Oor die jare het ek nie minder nie as sewe Land Rover Defenders besit - en dit is sonder om dié van my vrou, Carina, by te reken.

Tans ry ek 'n 2016-model 110 wat ek in 2018 gekoop het. Dis toevallig ook hierdie jaarmodel wat die einde beteken het van die kenmerkende Defender-vorm voordat die heel nuutste model verskyn het.

Die gogga het in 2000 gebyt nadat ek as 'n passasier in my vriend Ters Anderson se Defender saamgery het.
Dit was op 'n veldrybyeenkoms naby Lambertsbaai en ek was dadelik verlief op die 110 Tdi met sy besonderse vermoë en unieke voorkoms.
Dieselfde jaar koop ek 'n 1996 Defender 90 Tdi wat ek drie jaar later inruil op 'n 2000-model - ook 'n 90, maar met die TD5-enjin.

Ek het die Landie net drie weke gehad en besef hy gaan nie groot genoeg wees vir ons gesin vir 'n beplande Botswana-toer nie. Ek ruil hom toe in op 'n 110-model en daar's genoeg plek vir ons almal - ons en ons kinders, Shani en Anja.
Teen dié tyd was ek al goed gekonfyt met die Defender-eienaars se kenmerkende groet wanneer jy verby 'n ander Defender ry. Dis 'n wonderlike gebaar en 'n mens voel sommer deel van die Land Rover-gemeenskap.
Natuurlik hoor 'n mens ook al die gespot met Landies en jy word vertel 'n Land Cruiser is dié veldryvoertuig.
In 2006 doen ek iets waaroor ek agterna baie skuldig sou voel: Ek koop 'n nuwe Toyota Land Cruiser 4.5 GX. Dit was 'n goeie voertuig, maar ek het geweet ek is ontrou aan my eerste liefde.

Weg was die robuuste voorkoms en gevoel van 'n Defender. Elke keer as ek verby 'n Defender ry, wou ek groet, en dit het skoon soos verraad gevoel.
Ek byt drie jaar lank vas, en in 2009 koop ek my vierde Defender: 'n 2004-model 110 TD5. Dis ook die enigste een wat probleme sou gee.
Die vorige eienaar het 'n chip laat insit en ek vermoed dit kon 'n rede wees hoekom die enjin soms uit die bloute begin ruk het.
Hy moes gaan, en ná nog drie jaar koop ek 'n 2009-demonstrasiemodel. Dit was ook die 110, maar met die 2.4 Puma-enjin.
In 2014 besluit ek op 'n ander Land Rover en koop 'n Discovery XS uit die boks. Dit was eenvoudig net nie 'n Defender nie en ek skaf weer 'n 110-model aan.

Dié slag was dit die een met die 2.2-Puma-enjin en ek het hom gery tot my huidige Defender.
Hierdie Defender het net 18 000 km op die klok gehad en staan vandag net kort van 100 000 km.
Carina het haar tweede Defender 90 en sy sê as dit by keuses kom, mag ek enige voertuig koop mits dit 'n wit Defender is.
'n Defender is 'n puik sleepvoertuig, al is hy nie baie vinnig nie. Maar, soos hulle sê, dit gaan nie net oor die eindbestemming nie, maar ook oor die reis.

Oor die jare het ons op verskillende maniere gekamp - van daktente regdeur tot gewone tente wat jy op die grond opslaan.
Laasjaar moes ek toevallig vir iemand iets by die woonwahandelaar Cara-Camp in Somerset-Wes gaan oppik. En net hier kruis my paaie die eerste keer met 'n Bush Lapa Kewer.
Die Kewer het dadelik my hart gesteel en ek het hom 'n paar dae later gekoop. Die Kewer is kompak en sleep wonderlik; die afwerking en vakmanskap is uitstekend; hy's puik uitgelê; en slaan ook maklik op.

'n Mens is jammer die Defender van ouds word nie meer gebou nie.
Die nuwe weergawe is luuks en sekerlik 'n ordentlike ryding, maar die vermoë van 'n voertuig kom oor die jare en nie met 'n nuwe model nie.
In dié geval is die vorige Defender onverbeterlik.
Ek wens eintlik die nuwe Defender-model het 'n ander naam gehad, want hy sal nie een van die mees ikoniese voertuie nóg kan vervang nie.
Dit maak nie saak of my Defender 'n paar piepgeluide, olielekke of rattles het nie, hy's myne. Ware liefde vir ewig.
Hoe lyk jóú wiele?
Stuur 'n e-pos na rysleep@weg.co.za en vertel ons van jou ry- en sleepding.




















