Knormoer sien onlangs weer ’n opskrif wat sy oë laat rek het: “Verkope van nuwe-energie-voertuie verdubbel in Januarie”.
Nou, hierdie gedroggie genaamd nuwe-energie-voertuie (NEV’s) is bloot ’n sambreelnaam vir enige motor wat ’n mate van elektrifisering in sy aandryfstelsel het. Dit behels die hele spektrum van batterymotors tot inprop-hibriede, matige hibriede en ligte hibriede.
Die twee ente van hierdie spektrum is egter verder uitmekaar as die lewe in ’n Pretoriase sekuriteitsoord en ’n township.
Waar ’n batterymotor (EV) net ’n battery het vir aandrywing (’n massiewe litium-ioon-batterypak), benut ’n ligte hibried bloot ’n groot motorbattery van 48V om die waterpomp en lugversorger aan die gang te hou. Geen aandrywing dus nie.
Om dus hoofopskrifte te maak van NEV-verkope wat verdubbel het, is om dié verskille heeltemal uit die oog te verloor. Die meeste van ons NEV-verkope is te danke aan die gewilde Toyota Corolla Cross, wat ’n matige hibried is. Hy’t ’n klein litium-battery wat net help met die wegtrek.
Om die Cross as ’n elektriese voertuig te sien, is soos om te sê jou man is vegetaries want hy eet slaai saam met sy steak.
- Ons almal hou van ’n lekker storie – en lekker opskrifte. Maar as dit sonder kennis geskied, lyk ons soos hoenders.
Nuwe minister vee skoon
Knormoer sit verlede week aan tafel met die hoof van een van Suid-Afrika se grootste motorvervaardigers oorkant hom.
Die gesprek gaan oor die nasionale begroting, die dreigende opskorting van die Agoa-handelsooreenkoms met Amerika, en hoe die owerheid die vervaardigers kan bystaan.
Sê die grootbaas reguit, onder die vorige minister van handel en nywerheid (Ebrahim Patel) was dit eenrigting-verkeer in ontmoetings. Hy’t gepraat, en die vervaardigers moes luister.
- Onder die nuwe minister (Parks Tau) is sake anders. Hy bring sy DG’s saam, en vra vir insette van die vervaardigers. Dis insiggewend.














