Reis

Visuil gekiek by Mazhou: Leser se Mapungubwe-missie was ’n reuse-sukses!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ons was nog nie voorheen in Mapungubwe nie, maar toe ek hoor die baie skaars visuil hou in daardie omgewing, het ek en my man, Sarel, in Junie laasjaar besluit om ons kampgoed - en verkyker en kamera, natuurlik! - op ons Isuzu KB300-dubbelkajuitbakkie te laai en soontoe te gaan.

Ek moes net hierdie voël gaan soek.

Ek het rondgesoek vir kampplek en op Mazhou afgekom, en hoewel ons in die middel van die winter gekamp het, was dit eintlik kortbroekweer.

Sommer met ons aankoms het ons besef dis nie 'n gewone Sanparke-reservaat nie. Mapungubwe is in twee verdeel met 'n stuk private grond in die middel.

Om by Mazhou uit te kom gaan jy by die hoofhek in, aan die oostekant van Mapungubwe.

Nadat jy ingeteken het, ry jy weer al die pad terug en gaan by die westelike hek in om by Mazhou te kom.

Daar is wel 'n grondpad in die middel deur, maar ek is nie seker of 'n gewone kar met 'n padwa dit sal maak nie.

Vertel ons meer oor die kampterrein

Hier is tien staanplekke wat in 'n sirkel uitgelê is. Jy kan nie vooraf jou staanplek kies nie, en daarom word die mense wat eerste aankom, eerste gehelp.

Ons het onder 'n groot njalaboom nesgeskop. Toe ons hier was, was daar boswaens, abbawaens én tente in die kampterrein, maar geen padwaens nie.

Jy kamp op oop kolle in die bos, op harde grond - jy besef jy is in die natuur wanneer jy snags die leeus uit Botswana se kant hoor brul. Jy het krag (die gewone huissok), 'n lig en vullisdrom.

Ook 'n braai, hoewel ons s'n nie in 'n baie goeie toestand was nie. Bring maar jou eie een.

Hoe lyk die ablusiegeriewe?

Hier is een ablusieblok in die middel van die kampterrein met twee storte - een vir mans en die ander vir vroue, hoewel die wasbakke en toilette vir albei se gebruik is.

By die opwasplek langs die geriewe is 'n badkamer wat ingerig is vir mense in 'n rolstoel. 'n Mens kan sien die geriewe word goed onderhou.

Waarmee hou jy jou besig?

Wel, hier is nie dinge soos 'n swembad of speelparkie nie, maar ons was hier om diere en veral voëls te kyk... en ek is bly om te sê ek het die visuil gekry!

Dan het ek ook voëls soos die saalbekooievaar, Senegal-vleiloerie en tropiese waterfiskaal op my lysie afgetik. In Mapungubwe het ons heelwat wild gesien soos leeus, luiperds, olifante, kameelperde, sebras, koedoes, klipspringers en vlakvarke.

Hier is verkeie uitkykpunte en 4x4-ekoroetes - dus meer as genoeg om jou besig te hou.

Ek moet egter waarsku oor die ape in die kampterrein: As jy nie jou goed dig toehou nie, gaan jy skade ly.

Ons het skaars stilgehou en uitgeklim toe is hulle in ons kar en vort met 'n pakkie neute!

Is hier 'n winkel?

Hier is 'n winkel, maar met ons besoek was hy glad nie oop nie. Alldays is dan die naaste plek om dinge soos hout, ys en brandstof te soek - en dit is 'n goeie 40 km weg.

Mariska Kruger

CTA