Motors

’n Elektriese Hummer? Watwou!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Front 3/4 shot of the GMC HUMMER EV EarthCruiser Upfit by EarthCruiser.
Front 3/4 shot of the GMC HUMMER EV EarthCruiser Upfit by EarthCruiser.

Jare gelede het die Hummer H-reeks van GMC, 'n afdeling van General Motors, legendariese swak brandstofverbruik gehad - die H1 kon skaars 4km/liter haal (dit is 25 liter/100km!) en dít slegs as jy teerpad ry.

Amerikaanse omgewingsbewustes was so erg omgekrap oor die onekonomiese ryding dat hulle Hummers letterlik aan die brand gesteek het - later moes selfs die FBI ingryp.

In 'n verrassende wending sou General Motors 20 jaar later met 'n elektriese Hummer vorendag kom, maar in tipiese Hummer-styl is dit een van die ondoeltreffendste elektriese rygoed ter wêreld. Die GMC Hummer EV3x, soos hy bekend staan, kan skaars 470km haal. En dit is nie omdat sy battery klein is nie; die Hummer EV het 'n enorme 24 module-246kWh-battery (net 212kW is wel bruikbaar) wat bydra tot die Hummer EV se gewig van 4,5t!

Dit neem boonop meer as 2 uur om die battery van 10% tot op 90% te kry - selfs met 'n snellaaier - en aansienlik langer om hom 100% vol te laai. Jy sou dalk raai dat 'n elektriese Hummer dus nie geskik is vir 'n oorlandreis nie, maar General Motors wil met jou verskil...

Dit is hier waar die Amerikaanse oorlandombouer EarthCruiser op die toneel verskyn. EarthCruiser is in 2008 in Brisbane, Australië, deur Lance Gillies en sy Amerikaanse vrou, Michelle Boltz, gestig. Die maatskappy het vyf jaar later na Amerika verhuis waar Earth­Cruiser hom van ander ombouers wou onderskei deur luukse (en duur) 4x4-ryhuise te ver­vaardig.

EarthCruiser se goedkoopste ryhuis teen 'n "skame­le" $350000 (R6,5miljoen) was die Terra­nova - 'n omgeboude Ford F250 of Ram 3500. Ander EarthCruisers het by die $600000 (R11miljoen) gedraai.

Nou het die vervaardiger van een van die wêreld se ondoeltreffendste elektriese voertuie en een van die duurste oorland-ombouers besluit om saam te werk. Wat kan tog verkeerd loop?

Die skepping wat jy hier sien, is die GMC Hummer EV EarthCruiser Upfit, en op die oog af lyk hy glad nie sleg nie.

'n Treffende ryding is hy beslis. Onder die opwipdak is 'n dubbelbed, klein stort en kombuis met sitplek vir twee. Die kombuis het 'n wasbak, induksiestoof, koskaste en 'n ys-vrieskas.

In die onderstel is 'n vars­watertenk asook 'n gryswatertenk, en op die dak 'n 605W-sonkragstelsel wat 'n ekstra 6kWh-battery laai. EarthCruiser sê nie wat dié ryding weeg nie, maar wel dat hy genoeg water en proviand kan dra sodat jy minstens 'n week lank in die bos kan vertoef.

Met 'n gewig van 4,5t vóór EarthCruiser se ombouing en die vaartbelyning van 'n baksteen glo ons nie dié Hummer sou naastenby by 'n reikafstand van 470km kon uitkom nie.

Die GMC Hummer EV EarthCruiser Upfit is in Augustus 2023 bekend gestel en klante sou hulle 4x4-ryhuise iewers in 2024 ontvang. Ná 'n aansienlike belegging in hulle jongste produk moes die maatskappy egter sy deure op 25 April 2024 sluit.

'n Boodskap op hulle webblad het soos volg gelui: "Ons reis oor die afgelope jare was buitengewoon. Ons is ongelooflik dankbaar teenoor ons lojale klante, toegewyde werknemers en bedryfsvennote vir hulle ondersteuning en vertroue in ons handelsmerk.

"Hoewel hierdie besluit die einde van 'n era aandui, is ons trots op ons nalatenskap en impak op die wêreld van reis, motorinnovasie en oorlandreise. Ons hoop ons voertuie, ons klante en hulle stories sal voortgaan om die avontuurlustige gees in ons almal te inspireer." Die webblad is intussen gesluit.

Net een GMC Hummer EV EarthCruiser Upfit is gebou en hy is aan 'n onbekende Amerikaanse avonturier verkoop. EarthCruiser se verduideliking waarom hy gesluit het, was glo die "ekonomiese klimaat".

Die maatskappy sê ook sy patente is te koop, indien enig­iemand dalk belang stel...

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM