Motors

Mini gee gróót sprong met Countryman

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die nuwe Mini Countryman het ’n treffende voorkoms, maar dis sy ka­juit en nuwe raakskerm wat werklik hom van ander sportnutse onder­skei.                             Foto: Marnus Hattingh
Die nuwe Mini Countryman het ’n treffende voorkoms, maar dis sy ka­juit en nuwe raakskerm wat werklik hom van ander sportnutse onder­skei. Foto: Marnus Hattingh

Vrolike LED-liggies wat soos 'n wolk op jou instrumentpaneel dans. 'n Mat op die voorpaneel.

En 'n papierdun, ronde raakskerm met die fynste digitale beelde wat jy met die vingerpunt kan rondgly en trek oor die skerm.

Jip, Mini se nuwe, derdegeslag-Countryman het 'n massiewe sprong gegee van sy wortels as 'n sportnuts-in-'n-Mini-se-lyf.

Toe ons verlede jaar met Olivier­ Heilmer in die Waterfront gesels het, het dié jong Duitse ontwerper 'n paar skimpe gegee van wat ons in die nuwe­ Countryman kan verwag. As hoofontwerper was dit sy planne om die kajuit een massiewe tree vorentoe te laat gee die toekoms in. En só die laaste petrolgedrewe Countryman met 'n triomfantlike galop die toekoms te laat indrawwe.

Maar kom ons begin eers met die naderstap. Jy sal die nuwe Countryman dadelik herken as sekerlik die Mini wat die minste na sy Britse voorsate van die 1960's lyk. Noudat hy op die UKL-platform gebou word, is hy langer as tevore, maar ook met platter "wange" met daardie flanke wat so vertikaal en glad vertoon. By die agterent is daar 'n vernouing, en reg van voor en agter sal jy die nuwe Mini-ontwerptaal sien waar 'n swart rand 'n kleiner, bakwerk-gekleurde plastiekpaneel in die binnekant omhels.

Met LED-hoof- en remligte en nuwe handvatsels (uit die BMW-stal) wat glad met die bakwerk inskakel, lyk die nuwe ontwerp gelyk treffend en amper konsepmotor-agtig.

Dis als daardie skerm

Heilmer het dit in die kajuit op 'n emfatiese wyse voortgesit. Die tradisionele sopbord-instrumente in die middel van die voorpaneel is behou. Maar dié keer is daar niks voor die bestuurder behalwe die stuurwiel nie. Die ronde raakskerm is dunner as jou skootrekenaar se skerm en die stelsel werk met BMW se jongste OS9-blikbrein, wat beweegbare ikone en verskeie bladsye waardeur jy kan blaai deur heen en weer met die vingerpunt te vee, insluit.

Hier en daar moet 'n mens eers elke bladsy se inhoud leer ken om vinnig na 'n funksie terug­ te keer, maar naderhand weet jy waar om na wat te soek.

Moderne motors het 'n magdom funksies in so 'n inligtingstelsel verpak, maar daar's net vyf of ses hoofbladsye, met elkeen wat 'n rits sub-bladsye bevat.

Tog is die uitleg en die ikone treffend. Dit lyk skoon en kleurryk, en bied 'n heel nuwe manier om rit-data uit te beeld.

Mini het doelbewus op dié roete besluit teenoor die tradi­sionele spoed- en toerenaald, byvoorbeeld, en boksie-verpakking van inligting omdat sy nuwe­ Countryman op vrouekopers gerig is. Dit breek dus doelbewus die norm om meer op jong vrouekopers se smake en voorkeure te fokus.

Die tweede nuwigheid is die stuk materiaalbekleedsel - amper soos 'n growwe mat - wat bo-op die instrumentpaneel geplaas is. Dis iets heeltemal nuuts in die motorlandskap en iets wat jy eintlik net in konsepmotors aangetref het.

Saam met die groot, vertikale deurhandvatsels en materiaalbekleedsel by die deurpanele vertoon die kajuit dadelik eiesoortig en modern.

Goeie nuus is wel dat Mini die ou pennetjies wat soos klavierklawers onder die radio altyd geplaas is en jy die vensters mee oopgemaak het, nou vir gewone vensterskakelaars by die deure verruil het.

Lig op die 'kap

In die nuwe Countryman-reeks is daar die gewone Cooper, die kragtiger Cooper S en later kom die John Cooper Works-model.

Ons toetsmotor was die Cooper­, wat met BMW se 1.5-liter-petrolturbo met drie silinders toegerus is. Die ander twee kry 'n 2.0-liter-turbo met wisselende kragvlakke.

In die Cooper het jy 115 kW en 230 Nm wringkrag onder die regtervoet, wat met 'n agtgang- outomatiese ratkas na die voorwiele gestuur word.

Op papier klink die krag nie juis na baie nie. Maar aangesien dié Countryman grootliks 'n stadsdrawwer sal wees tussen huis, kantoor en sportveld, is dit heel genoeg krag om oor die weg mee te kom.

Trouens, die voordeel van die klein driesilinder is dat hy baie suinig kan wees sou jy matig ry.

Mini maak aanspraak op 6,3 liter verbruik, maar ek het lag-lag 5,1 liter gehandhaaf.

Afsaal

Een ding moet jy egter onthou en dit is dat die Mini 'n Europees-gegronde produk is: Ontwerp vir Europa, in Europa.

Wanneer hy ingevoer is met ons swak rand, betaal jy teoreties veel meer as wat mev. Schmidt in München vir hom hoef op te dok.

Vir jou amper driekwartmiljoenrandse bloedsweet kry jy wel 'n fantastiese, moderne produk. Hy ry doodstil en op wind (wat sy verbruik betref), hy is ruim genoeg om 'n halwe hokkiespan in te pas en daardie afwerkings is ongeëwenaard in sy klas. Die nuwe Mini Countryman is een van ons gunstelingvoertuie vir die jaar en beslis 'n vroeëre voorloper vir volgende jaar se Motor van die Jaar.

  • Prys: Mini Countryman - R717 600

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM