Motors

Leser se langpadreis: Suzuki Ignis en selfgeboude wa wys hul staal!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Deon het sy Suzuki Jimny 'n ruk gelede verkoop en sleep nou sy selfgeboude klein woonwa met 'n stalmaat van die Jimny, die Ignis. Hy was op soek na 'n ekonomiese voertuig waarmee hy wettig kan sleep, maar wat nie 'n plaas se geld kos nie.

Die Bos­hoffs van St. Francisbaai hou nie terug met hulle nuwe sleepgoed nie: 'n selfboude woonwa en hulle heel nuutste Suzuki Ignis.
Die Bos­hoffs van St. Francisbaai hou nie terug met hulle nuwe sleepgoed nie: 'n selfboude woonwa en hulle heel nuutste Suzuki Ignis.

Hy sê hy was nogal skepties oor die Ignis se 1,2 l-enjin en het gewonder of hy ewe bekwaam sou wees as die Jimny. 'n Naweekbesoek aan die Addo-olifantpark van St. Francisbaai af was egter genoeg om hom te oortuig die Ignis en die waentjie sou 'n langer reis kon oorleef. Selfs in die wind het die Ignis sy staal gewys - Deon meen hy het die Jimny oortref teen die bulte en by die vulstasie. Hy vertel:

Om die vakansiegangers aan St. Francisbaai oor die feestyd te vermy het ons verblyf elders gesoek ná Kersfees. Ons het vyf nagte by die Gecko Creek-lodge in die Sederberg bespreek, maar voor dit wou ons by ons seun Luke in Kaapstad oorbly vir twee nagte.

Eers het ons van St. Francisbaai af vir 'n nag 'n draai gemaak by The Station-kampplek op Calitzdorp. Ons beveel die kamp, safaritente en kamers ten sterkste aan. Hier is ook 'n kroeg en restaurant, en kinders van alle ouderdomme speel te heerlik op die ou pomptrem en sy kort spoor. Om laat in Desember die Kaapse verkeer te trotseer is g'n grap nie - des te meer nog as jou bestemming Harfield Village in Kaapstad is.

Die paaie hier is nie regtig breed genoeg om die spreekwoordelike ossewa om te draai nie. Ons kon darem heel maklik die wa onder 'n toesluitafdak teruggestoot kry. Ons het twee wonderlike dae geniet met gesinsetes en 'n staptog na Leeukop - teen 06:30, vóórdat hordes ander Kapenaars dieselfde wou doen.

Die reis na die Gecko Creek-lodge tussen Citrusdal en Clanwilliam is doodstil en die paaie is in 'n uitstekende toestand. Ander mense dink dalk nie so nie, maar ons vergelyk dit met die standaarde in die Oos-Kaap. Omtrent 23 km anderkant Citrusdal draai ons af in die rigting van die Sederberg en Algeria. Die pad is vir 4,2 km erg sinkplaat tot by die Gecko Creek-afdraai, en dan is dit nog 3,5 km tot by die lodge.

Ek moes van beter geweet het, maar 'n voorwielaangedrewe voertuig met 'n klein enjin op los grond en steil bulte is nie 'n goeie plan nie. Om dan nog 'n wa op die haak te hê is byna stapelgek. Op een plek waar dit erg steil geraak het, het die wiele selfs 'n bietjie getol, maar ons leuse van ‘momentum en vastrap' het klaarblyklik gewerk.

Miskien was dit eerder 'n saak van gebed. Toe ons by die lodge aankom, help van die oord se mense ons om die beste staanplek te kry. Die sanderige pad tot daar is egter te veel en ons val vas. 'n Jong Brasiliaanse gas wat ook hier oorbly, kom darem tot ons redding. Hy gryp die Ignis se twee voorste vloermatjies en gooi dit onder die wiele in.

Dit werk, en hoewel my ego effens gekrenk is, herwin ek gou weer 'n bietjie trots toe 'n volgende voertuig ook vasval. Dit was vyf wonderlike nagte. Die dagtemperature het tot in die dertig geklim, maar ons kon darem van die plaaslike staproetes pak. Ons het ook na Sanddrift gery om die Wolfberg Cracks-roete te stap.

Wolfberg Cracks
Wolfberg Cracks

Ek is nog onseker oor die moeilikheidsgraad: Dit wissel van ‘jy sal geen probleem hê nie' tot ‘moet dit nie doen nie', maar die ou knieë het gehou en dit was goed om die skouspelagtige rotsformasies te sien. Gecko Creek het 'n rustige, informele atmosfeer wat ons pas. Ek was die meeste van die dae kaalvoet, want ek het een van my plakkies in die Kaap vergeet, en natuurlik het ons ook ons seekoeinabootsings in die swembad gedoen.

Ek het plek vir my hangmat gekry en het nie net twee boeke klaar gelees nie, maar ook middagslapies ernstig opgeneem. Die geriewe is eenvoudig dog stylvol en hier is voorsiening gemaak vir alles - jy hoef net jou kos en drinkgoed saam te bring. Gelukkig was bedtyd vroeg en die kampplek doodstil, selfs op Nuwejaarsaand.

Die meeste besoekers was buitelanders, hoofsaaklik van Nederland en Duitsland, maar baie vriendelik en gretig om meer van Suid-Afrika te weet.

Ons volgende bestemming is die Kagga Kamma-natuurreservaat, ongeveer 65 km van Gecko Creek af soos die kraai vlieg. Hier sou ons een nag in die Cave-wonings oorbly. My skoonsuster uit Amerika, Jean Lee, en haar kind, Samantha, sluit by ons aan.

My eerste bekommernis is of ons oor die eerste hindernis gaan kom met ons sleepkombinasie: die Middelbergpas op die R303 van Citrusdal af. Dis geteer tot op 'n kritieke plek aan die bopunt waar twee haarnaalddraaie wag - albei met los gruis.

Soos die geluk dit wil hê, kom ons net twee voertuie teë, maar albei in 'n haarnaalddraai. As ons hier moes stilhou, sou iemand ons oor die bult moes uitsleep, maar die voertuie van voor af het darem ver genoeg stilgehou sodat ek weer kon staatmaak op my ‘momentum en vastrap'.

Die volgende uitdaging van Op-die-Berg af is die 38 km grondpad tot by Kagga Kamma en die lastige Katbakkiespas. Ons durf dit aan teen 'n slakkepas om enige skade aan die Ignis of wa te voorkom - 'n rit wat uiteindelik twee uur neem. Op een kol is die pad só steil dat ek net die blou hemel oor die enjinkap kon sien. Ná die pynlik stadige rit oor die sinkplaatpad is dit heerlik om op 'n quadfiets te spring en te ry asof ek aan die Dakar-tydren deelneem.

Ons het 'n paar bontebokke, springbokke en sebras gesien, maar nie veel meer nie. Ons ‘wildervaring' was 'n muis wat aan die gratis beskuitjie op my kussing kom knibbel het. Ek het hom tot in die badkamer verjaag en die deur toegetrek sodat hy my nie in die nag sou pla nie.

Die volgende oggend was daar geen teken van die muis nie en ek het aangeneem hy het onderdeur die deur ontsnap... tot ek die toiletsitplek oplig en ek 'n greep uit die fliek Flushed voor my geestesoog sien afspeel. Hoe die outjie tot bo-op kon kom én nog onder die deksel deur kruip, weet nugter.

Ná ontbyt vertrek ons met die plan om iewers oor te staan. Soos ons kampeerders huiswaarts sien keer met woonwaens, neem ek verkeerdelik aan die kampplekke is terug na ‘normaal' en dis nie nodig om plek te bespreek nie. Maar ek was verkeerd. Ons is darem gelukkig om die laaste nag in ons wa te slaap... op die grasperk voor my seun Daniel se huis in Keurboomsrivier. (Daniel is Luke se tweelingbroer.)

Ons maak vol op Stormsrivier by dieselfde plek waar ons ingetrek het toe ons die reis begin het. Volgens my sommetjies was die Ignis se brandstofverbruik 6,06 l/100 km. Ons het besef die Jimny was ewe ongemaklik op slegte paaie, maar dubbel so dors. Ek sal sy veldryvermoë mis, maar sal darem steeds die Weskus, Richtersveld en Kgalagadi kan besoek. Hoe het die Ignis en die klein wa gevaar? Albei kry 10 uit 10.

Die Ignis se besoekersboek het al vele inskrywings.
Die Ignis se besoekersboek het al vele inskrywings.

Die Ignis het sonder sukkel gedraf en ons nie een keer in die steek gelaat nie. Daar was geen skade of skrape of pap bande nie, en die verbruik was teen 100-110 km/h op teer. Die wa het gedwee saamgedraf, selfs in sterk winde, 'n paar knikke in die teerpad, die sinkplaatpad en stof.

Daar was dus geen probleme nie, maar ons het dit rustig gevat. Die enigste ‘skade' was 'n deurskarnier in die wa wat van al die geskud gebuig het, maar dit was steeds stofdig.

Sal ons dit weer doen met hierdie sleepkombinasie? Nie regtig nie. Sal ons dit aan ander aanbeveel? Waarskynlik nie. Was hulle in staat om dit te doen? 'n Besliste ja! Ons het die piepklein kombinasie tot die uiterste beproef, en albei het my verwagtinge oortref.

Nou dat ons weet hulle is in staat daartoe, hou daardie berugte en stamperige paaie ons nie terug nie. Kgalagadi, hier kom ons!

Deon Boshoff

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM