agt posisies verstelbaar en daar is sowel 'n blindekolgonser as 'n waarskuwing as daar verkeer vanuit die kante naderkom wanneer jy agteruit ry.

Die topmodel kry ook 'n radio met 12 luidsprekers. Veiligheidsitems sluit in 'n stabiliteitstelsel, ses lugsakke en 'n vashou-funksie as jy teen 'n bult moet wegtrek.

Mazda het ook sy spesiale model in die reeks wat met 'n rits donker aksente afgewerk is, die Carbon Edition, behou.

Die Carbon Edition sit prysgewys tussen die Dynamic en die Individual. Jy sal hom herken aan sy swart sierwiele en kantspieëls, die swart sitplekke en deurpanele - elk met hul rooi stikwerk - en die groot sondak en luikklap wat elektronies kan oop- en toewip.

Met pryse wat wissel tussen sowat R500 000 en R600 000 is die CX-30 glad nie goedkoop nie. Sy luikrug-voorkoms en goeie spesifikasielys maak hom egter 'n tweede kyk werd sou jy iets oorweeg wat minder "sportnuts!" skree by die volgende skolesportbyeenkoms.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM