Cyril optimisties oor elektriese voertuie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Enviro Auto, invoerder van Chinese elektriese voertuie, bemark ’n elektriese vierwielaangedrewe dubbelkajuitbakkie, die Geely Riddara. ’n Brosjure oor die voertuig noem nie enige pryse nie. Dit meld wel dat die been- en kopruimte in die kajuit vergel
Enviro Auto, invoerder van Chinese elektriese voertuie, bemark ’n elektriese vierwielaangedrewe dubbelkajuitbakkie, die Geely Riddara. ’n Brosjure oor die voertuig noem nie enige pryse nie. Dit meld wel dat die been- en kopruimte in die kajuit vergel

Suid-Afrika moenie agter raak in die vervaardiging van voertuie vir die toekoms nie, het pres. Cyril Ramaphosa verlede week by die BMW-fabriek in Rosslyn buite Pretoria gesê.

Die regering wil die vervaardiging van elektriese voertuie vir uitvoer aanspoor, en terselfdertyd die groei van die plaaslike mark vir elektriese voertuie ondersteun, het Ramaphosa gesê.

Volgens hom werk die regering aan geteikende aansporings om komponente vir batterye plaaslik te vervaardig, asook ander komponente en onderdele vir die bou van elektriese voertuie.

Kernsentrum

Ramaphosa glo Suid-Afrika kan 'n kernsentrum word vir die verwerking en waardetoevoeging van kritieke minerale wat nodig is vir die vervaardiging van die spesifieke komponente.

Hy het aan BMW se plaaslike bestuursraad gesê die toekoms vir elektriese voertuie in die land is blink.

Die regering het hom via die motorvervaardiging-ontwikkelingsprogram asook die witskrif oor elektriese voertuie daartoe verbind om 'n stabiele, voorspelbare en ondersteunende raamwerk te vestig vir motormaatskappye wat in Suid-Afrika wil investeer in die bou van elektriese voertuie.

Hy het BMW lof toegeswaai, wat tydens een van die vorige presidensiële beleggingskonferensies beloof het om meer as R4,2 miljard in die uitbreiding van sy aanleg te investeer.

"Baie mense het dit afgemaak as net beloftes. Sommige het selfs gesê dis vals of leë beloftes, Maar hier sien ons nou die volle verwerkliking van daardie aankondiging."

Plaaslike verbruikers moet nog byt

Ramaphosa se eie beloftes oor groter steun vir plaaslike vervaardiging van elektriese voertuie kom egter te midde van 'n plaaslike mark wat nog traag byt aan elektriese voertuie.

Hoewel Chinese vervaardigers toenemend al hoe goedkoper elektriese modelle vir die plaaslike mark beloof, is die elektriese modelle van gevestigde vervaardigers of Europese motorhandelsname steeds ver bo die vuurmaakplek van die deursnee-motorkoper.

Internasionaal word verwag dat die verkope van elektriese voertuie vanjaar byna 22 miljoen eenhede kan haal, wat 25% meer sal wees as in 2024, het Bloomberg New Energy Finance vroeër die maand berig.

LEES OOK |Ligpunt uit die Trump-tarief-donkerte: BMW SA lewer nou aan Kanada

Byna tweederdes van die totale verkope is in China, gevolg deur Europa met 17% en Amerika met 7%. Verkope in opkomende markte groei volgens Bloomberg vinnig danksy Chinese uitvoer.

Cars.co.za berig suiwer battery-elektriese voertuie se verkope in Suid-Afrika het in die eerste kwartaal vanjaar met 16,4% gedaal. Die totale mark vir nuwe-energievoertuie, wat hibriede-voertuie en inprop-hibridiese voertuie insluit, het wel in die kwartaal met 14% gegroei.

Die syfers vir die elektriesevoertuigverkope sluit egter die verkope van die Chinese handelsnaam BYD uit, want hy rapporteer nog nie sy verkope aan die bedryfsliggaam Naamsa nie.

Die goedkoopste suiwer elektriese voertuie tans te koop in die land is onder meer die Dayun S5 mini-nutsvoertuig van China, waarvan die intreemodel sowat R400 000 kos, volgens Recharged.co.za.

Duurder modelle soos die Jaguar I-Pace en die BMW iX is almal meer as R1,5 miljoen.

- francois.williams@24.com en heinz.schenk@24.com

Francois Williams en Heinz Schenk

SPELETJIES VANDAG

CTA