Raakvat Ranger
2015 Ford Ranger 3.2 TDCI 4X4
Jy sal in geen opsig tekort skiet as jy vir jou 'n vyfsilinder-Ranger aanskaf nie, sê AJ Liebenberg van Durbanville.
"My 2008-model Toyota Hilux (die vorige geslag) was 'n wonderlike voertuig, maar hy is mettertyd deur sy mededingers verbygesteek wat betref tegnologie en voorkoms en gevoel in die stuurkajuit.
Toe dit tyd was om op te gradeer het ek 'n Dakar Edition Hilux oorweeg, maar die Ranger het uiteindelik té hard met my gepraat. Ek het die topmodel in dié reeks in 2015 nuut gekoop vir amper R500 000 en hom The Beast gedoop. Sedertdien kyk ek net vorentoe.
Ek was veral op soek na 'n ryding met skaflike 4x4-vermoë en uitstaande betroubaarheid, en in die twee jaar dat ek nou al met hom ry, het hy my nog nie een keer in die steek gelaat nie.

Ek het niks om oor te kla nie en dit is nog elke keer vir my lekker om agter die stuurwiel in te klim. Hy is baie sterk en gemaklik, veral nadat ek sy enjinbeheereenheid laat verstel het. Ek het ook die vering met 'n Ironman 4x4-stel gelig en vir hom nuwe tekkies aangetrek.
Die enigste ding wat my pla, is dat die standaardvoorbuffer nie regtig vir veldry gebou is nie, en as ek nou 'n ekstra R10 000 kon afknyp, sou ek onmiddellik iets omtrent die saak doen.
Die brandstofverbruik is enigiets van 9,5-11 ℓ/100 km. Ek geniet dit om die Weskus te besoek en ry dan al langs die strand af met my Ranger. Ek mik ook gereeld vir die ou Voortrekkerpas, waar die uitdagende grondpaaie 'n mens na plekke met uitstekende uitsigte neem."
Kragaap
2015 Nissan Pathfinder 2.5 DCI

Al wat hy regtig nodig gehad het, was iets wat sterk genoeg is om gemaklik te sleep. Dit wil voorkom of Braam Venter van Kempton Park daardie sleepvoertuig opgespoor het.
"Ek haak my 2014-model Sprite Tourer SW aan my Pathfinder sedert ek die Nissan in 2015 nuut gekoop het vir R680 000. Ek sleep met 'n Bosal-sleepstang. Ek sal nie omgee vir die nuwe Patrol nie, maar hy is in dié stadium 'n bietjie buite my bereik.
Ek hou van die Pathfinder, want hy is toegerus met al die luukshede waarvoor 'n mens kan vra en hy gedra hom heel gaaf op grondpad.
Ongelukkig is hy nogal dors en ek kry maar 12 ℓ/100 km sonder die wa op die haak. Die goeie ding is dit styg maar tot 13 ℓ/100 km wanneer ek sleep. Ek sleep gemiddeld teen 110 km/h en dan sukkel die Pathfinder nie eens 'n bietjie nie.
Die beste bestemming wat ek al met dié sleepkombinasie besoek het, is beslis die Almega-woonwapark naby Hammanskraal. Die staanplekke is groot, die gras groen, die ablusiegeriewe privaat, en die eienaars lewer puik diens. Ons geniet dit om op dié plek uit te span."
Soetlief en die ondier
2012 Toyota FJ Cruiser
Daar is baie nuwer woonwaens op die pad, maar Louis Pretorius van Langebaan sê hy wil niks anders as sy geliefde ou Jurgens 540 sleep nie.

"Jy gaan ver moet soek na iemand wat nié 'n Mercedes-Benz G-klas as 'n sportnutsvoertuig wil hê nie. Ek wou… en wil nog steeds. Trouens, ek het 'n G350d oorweeg, maar teen R1,6 miljoen gaan my droomkar nét daar bly: in my drome.
Die Toyota FJ Cruiser is 'n gawe plaasvervanger en ek het myne in 2012 nuut gekoop vir R456 000. Hy is meer as opgewasse met my 1974-model Jurgens 540 aan die haak, en met die krag wat sy 4 ℓ-V6-enjin uitskop, skrik hy nie vir sleep nie.
Die enigste ding waarna ek regtig op soek was, was onverdunde krag - en in daardie opsig stel die FJ nie teleur nie. Sy 200 kW-enjin is net so betroubaar soos enige ander Toyota, maar jy betaal vir daardie perde by die vulstasie.
The FJ verbruik in die omgewing van 18 ℓ/100 km as ek sonder die wa ry, en dié syfer skiet dan op tot 25 ℓ/100 km wanneer ek sleep. Ek sleep gemiddeld teen 120 km/h en dan is dit steeds kinderspeletjies vir die FJ.
Die Dibiki-vakansieoord by Mosselbaai is een van ons gunstelingbestemmings. Dis skoon, netjies en veilig en 'n mens kamp ordentlik daar."
Hierdie artikel het oorspronklik in Februarie 2018 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.




















